Leer wanneer om jou mond te hou!

0
61
hou_jou_mond.jpg

“Ek gaan gym drie keer ’n week, maar ek kan sommer sien jy kom nie gereeld daaruit nie” Dink twee keer voor jy raad gee of vrae vra wat kon gebly het.

“Ek gaan gym drie keer ’n week, maar ek kan sommer sien jy kom nie gereeld daaruit nie” Dink twee keer voor jy raad gee of vrae vra wat kon gebly het.

Vriendskap beteken nie jy kan sê wat jy wil nie

Partymaal voel jy jy weet beter en probeer help met raad of idees. Dit kan maklik verkeerd loop, veral as dit ongevraagd is.

“Hou jou opinie liewer vir jouself. Net omdat jy al ’n troue gereël het, ’n ma is en nog ’n man het, beteken nie jy kan links en regs raad uitdeel nie,” sê Bernice Crichton, ’n leefstylafrigter en direkteur van die Image Excellence Company. “Jy het nie ’n kwalifikasie in sielkunde, sosiologie of lewensafrigting nie, so, jy het nie genoeg kennis en ervaring om jou opinie te gee nie.

“Wanneer jy as vriendin die behoefte het om iets te sê, plaas jouself in haar skoene en dink hoe jy sou voel as jy dieselfde raad (van haar) sou kry. Vroue is maar sensitief, so, enige kommentaar (al word dit goed bedoel) kan baie maklik negatief opgeneem word. Onthou dit voor jy weer jou mond oopmaak om raad te gee, al dink jy jou raad is belangrik.” 

Wat om nie te sê nie vir …

… ’n nuwe ma

•  Moenie bekommerd wees nie, jy sal die gewig verloor. Jy maak haar net moedeloos. Elke vrou se lyf sal na geboorte op haar eie manier aanpas. Haar lyf is al vir nege maande nie meer soos wat sy dit ken nie en die swangerskapvet gaan nie so vinnig soos jou somer-tan verdwyn nie. Sê liewer vir haar watter oulike ma sy is.

•  Dis oukei, my seun het eers op twee jaar begin deurslaap. Haar baba is maar pas gebore. Hy gaan beslis nie nou al deurslaap nie! ’n Nuwe ma is baie sensitief en het baie emosies wat sy moet verwerk. As jy nie iets positiefs het om te sê nie, moet liewer niks sê nie. Sy is reeds moeg en gespanne genoeg!

•  Foei tog, lyk sy (die baba) soos haar pa? So wat jy nou eintlik sê is: Jy kan nie sien soos wie die baba lyk nie. Onthou, babalief is die trotsste oomblik van haar lewe. As jy nie kan sien soos wie die baba lyk nie, sê eerder net watter mooi baba dit is.

•  My nageboortedepressie het eers na drie maande ingeskop. Die idee aan nage-boortedepressie is al angswekkend genoeg vir haar. Vermy liewer die onderwerp, en gesels oor positiewe dinge wat haar as ’n nuwe ma sal moed inpraat.

… ’n pasgetroude paartjie

•  Weet jy dat een uit vier paartjies in die skeihof eindig? Jy bars hulle borrel van opwinding. Net omdat die lewe jou stief behandel het, hoef jou gelukwensing nie sinies te wees nie. Hulle is hoopvol en glo dit gaan nie met hulle gebeur nie. Die troue en die vreugde van die wittebrood is nog vars in hulle geheue – jy breek net hulle moed met sulke negatiewe opmerkings!

•  Hoe was die wittebrood? Dit is privaat. Los haar totdat sy self vir jou vertel hoe dit was.

•  Wanneer gaan julle begin met kinders? Wat het dit met jou te doen?

… iemand wat gewig aangesit het

•  Jy lyk so goed! Sy weet jy jok vir haar, en dit gaan haar nie beter laat voel nie. Sê eerder niks nie, of komplimenteer haar oor haar nuwe haarstyl.

•  Het jy ook agtergekom hulle maak die klere kleiner deesdae? Sy weet klaar sy is vet en is waarskynlik sensitief daaroor. Om op so ’n manier vir haar te sê jy kan sien sy het gewig opgetel, gaan haar seermaak.

•  Ek ken ’n baie goeie dieetkundige, ek moet jou die nommer gee. Tensy sy jou raad gevra het of ’n nommer gevra het, is dit baie ongeskik om so iets vir haar te sê. Sy voel dalk doodgelukkig met haar lyf.

… iemand wat haar troue reël

•  Is al die strooimeisies ewe groot? Die strooimeisies hoef beslis nie almal ewe groot te wees nie. Jy gaan haar laat stres oor iets wat glad nie belangrik is nie.

•  Hoekom kan my kinders nie na jou troue kom nie? Want as jou kinders kom moet almal se kinders kom, en voor sy haar oë uitvee is daar 23 ekstra monde om te voed teen R200 ’n kop. Én die ma’s hol agter stout kinders aan en geniet nie die troue nie.

•  Gaan jy vir Sarie (jou kleinniggie wat jy net op begrafnisse sien) nooi? Die bruid voel alreeds skuldig oor almal wat sy nie kon nooi nie. Moet dit nie vir haar erger maak nie! Sarie is op die gastelys wat kaartjies kry wanneer van die ander gaste aandui dat hulle nie gaan kom nie.

•  Ag, my dogtertjie is so pragtig, wil jy haar nie asseblief blommemeisie maak nie? Dit is baie voorbarig en dit plaas die bruid in ’n baie ongemaklike posisie. As jou dogtertjie nie gevra is nie, beteken dit sy het reeds blommemeisies gekies.

•  Kan ek ’n heildronk instel? Nee. As sy wou gehad het jy moet ’n heildronk instel, sou sy jou al lankal gevra het. Die bruid kies spesifieke mense om iets te sê en buitendien probeer sy dié gedeelte van die aand so kort as moontlik hou.