Die leuens wat vroue glo

781

Baie vroue glo hulle is nie goed genoeg nie. Ander loop met skuldgevoelens of ’n vrees vir verwerping rond. Susan Coetzer en ander vroue help jou om die leuens te ontmasker en vry te kom…

Wat keer jou om jou drome te verwesenlik en daardie spesiale talente en gawes te ontwikkel? Is dit die kritiese stemme van ander wat jou moed breek? Of ’n kritiese siening oor jouself?

Susan Coetzer sê baie vroue sukkel met ’n lae selfbeeld, skaamte of ’n kritiese binnestem. Hulle voel onwaardig en bang om toe te laat dat ander hulle sien soos hulle regtig is.

Die negatiewe stemme in hulle kop begin by baie vroue in hulle tienerjare. Ons voorkoms, gewig en gewildheid raak ’n teer puntjie.

Die leuens word dan saamgedra die grootmenswêreld in en beïnvloed ons huwelike en ander verhoudings. Dit wat jy oor jouself glo, bepaal watter soort vrou en ma jy eendag gaan wees.

Hierdie leuens skep baie probleme, soos ’n swak selfbeeld en depressie. Dit het ’n verlammende effek op jou welstand en keer dat jy die potensiaal bereik wat Hy vir jou in gedagte het.

Soos die jare verbygaan, word hierdie negatiewe gedagtes versterk deur ons ervarings met ander en ons eie negatiewe selfgesprekke. Dis soos om elke dag saam met jou grootste kritikus te leef!

Negatiewe gedagtes laat ons optree asof hierdie leuens wel die waarheid is.

Maar daar is hoop!

Die sleutel na ’n suksesvolle lewe is toe al die tyd jou eie denke. Jy moet die negatiewe gedagtes uitboender en die waarheid begin glo.

Gooi die leuens wat jou sukses ondermyn vandag nog in die asdrom. So word jou outentieke self, talente en gawes ontwikkel tot voordeel van jouself en van ander.

Jou lewe is ’n mislukking in vergelyking met ander s’n…

Die wêreld skep vir ons boksies. En jy glo jy is nie normaal as jy nie in al die boksies pas nie.

Dit begin al op skool. Jy moet akademies goed doen, netbal speel en aan die debat deelneem. Jy moet selfs by die Voortrekkers aansluit, al is dit aaklig om in die veld te slaap. Daar is ’n sekere standaard waaraan almal moet voldoen en klaar.

As tiener wonder jy hoekom jy later as die ander meisies begin ontwikkel. Jy wil graag so mooi en so maer wees soos jou vriendin.

’n Mens kom in die gewoonte om jouself te vergelyk met ander om te kyk of jy inpas.

Later vergelyk jy jou gemiddelde kinders met jou vriendin se slimkoppe. Julle doodgewone huis steek af teen die bure se kasteel.

Jy sê vir jouself: Ek sal nooit so lyk nie. Ek sal nooit kan doen wat sy doen nie. Ek wens ek was so ryk soos sy. Ek wens ek was so gewild soos sy.

Of jy nou ’n model in ’n tydskrif of ’n tuisblyma is. Die voortou neem of die agteros is. Die siel van die partytjie is of altyd tuis bly. Jy is perfek en klaar!

DIE WAARHEID!

Daar is vroue wat niks het nie, maar wat hulleself elke dag moed inpraat om net nog ’n dag te bly staan. Dan voel hulle hulle het die wêreld aan hulle voete.

Jy besit miskien die mooiste huis in die buurt. Of het net-net ’n dak oor jou kop. Dit maak nie saak nie, jy het ’n hawe wat jy “huis” kan noem.

Solank jy hier is en iets vir iemand beteken en ’n verskil maak, het jy sukses behaal.

Jy is nie die beste ma vir jou kinders nie…

Die lewe is kort en ’n dag gaan so gou verby. Die meeste ma’s voel dat hulle nie by alles uitkom nie.

Wanneer jy met die gewone goedjies besig is, wonder jy of dit al is wat nodig is om gebalanseerde kinders te verseker. Is daar nie iewers ’n magiese resep om te volg nie?

Daar is hope dinge om oor skuldig te voel. Gee jy genoeg van jouself, al offer jy elke greintjie van jou bestaan op vir daardie wonderlike goedjies?

