Leer om jouself lief te hê

Deesdae is baie van ons, onsuksesvol in hierdie area. Daar is baie faktore wat in die spel kom en goeie redenasies waarom ons nie meer onsself liefhet soos wat ons moet nie.

Wat beteken dit nou regtig om myself lief te gê?
Praat mense van “bubble baths”, ‘n manikuur of komkommer maskers?
Dit blyk dat daar soveel meer is aan self-liefde as om onsself te pamperlang.

Ek het gevind dat self-liefde nie ‘n bestemming is nie, dit is ‘n oefening. Self-liefde is die fondament waarop ons ‘n gelukkige lewe bou.

Ware self-liefde gaan nie oor enigiets wat jy kan koop nie. Daarom is dit vir almal beskikbaar.

Self-liefde begin van binne.
Dis iets waaraan ons daagliks moet werk. Vir iemand wat altyd met self-liefde sukkel, sal dit nie oornag gebeur nie. Wees lief vir wie jy is, foute en al, dit is moeilik, maar dit beteken nie dat jy nie waardig is nie, jy is, ons is almal.

Ons is geneig om toe te laat dat ander mense ons selfwaarde beheer. Ek is self skuldig daaraan en ek het besluit om my voet neer te sit.  Ek is wonderlik net soos wat ek is, en ek hoef nie vir ander mense te verander nie, die regte mense gaan van die ware ek hou.

‘n Gebrek aan self-liefde beteken ook ‘n gebrek aan motivering en selfvertroue. Ons grootste probleem in die samelewing is dat ons almal volgens die perfekte prentjie of persoon wil lewe. Vergelyking en negatiwiteit steel soveel van ons eie geluk.

Self vertoue, self respek en selfwaarde.
Daar is ‘n rede waarom hulle almal met “self” begin. Jy kan dit nie in iemand anders vind nie.

Hoeveel keer gaan staan jy voor die spieël en vertel jouself een ding waarvoor jy lief is van jouself? Daar sal ‘n paar wees wat nie ‘n antwoord daarop sal kan gee nie. Jy hoef nie alles van jouself lief te hê om self-liefde te ontwikkel nie. Al wat jy nodig het is aanvaarding en positiwiteit.

Aanvaar jouself net soos jy is. Skep gewoontes wat gesond is, nie net geestelik nie maar ook emosioneel. Prioritiseer jou drome en maak ‘n poging om dinge te doen wat jou inspireer in die lewe. Besluit om tyd te spandeer met mense wat jou ondersteun, aanmoedig en motiveer om die beste weergawe van jouself te wees.

Besit jou gedagtes en weier dat ander mense dit beïnvloed. Wanneer ons onsself uiteindelik liefhet en respekteer, is ons vry van twyfel en eindelose bekommernis. Ons vertrou ons gevoelens en besluite, en dit laat ons dapper en outentiek voel.

Ek het geleer om myself lief te hê. Dis nie die moeite werd om toe te laat dat ander mense se opinies jou vorm en afbreek nie. Alles begin van binne af. Ek het spasie gemaak vir gesonde gewoontes, ek het begin oefen, en dit my laat goed voel oor myself. Ek het uit my gemaksone geklim en nuwe dinge aangepak.

Wees avontuurlustig. Wees spontaan en dra daai rooi lipstiffie.

As jy ‘n rede soek om te verander, verander om ‘n beter jy vir God te wees.

En wees lief vir jouself!