Leer om soos ’n genie te dink

0
291
genie.jpg

Verander jou denkwyse in 3 stappe sodat jy ook geniaal kan dink! Dis baie makliker as wat jy verwag.

Ons stry nie, briljante mense se breine lyk dalk anders as die gewone, en nou ja, die IK-toetse se tellings is moontlik ook aansienlik hoër. Maar jou IK is nie noodwendig die ding wat jou ’n genie maak nie. Dis hoe jy daardie IK (hemelhoog, of effens laer) gebruik. Kreatiwiteitskenner Michael Michalko skryf dat genieë eerder gekenmerk word deur hoe hulle dink as hoe hoog hulle IK is. ’n Eenvoudige kopskuif kan jou ook ’n genie maak.

ʼn Goeie idee is nie noodwendig “nuut” nie

Jy hoef nie iets nuuts uit te dink om met ’n slim uitvindsel vorendag te kom nie. Alles wat moontlik kan bestaan, is lankal geskep – aan die begin van die wêreld. Deur die eeue heen het ons net alles wat reeds bestaan, op verskillende maniere gerangskik. Toe was daar lig of vuur of elektrisiteit of…En dít is presies hoe goeie idees tot vandag toe ontstaan: met meng en pas. Of konsepvermenging, soos die wetenskaplikes dit noem. Met ander woorde, twee konsepte word gemeng om een briljante idee te skep – op presies dieselfde manier waarop jy die klere in jou kas meng en pas om ’n nuwe, verruklike uitrusting te skep.

Dink byvoorbeeld aan ’n tablet of slimfoon: Dis ’n selfoon en rekenaar wat saamgevoeg is. Dieselfde geld vir ’n radiohorlosie wat jy as wekker gebruik: Dis ’n radio en horlosie gemeng. Dit klink dalk vir jou na ’n oorvereenvoudiging, maar dit is presies hoe wonderlike idees gebore word. Agterna kan jy nie glo dat niemand voorheen daaraan gedink het nie. Een van die bekendste mense wat hierdie tegniek toegepas het, is Bill Gates. Destyds was ’n rekenaar so groot soos ’n kamer en almal het gedink dat slegs wetenskaplikes dit kan gebruik. Gates het dit met ’n tipiese lessenaar-opset gekombineer – in- en uit- vakkies, liassering ensovoorts – en so is persoonlike rekenaars gebore.

Dink aan alles wat moontlik én onmoontlik is

Michael skryf dat genieë nie noodwendig op briljante idees “afkom” nie. Hulle dink oor die algemeen baie meer idees uit om ’n enkele doelwit te bereik of een probleem op te los. Thomas Edison is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hy het ongeveer 3 000 idees vir elektriese beligting gehad voordat hy begin het om te bepaal watter een die beste gaan werk.

Michael beveel aan dat jy aan uitspattig baie idees moet dink – sommer 150 as jy kan. Dink aan elke moontlike en onmoontlike oplossing vir die probleem, hoe vergesog dit ook al mag wees. Skryf dit neer, want “hoe meer idees jy neerskryf, hoe meer sal dit weer ander idees by jou wek,” sê hy. Die idees op die eerste derde van jou lys is gewoonlik dié wat jy maar kan ignoreer. Dis die laaste derde van jou lys wat belangrik is, want daar begin jou verbeelding regtig eers werk.

Toets elke idee wat jy het met SCAMPER

Michael noem sy tegniek om idees mee te toets, SCAMPER (Substitute, Combine, Adapt, Modify, Put to some other use, Eliminate, Rearrange). Jy moet dus na elke idee op jou lys kyk en besluit of jy iets daarin moet vervang, dit dalk met ’n ander idee moet kombineer, moet aanpas, nuut maak, vir iets anders moet gebruik, moet uitgooi of anders moet benader. Dis baie soos om ’n boek te skryf: Sommige stukke pas eerder elders of plek-plek moet ’n ander storielyn geskryf word om beter in te pas. SCAMPER keer dat jy ’n idee wat dalk briljant kan wees, sommer net ignoreer. Hierdie proses help jou om jou perspektief oor enige idee te verander.

Die groot verskil tussen hoe gewone mense dink en hoe genieë dink, is dat genieë aktief idees in alles om hulle soek. Hulle soek ook baie wyd – niks is ’n no go nie. As jy dit kan regkry, word jy dalk die volgende Einstein.

Vertaal en verwerk uit Learn to think like a genius deur Michael Michalko.

Maak ’n kopskuif by jou werk. Hier is die 6 foute wat jy maak.