Wanneer hulle klein is, is roetine aan die orde van die dag. Van waaroms en hoekoms, gebalanseerde etes, blootstelling aan alles moontlik, ’n bietjie bederf tot baie dissipline.

Later begin hulle persoonlikhede ontwikkel en elke dag se dinge word ingewikkelder maar tog ook lekkerder.

Daar is nou wel nie altyd die presiese resultate wat jy in gedagte gehad het nie. Maar elke dag is spesiaal, mét sy oppe en affe, sportprestasies, teleurstellings, liefdes en gewone dinge.

As jy eendag omkyk, is hulle uit die huis en jy verlang na die stilstaan om elkeen te versorg en te koester. Dan is die groot vraag: Kon jy ’n beter ma gewees het?

DIE WAARHEID!

Die slim mense sê: “Die sin van die lewe vind gestalte wanneer jy die prentjie van hoe jy dink die lewe behoort te wees, laat gaan. En vreugde vind in die werklikheid wat jy leef.”

Jou prentjie van ’n gesin het anders gelyk. Maar hoe julle nou lewe, is die werklikheid. Meet jou suksesse as ma aan klein dingetjies wat jou kinders eendag gaan onthou.

Soos wanneer jou langbeendogter elke oggend kom regstaan dat jy haar hare kan vasmaak, al kan sy dit mooier doen!

Jy moet altyd alles self doen…

Vir een vrou is dit ’n dapper ding om ’n reksprong te doen. Vir iemand anders vat dit moed net om by ’n gimnasium in te stap.

Vir die meeste vroue mag dapperheid beteken om hulp te vra wanneer hulle self nie verder kan nie.

As ’n peuter het jy gesê: “Ek sal self!” Vandag sê vroue dit nog steeds. Maar diep binne voel dit hulle wil skree. Want hulle kan nie meer nie. Alles het net te veel geword.

Baie vroue sit met ’n warboel van emosies en gedagtes en voel of hulle wegkwyn.

Hulle is te bang om hulp te vra. Bang hulle kom swak voor. Bang mense oordeel hulle of wonder hoekom hulle dit nie self kan doen nie. Verder voel hulle dis onregverdig om ander mense se tyd in beslag te neem om te help.

Almal wil graag hê die wêreld moet na hulle kyk en sê: “Sy is ’n sterk vrou.”

Ons word elke dag gebombardeer met vroueregte en opstaan vir onsself. Jy dink dis hoe dit hoort, jy moet maar swaarkry, alles self doen, dit maak jou sterk.

Vrees sal jou hele lewe oorneem as jy dit nie keer nie.

DIE WAARHEID!

Om sterk te wees beteken nie jy moet swaar kry en sukkel nie. Om sterk te wees beteken ’n mens identifiseer die probleem en doen iets daaraan, al is dit hóé moeilik. Dis om te floreer, ongeag omstandighede.

Jy moet vandag besef daar is baie mense wat graag wil help. Maar jy moet dapper genoeg wees om te vra!

Deur stil te bly, ontneem jy iemand van ’n goeie daad wat sy graag wou doen.

God kan jou nooit vergewe vir jou fout nie…

Jy het ’n baie groot fout gemaak en wens jy kon dit met ’n groot uitveër bykom en uitvee. Maar ongelukkig kan dit nie ongedaan gemaak word nie. En boonop is daar gevolge om te dra – moontlik vir altyd.

Die flater kan ’n monster word wat jou stukkie vir stukkie wil verslind. En hy sal – as jy hom toelaat. Hy sal intrek om te bly. Elke dag saam te reis. Saans oor te slaap. Saam met vakansie te gaan. Fliek toe. Werk toe ook. Selfs kerk toe.

Die vyand wil seermaak. Jou herinner aan jou swakheid. Hy wil jou sien, ly en dan wil hy homself in die seer en ellende verlustig!

Dis maklik om te glo jy is ’n totale mislukking; ’n slegte mens. Dat jy nie vergifnis mag ontvang nie, veral nie van God af nie.

Dit wat aan die kruis gebeur het, is nie op jou van toepassing nie. Doringkroonstories is vir ander mense. Getroue, eerlike mense.  Nie die egbrekers, leuenaars en verslaafdes nie.

