Leer om hom te verstaan

0
27
leer_om_mans_te_verstaan.jpg

Het jy al ooit daaraan gedink dat ’n verandering in jou optrede ook die potensiaal het om ’n drastiese verandering in jou maat s’n teweeg te bring? Partykeer moet jy hom net verstaan.

Die een ding wat elke mens wil hê is om verstaan te word. Veral deur die persoon wat die naaste aan jou is. As jou huweliksmaat jou nie verstaan nie, word die gaping tussen julle al hoe groter. Julle begin om mekaar te verwyt, baklei meer en op die ergste dryf dit een van julle na die arms van ’n skelmpie. Hoeveel mans of vroue het tog nie al die verskoning gebruik dat hulle huweliksmaat “hulle nie verstaan nie” om die ander een te verneuk.

Hoe goed jou maat jou verstaan, of andersom, maak of breek ’n verhouding. “Die grootste rede hoekom paartjies mekaar nie verstaan nie, is omdat hulle nie met mekaar oor hul behoeftes praat nie,” sê Joke Nicol, ’n huweliksberader. “As huweliksmaats weet wat die ander een wil hê, en mekaar tegemoetgaan, kan ’n vaal, vervelige verhoudig verander word na ’n fantastiese een.

Hy weet nie wat ek wil hê nie

Patricia is al ’n paar jaar getroud, maar haar prentjie lyk glad nie rooskleurig nie. “Ek het altyd geglo dat daar net een, “regte” persoon vir elke mens is. Ek het gedink my man is daardie persoon, maar besef nou dat hy nie my sielsgenoot is nie. Ons verstaan nie mekaar nie – hý verstaan nie wat ek in die verhouding benodig nie. Ek wil hê hy moet my help in die huis, my help om die kruideniersakkies te dra. Ek glo nie hy waardeer enigiets wat ek vir hom doen nie. Moet ons getroud bly, al is ons ongelukkig, of eerder skei sodat ons elkeen ware liefde kan vind?

“Daar is nie net een regte maat vir elke mens nie, daar is baie.

“Dit hang af waar jy in jou lewe is en waarna jy soek,” verduidelik Joke.

“Om te skei en te dink dat jy geluk saam met iemand anders sal vind, is nie werklik ’n oplossing nie.

Egskeiding veroorsaak altyd groot hartseer en is dikwels net ’n verplasing van die probleem. Baiemaal word dieselfde probleme net weer in die volgende huwelik herhaal, omdat jou gedragspatrone en spanning nog presies dieselfde is.”

Kry eerder professionele hulp. Leer om oor jul probleme te praat (of daaroor te skryf) en om waarlik na mekaar te luister.

[pagebreak]

Ken mekaar se behoeftes

Amanda is op 18 getroud en is vyf jaar later geskei. “Alhoewel my man goed was vir my, dink ek nie dat hy ooit waarlik lief was vir my nie. Hy het dit byvoorbeeld nooit gesê nie. Ek het ook nie geweet hoe hy dink of hoe ek teenoor hom kon ‘oopmaak’ nie. Vandag wens ek dat ek leiding van ’n ouer vrou, mentor en vertroueling gehad het. Daar is so baie wat ek nie geweet het nie, en so min ondersteuning daarbuite.”

Amanda beplan om binnekort weer te trou en voel hierdie keer baie meer volwasse en oopkop oor die liefde. “Ek weet nou eers wie ek is en wat ek van ’n verhouding verwag en besef dat niemand my gelukkig kan maak nie, dit hang van myself af. Nou weet ek ook dat liefde nie net ’n woordjie is nie, maar iets is wat tyd nodig het om te groei. Dit is ’n waagstuk en wat jý daarvan maak is belangrik.”

’n Verhouding gaan oor “ons”

Joke Nicol, ’n huweliksberader, noem dat verliefdheid eintlik ’n verlengstuk van jou eie behoeftes is. As jy dus nie die verhouding kans gee om eers deur die stadium van verliefdheid te gaan voordat julle trou nie, sal jy later heel waarskynlik met ontnugtering na die “vreemdeling” langs jou kyk. Ware liefde gaan oor ‘ons’, nie oor ‘ek’ nie – daarom is dit belangrik om mekaar goed te leer ken, maar ook te weet wie jý is en wat jy uit die lewe of verhouding wil hê.”

Sy noem ook dat verliefdheid nie ’n voorvereiste vir liefde is nie, maar dat daar wel ’n mate van chemistry behoort te wees. “Dit hoef nie oornag te gebeur nie, maar kan met tyd ontwikkel.”

Joke sê ook dat dit belangrik is om mekaar se agtergronde te ken en vooraf te weet wat jou maat van die huwelik verwag. “So baie mense trou met ’n onrealistiese, idealistiese prentjie in hul kop. Erger nog, hulle dink dat die probleme wat vooraf hinder, na die troue sommer vanself sal verdwyn. Die waarheid is dat dit juis vererger.” Sy raai paartjies aan om vooraf ’n huweliksberader te besoek om ’n objektiewe perspektief te kry. Sy stel ook voor dat paartjies hul verhouding of huwelik interessant kan hou deur deurentyd aktief daaraan te werk. “Máák tyd vir mekaar, doen lekker dinge saam en skep doelbewus romantiese happenings.”

[pagebreak]

Praat met hom

Na ’n huwelik van ses jaar – ook maar met krisisse en moeilikheid – glo Helena dat dit wat sy en haar man vandag het, ware liefde is.

“Ons behandel mekaar met deernis en respek, gaan slaap nooit kwaad nie en het waarlik waardering vir mekaar. Ek sal daarvan hou om te glo dat ons steeds so verlief is soos vroeër, maar hoewel hy nog steeds my hart vinniger laat klop, het die jare ons gemaklik met mekaar gemaak.

Wat sou ek sê is die geheim? Kommunikasie – om te praat as iets pla, maak nie saak hoe groot of hoe klein die probleem nie.

Kommunikasie bring diepte in ’n verhouding en gee jou ’n kykie na wat werklik in ’n ander se hart aangaan en help jou ook sy taal ontdek.