Leer kinders groepsdruk hanteer

570
Leer jou kinders groepsdruk hanteer

As jou kind voel dat sy êrens behoort, sal die groep nie sommer ’n negatiewe effek hê nie. Maak seker dat sy tuis gekoester voel.

Watter ma sou nie graag haar kroos onder haar vlerk wou hou nie? Ongelukkig moet hulle noodgedwonge die wye wêreld in.

Die beste ding wat jy kan doen, is om hom of haar vroeg-vroeg te leer om hulle man (of vrou) te kan staan.

Kenners sal saamstem dat kinders tussen 9 en 19 daarna smag om te behoort. As dit nie in hulle eie huise gebeur nie, word aanvaarding op ander plekke gesoek. Dit maak nie saak watter soort druk uitgeoefen word nie, hulle kán sterk genoeg wees met die regte aansporing en selfkennis.

Beklemtoon elke kind se eie, unieke identiteit

Dit is belangrik om van kleins af ’n sterk identiteit te ontwikkel. Een manier is om elkeen, veral terwyl hulle klein is, ’n plakkaat oor hom- of haarself te laat maak: “Ek is …; ek hou van …; ek voel hartseer as …; ek is opgewonde as …”

Hang die plakkaat op ’n prominente plek in hulle kamer of elders in die huis op. Dit sal hulle elke dag herinner aan wie hulle regtig is.

Wanneer jou tienerseun in ’n situasie beland waar maats rook, is dit maklik om te sê: “Nee, ek is nie ’n roker nie.” In hierdie situasie sal hy presies weet wat hy nié is nie, want dit staan nie op sy plakkaat nie!

Maak seker dat elke kind weet dat hy of sy tél. Dit kan maklik gebeur dat die stil outjie wat met min aandag tevrede is, “wegraak”.

Gee daarom vir elke lid van die gesin ’n kans om gehoor te word. Al verskil hulle persoonlikhede en opinies‚ moet elkeen ’n beurt kry om sy of haar sê te sê.

Huisvergaderings om die etenstafel kan baie waardevol wees. Boeties en sussies leer op ’n ontspanne, informele manier om na mekaar te luister en self ook ’n bydrae te lewer.

Dis nooit te laat vir omdraai nie

Kinders is nie engeltjies nie, maar mense met foute wat nog baie moet leer. Dis egter belangrik dat hulle moet weet dat dit nooit te laat is om te verander nie.

Maak seker hulle weet dat ’n mens nooit magteloos in ’n verkeerde situasie saamgesleur hoef te word nie. Daar is altyd ’n plan om te maak.

Met jou lewenservaring sal jy dalk ’n potensiële probleem kan raaksien en kan waarsku. Maar dis soms beter om hulle nie te belet om iewers heen te gaan, of saam met sekere vriende te kuier nie. Dit sal die aantrekkingskrag net groter maak.

’n Belangrike ding om te leer is dat dade gevolge het. Volgende keer sal hulle twee keer dink voordat hulle dwaashede aanvang.

Gun jou kinders die kans om foute te maak, maar ook om jammer te sê en reg te maak.

Wees ook betrokke by jou tiener se lewe

Baie ouers voel teen graad agt is kinders “op hulle eie”. En tog, die eerste jaar van hoërskool is een van die belangrikste.

Sorg dat jou kind by soveel moontlik aktiwiteite inskakel – en wees self ook betrokke, sonder om in te meng. Word “deel” van die groep deur almal so nou en dan met roomys of pizza te bederf.

Wanneer jy nie van seker maats hou nie, gesels rustig daaroor en lig sekere van die negatiewe aspekte subtiel uit. Laat haar egter self besluit dat dié klomp nie vir haar bedoel is nie.

’n Ouer se liefde, aanvaarding en onvoorwaardelike ondersteuning is onontbeerlik om ’n kind deur die storm-en-drangjare te help.