Dis moontlik om net-net te oorleef. Maar dit is nie lééf nie. Daar is ’n groot verskil!

DIE WAARHEID!

Onthou, jy het ’n fout gemaak. Jy ís nie ’n fout nie. Vergewe jouself onvoorwaardelik!

Dis ’n lang en seer pad om te kom op die plek waar “fout” gelyk is aan “les”. Daar waar jy die goeie dinge wat daaruit gekom het, kan raaksien. Met nuwe oë na die lewe kan kyk.

Ja, jy het gefaal. Maar daar was ’n kruis. En die geskenk van vergifnis van dié vir wie jy seergemaak het.

Jy moet elke keer ja sê…

Op die tafel staan ’n sjokoladekoek. Dit lyk heerlik. Jy gryp ’n stuk met die hand en prop dit in jou mond. Die plesierkliere op jou tong skree van blydskap en jy vat nog ’n paar happe.

Dan bereik ’n panieksein jou brein. Jy kan nie sluk nie, jou keel trek toe. Jy voel duiselig en angstig.

Jy sal nooit so iets doen nie? Jy doen dit elke dag!

Familie, huiswerk, kinders, vergaderings, verpligtinge en werk. Vroue prop net elke dag meer en meer in hulle lewens in.

Jy is so bang om “nee” te sê of terug te sit en te ontspan. Later raak alles net te veel. Spertye en skedules begin oorvleuel en die koek op die vurk raak meer.

Ongelukkig kom daar ’n dag waar jy stik aan daardie koek en dan is dit te laat. Dis ’n gat waarin almal trap. Dis moeilik om stil te sit en minder te doen. Dit hoop jaar ná jaar op, totdat alles eendag buite beheer raak.

Ontspan! Jy is geregtig op tyd vir jouself, om minder hooi op die vurk te laai en ’n slag “nee” te sê.

DIE WAARHEID!

Ons mag agteroor sit en elke dag ’n stukkie koek geniet. En hoe kleiner die happies, hoe lekkerder gaan dit wees en hoe langer gaan dit hou.

Elke dag is ’n nuwe dag en dit help nie om nou al aan volgende week of maand te dink nie.

Skryf dit neer in jou dagboek en vergeet daarvan tot wanneer dit hanteer moet word. So raak jy nie paniekerig oor dit wat moet kom en vergeet van dit waarmee jy besig is nie.

Jy het ’n man nodig om gelukkig te wees…

Julle is deur ’n pynlike egskeiding. Of jou lewensmaat is oorlede. Miskien het jy nooit getrou nie.

Jy het nie noodwendig ’n keuse hierin gehad nie. Maar hoe jy die alleenheid gaan hanteer, is wel ’n keuse.

Ons is nie gemaak om alleen hier op aarde aan te sukkel nie. Om gemeenskap met mense te hê en jouself te kan deel is die oplossing vir eensame harte.

Die probleem is dat eensame mense so in hulleself gekeer raak, dat hulle nie meer wil uitgaan nie. Almal moet na hulle toe kom. En as mense na hulle toe kom, loop hulle hulle in ’n muur van geslotenheid en afsydigheid vas.

Tensy jy ’n volledige mens is met jou eie bronne van innerlike krag, sal geen mens graag saam met jou wil kuier nie.

Vriende is kosbaar, want hulle kry ’n mens uit jou gemaksone – dáár waar jy teen verdere seerkry wegkruip.

Kry die dinge wat jy agtergelaat het, uit jou gedagtes en lewe.  Of dit goed of sleg was, dit is vir altyd verby. Begin om jou kosbare lewe te geniet!

DIE WAARHEID!

Neem ’n wilsbesluit en reik uit na ander enkelpersone. Hulle kan help om die grense van jou leefwêreld te verskuif en dierbare vriende word.

Mag jy ook innerlike vrede vind sodat wanneer jy wel alleen is, jy nie eensaam sal wees nie. Dit is nie nodig om die delete button van die verlede te druk nie. Druk eerder die forward button en ontdek die wonderlike lewe wat vir jou bedoel is.

Niemand kan vir jou geluk skep nie. Jy moet dit vir jouself skep.

