Let op na destruktiewe gewoontes

0
11

Deur bewus te word van jou destruktiewe gewoontes kan jy doelbewus werk om die patroon te verander.

As jy steeds dagboek hou van jou emosies, kan jy dit gebruik om te sien hoe negatiewe gevoelens jou kwesbaar maak om te wil eet. As jy lank genoeg dieselfde patroon volg, word dit ’n gewoonte en gebeur dit naderhand sonder dat jy bewus is daarvan. Jy moet probeer om hierdie onbewuste prosesse na die oppervlak te bring sodat jy die destruktiewe patrone kan identifiseer en breek.

Die geheim is om in plaas van dieselfde destruktiewe patroon te volg, iets heeltemal anders te doen. Byvoorbeeld, as jy ’n bietjie depressief is en voel jy wil iets eet, gaan stap om die blok of bel ’n vriendin. Dink aan iets oorspronklik wat niks met kos te doen het nie. Dit kan mettertyd ’n lekker speletjie word en jou brein gaan besef dat die ou patroon nie meer werk nie.

Om bewus te word van die destruktiewe patrone gaan jou al baie help. As jy dit met ’n meer konstruktiewe optrede kan vervang, soveel te beter!

  • Identifiseer eers die negatiewe gevoelens.
  • Wat doen jy as jy so voel?
  • Hoe laat dit jou voel? (Gewoonlik nog slegter, dan eet jy weer en die bose kringloop herhaal homself.)
  • Wat anders kan jy doen? (Iets wat niks met kos te doen het.)


Onthou, daar is ’n nou verband tussen jou emosies en dit wat jy in jou gedagtes toelaat.