Lees mamma Facebook in die hemel?

0
230
facebook.jpg

Facebook is nie altyd “sleg” nie. Dis hier waar Laura-Marie Jansen nog haar drome met haar ma deel …

Liewe Facebook

Daar is nie ’n telefoonlyn hemel toe nie. Ek wens daar was.

Ses jaar gelede is my ma, Martie, skielik van ons almal af weggevat. Die gebeure van daardie aaklige Sondagaand sal ek altyd onthou. Sy was nog so jonk, borrelend, vol lewensvreugde. Die ergste is die onsekerheid: Was dit ’n hartaanval, bloedklont of beroerte? Ons sal nooit weet nie. My wêreld is onderstebo gekeer. Sy was dan die ystervrou, staatmaker, organiseerder, die een met al die planne…Hoe sal ek ooit op my eie kan aangaan?

Ek was ’n eerstejaartjie, ’n onderwysstudent. My ma het geglo ek gaan die beste onderwyseres op aarde wees. Ons het saam gedroom oor hoe ek gaan graad vang, oor my eerste werksonderhoud, my eerste klassie…Vandag moet ek gereeld vir my graad 5’s vertel van “die tannie in die foto teen juffrou se muur”. Want my ma kon toe nooit saam met my beleef hoe al hierdie drome waar geword het nie. Sy is net op ’n foto teen my muur.

Die Maandag na daardie aaklige Sondagaand het ek alleen in ons sitkamer gesit. Ek het vir oulaas afskeid geneem van die huisie waarin ek en my ma gebly het. Elke hoekie wat sy self mooi gemaak het, wou ek vir altyd in my geheue vasbrand. Daar was nog ’n sweempie van die White Diamonds- parfuum wat sy laaste aangespuit het in die lug. Maar die huis was koud en leeg. Niks was meer reg nie. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Ek het my hart uitgehuil. Sy kom nie terug nie. Hierdie plek is nie meer ons huis nie. Daar, met my foon in my hand, het ek die eerste Facebook-boodskap vir haar gestuur.

My ma se laaste inskrywing op haar bladsy was: “… is dancing on the ceiling”. En toe was sy weg. Eers was ek kwaad. Woedend. Hoe werk dit dat sy nog “op Facebook is” maar nie meer hier nie? Haar stem is stil, ek kan nie meer aan haar vat en hoor hoe lekker sy uit haar maag uit lag nie. Of kyk hoe sy haar naels by die lessenaar sit en verf nie. Altyd voor die rekenaar…Is dit dan regverdig dat ek net foto’s op Facebook oor het? En bittersoet herinneringe? Want saam met die mooie van onthou kom die pyn van verlange.

Maar ’n mens kan nie die lewe voorskryf nie. Dinge gebeur. Dis wat jy daarvan maak. Dalk is ek gelukkig dat ek ’n plekkie op sosiale media het waar my ma nog “is”. Iewers in die oneindige kuberruim is daar ’n platform waar ek my ma steeds deel van my lewe kan maak. Ek vertel haar van hoogtepunte, hartseer, gewone goed…Daar is dalk nie ’n telefoonlyn hemel toe nie, maar daar word ’n rits boodskappe gestuur! En dalk, net dalk, lees my ma steeds alles wat ek skryf.

Dit sal wonderlik wees as almal wat geliefdes verloor het, besef hoe waardevol Facebook kan wees. Vir my sal dit nooit ’n plek wees om te skinder, sleg te sê of lelik te wees nie – dit is my kuierplekkie by my ma. Natuurlik is my hart nog seer en verlang ek soms meer as wat ek kan verduur. Maar dit maak alles ’n bietjie draagliker as ek met haar kan gesels. As ek na haar Facebook-foto’s kyk, lag ek saam en weet: Alles is oukei.

Lauren.jpgVandag, op 25-jarige ouderdom en na amper drie jaar in die onderwys, probeer ek steeds om my ma se ideale vir my uit te leef. Danksy jou, liewe Facebook, kan ek alles met haar deel. Soms wens ek net dat sy sal antwoord…of net my boodskap sal like. Ek kan nie help om te wonder of dit nie dalk eendag sal gebeur nie.

Dankie dat my superma, Martie Jansen, kan voortleef.

Liefde
Laura-Marie