Jy kan niks aan negatiewe gedagtes doen nie…

Die vyand is die vader van leuens en dit is ’n wapen wat hy baie graag gebruik.

Jou gedagtes kan gemanipuleer word om in rigtings te gaan wat nie regtig uit jouself uit kom nie. En jy glo baie maklik die leuens, want jy dink dat dit jou eie gedagtes en gevoelens is.

Onvergewensgesindheid. Vrees. Rou. Jaloesie. Stres. Woede. Watter vrou het nie al een van die volgende gedink nie:

Niemand is lief vir my nie. Almal verlaat my. Alles wat sleg is, gebeur altyd met my. Ek kan dit nie meer hanteer nie.

Aan die ander kant kan jy jouself ook flous en sê: “Ek is oukei,” terwyl jy pille drink om alles bymekaar te hou.

Wanneer jy dink dat hierdie dinge jou identiteit is, verlam dit jou. Jy is nie depressie nie. Jy is nie angs nie. Jy is nie woede nie. Jy is nie die diagnose nie.

Hou op om op hierdie dinge te fokus en dit as deel van jou te aanvaar. Dit is nie wie jy is nie. Dis wie jou Pa jou gemaak het om te wees, wat tel.

DIE WAARHEID!

Onthou, die oorlog is reeds gewen. Jou lewe en gedagtes is jou beloofde land. Maar met elke leuen, elke negatiewe emosie wat jy toelaat, laat jy ’n monstertjie toe om daar te kom plak.

Die goeie nuus is, jy besit die land, so jy het die outoriteit om hulle weer af te skop.

Identifiseer elke leuen, elke negatiewe emosie. Bid daaroor en noem hulle op die naam.

Jy moet alles perfek reg doen…

Jy is dalk geseën met ’n wonderlike gesin, familie en vriendekring. Of jy is ’n suksesvolle beroepsvrou. Jy het elke dag kos om te eet, is gesond en kan af en toe ’n nuwe rok bekostig.

Moontlik sien jy dit nie eens raak nie, maar kyk vas in jou foute en tekortkominge.

Die selluliet op jou bobene. Klere wat al hoe stywer sit. ’n Deurmekaar huis. Kinders wat rof te kere gaan.

Niks in jou lewe voel perfek nie. Dit beteken jý is nie perfek nie.

Jou lewensmotto is: “Wat sal die mense sê?”

Moenie by die huis uitgaan sonder grimering nie. Daarsonder is jy vaal en wat sal die mense sê? Moenie daardie laaste skyfie op die bord eet nie. Jou klere sit reeds te styf en wat sal die mense sê?

As kinders word ons geleer om ons beste voetjie voor te sit. Sodoende sien ons net wat almal wil hê ons moet sien – gewone mense se “perfeksie”.

Intussen voel ons al minder werd en word die verwagtinge naderhand net te veel.

As kind was jy miskien baie skaam. Dit kan een van jou sterkste eienskappe word. Jy is nie iemand wat halsoorkop besluite neem nie en kan goed deurdagte besluite neem.

DIE WAARHEID!

As jy toelaat dat mense jou klassifiseer, kan hulle jou inperk. Wees net jouself en weet jy het ’n doel.

Ons almal ken daardie gevoel om in die spieël te kyk en dit voel of jy oornag plooie bygekry het. Moet dit nie as ’n verlies sien nie, onthou eerder wat dit verteenwoordig. Dit beteken jy het die voorreg gehad om lekker te kan lag.

Onthou, ander vroue het jou tekortkominge nodig om self te sien perfeksie is onmoontlik.

Jou lewe het geen doel of betekenis nie…

Baie vroue werk buitenshuis, maar doen nie waarvoor hulle bekwaam is nie. Dit voel asof hulle lewe nie eintlik iets beteken nie en hulle nie hulle doel op aarde leef nie.

Baie tuisblymammas voel ook so. Die sleurwerk van elke dag kan jou emosioneel dreineer. Dit kan voel asof niemand raaksien wat jy doen nie. Asof dit geen verskil maak nie. Jy voel soos ’n mislukking. Totaal nutteloos.

Jou werk beslaan ’n groot deel van die lewe. As jy nie ’n passie of liefde daarvoor het nie, is meer as die helfte van jou dag negatief. ’n Mens moet lewe en nie net ’n bestaan maak nie!

