Lemon Creams in ‘n plastiekbakkie

Dit was teetyd in die siekeboeg van die aftreeoord.  Ek en my vriendin het by ‘n kollega gaan kuier waar sy aansterk na ‘n beroerte en eintlik ‘n rits mediese krisisse wat haar alles in een jaar verrinneweer en reduseer het tot ‘n bed en ‘n kassie en ‘n kamermaat wat haar nie kan hoor nie.  Sy is een van die min jonger mense daar en een van die enigstes wat nog ‘n normale gesprek kan voer. Die sitkamertjie sit vol siek ou mensies wat meestal net tevrede voor hulle uitstaar. Op elkeen se skoot balanseer daar wankelrig ‘n plastiekglasie met sap en twee lemon creams in ‘n bakkie.

Ek wou eers huil van jammerte vir die onelegante oggendtee en die verlies aan lewenskwaliteit, styl, geheue, gesondheid en menswaardigheid.  Maar hoe meer ek aan die toneeltjie dink, hoe meer besef ek dis die sirkelgang van die lewe.

So het my ma ons gunsteling winkelkoekies ook vir ons in tupperbakkies bedien toe ons kinders was.  My pa het altyd heimwee daaroor gekry na sy “army” dae en ons het goed geweet om dit blitsvinnig te week net sodat die soetsuur vulsel romerig smelt as jy hom insuig. Net soos my ma bak ek alles self, maar lemon creams in ‘n rooi pakkie bly koning.  My kinders sal dit selfs bo my fudge verkies!

Lewensvreugde en rituele kan ‘n nederige koekie wees elke oggend op dieselfde tyd, maak nie saak hoe oud jy is nie. Menswaardigheid en lewenskwaliteit is meer dikwels nie deftige eetgerei of meubels nie, maar samesyn en ‘n sonkolletjie met ‘n uitsig op ‘n groen plantjie.  Miskien kan ‘n eenvoudige lemon cream jou vir ‘n oomblik laat vergeet van jouself en jou versterk soos nagmaalbrood.

Ek hoop so dit is vir my en my man saam beskore.  Ek sal dolgraag enige iets geniet saam met iemand wat my naam ken selfs al het ek dit al vergeet.  Ek wil graag glo ‘n mens kan stokoud word met ‘n lemon cream elke oggend uit ‘n bakkie wat nie kan breek as jy bewerig raak nie. Ek hoop ons sal end-uit vreugde put in die klein dingetjies van die lewe.

My ouers trek die week na ‘n inrigting soos my pa spot met hulle woonstel in die mooiste Kaapse aftree oord.  Ek voel dankbaar dat hulle die skuif nog saam kan maak terwyl albei nog energiek en gesond genoeg is om self meubels te dra en gate te boor.  Ek weet hulle is hopeloos te jonk vir die inrigting se programme, maar ek glo hulle sal vreugde en nuwe vriendskappe vind. Mag hulle met kinderlike opgewondenheid die lewe daar ten volle geniet.