Leiding in die gejaag

Ek weet nou nie of dit Luther of Calvyn was nie, maar een van die twee se sekretaris het eenkeer na hom toe gekom en gesê dat die volgende dag so besig sou wees dat hy sy vroegoggend stiltetyd korter moes hou anders gaan hy nie alles ingepas kry nie. Sy antwoord was nee, hy moenie sy stiltetyd halveer nie, maar eerder verdubbel, want Hy het juis sy stiltetyd met God nodig om alles wat voorlê te hanteer.

Jesus wys elke keer vir ons wat die regte manier is van dinge doen. As ons ’n sukses wil maak van ons lewe, moet ons genoeg tyd saam met God deurbring. Ons kort wysheid om elke situasie reg te hanteer. Ons kort leiding om die regte besluite te neem. Ons moet weet watter afdraaie ons op die pad moet neem en watter nie. Dit is in daai stiltetyd by God waar ons die wysheid en die antwoorde kry.

Ons moenie stupid wees nie. Ons moenie probeer om met ons eie planne en voorstelle die dag te takel nie. Doen soos Jesus. Gaan raak stil. Maak tyd, elke dag, om by God uit te kom. Dan sal God ook wonderwerke deur jou kan doen.

van der Mer