Die ideaal is om betaal te word om te doen wat jy geniet en dit dan elke dag te kan doen. Om te weet dat jy ’n verskil in iemand se lewe maak, is baie bevredigend. Dis waarna elke mens soek.

Passie is die krag wat jou dryf. Doen wat jy geniet en jy sal nooit ’n dag in jou lewe werk nie!

Soos jy in jou doel in beweeg, sal Hy jou meer en meer invloed gee om ’n verskil te maak.

DIE WAARHEID!

Dink oor wie jy is. Wat is jou gawes en talente? Waarvan hou jy?

Hoe meer dinge neergeskryf word, hoe makliker is dit om te ontdek wat jou gelukkig sal maak. En die droom in aksie om te skakel.

Wanneer dit duidelik is waar jy vandaan kom, vra jouself af: “Waarheen is ek op pad?” Is jy besig om jou eie drome na te jaag, of die drome van iemand anders? Maak seker jy weet wat jou eie drome is!

Jy moet self al jou planne maak…

Miskien het jy al baie kere gevra dat dinge anders moet uitwerk of dat ’n spesifieke situasie moet verander, maar dit het nie.

Daar sal altyd goeie en slegte tye wees. Tye wat alles seepglad verloop en ander kere wat niks wil uitwerk nie. Dis die lewe.

In die middel van ’n storm wil jy liewer self ingryp en dinge so gou moontlik na normaal laat terugkeer. Niemand hou tog van ’n chaos nie.

In sulke tye is dit nie maklik om te bly vertrou en glo dat daar ’n uitkoms sal wees nie. Dit voel asof alles rondom jou inmekaar tuimel.

Soms, as ’n mens terugkyk, is jy dankbaar dat jou gebede daardie tyd nie verhoor is nie. Dit sou net alles in ’n chaos verander het en een groot mislukking gewees het.

Selfs in Jesus se lewe was daar baie storms, winters, woestynpaaie en versoekings. Maar alles het tog uiteindelik reg uitgewerk.

As Hy dan dieselfde is vandag as toe, waarom vertrou ons nie dat Sy planne vir ons lewe beter is as ons eie planne nie?

DIE WAARHEID!

In jou moeilike omstandighede word jy gesnoei en geskaaf en voorberei vir die toekoms. As jy vandag terugkyk na ’n seer tyd, sal jy sien daar was tog ’n doel.

Daar was dalk seer, verwarring oor of iets die regte besluit was, baie storms en wintertye. Maar raai wat? Die lente het ook weer aangebreek.

Moenie op jouself of ander staatmaak nie. Kyk boontoe en fokus op die regte plek. Dit verg moed, geloof, deursettingsvermoë, gebed en vertroue – maar dis moontlik.

KOOP DIE BOEK

Al ooit gevoel dat jy nie goed genoeg is nie? Nie mooi genoeg of maer genoeg is nie? ’n Slegte ma is? “Ek ook!” sê Susan Coetzer en 70 ander vroue…

In #EkOok ontbloot Susan Coetzer  en 70 ander vroue die leuens wat deur  soveel gelowiges geglo word. Leuens soos: ek is ’n mislukking …  ek is nie liefde werd nie … ek kan niemand  vertrou nie … ek kan nie vergifnis kry nie. Ons begin hierdie onwaarhede in ons  kinderjare glo. En dan dra ons dit met ons saam  soos ons ouer word, trou en self ma word … Dit hoef nie so aan te hou nie. Jy kan bevry word. Jy kan hierdie leuens met die waarheid vervang! Wanneer jy God se waarheid oor jou spreek,  kan jy hierdie waarheid begin lééf. #EkOok is soveel meer as ’n versameling  hoofstukke. Dit is ’n geskenk van vroue wat dié  lesse geleer het, vir ander vroue. Leer by vroue: jy is kosbaar … Jy is geliefd …  Jy kan op Hom vertrou … Jy is volledig vergewe.    Hulle bemoedig jou sodat jy kan doen wat nodig is om die vreugdevolle, selfversekerde vrou te word wat jy bedoel is om te wees.

#EkOok
Susan Coetzer en ander, sagteband
R69 R139
 voelgoedboeke.co.za | bestel@voelgoedboeke.co.za