Lewensondersteuning – sal jy dit kan afskakel?

0
209
life_support.png

Die verantwoordelikheid om te besluit wanneer iemand anders gaan doodgaan is iets wat niemand wil hê nie. Maar wat gebeur wanneer jy die lewensondersteuning moet afsit?

Adèle Kruger (grafiese ontwerper) kon nie haar baba se lewensondersteuning afskakel nie

Jy moet alles tot jou beskikking gebruik om ’n lewe te red”

adele_kruger.pngTwee jaar gelede is Adèle en haar man se enigste kind, wat vroeg gebore is, dood nadat sy twee maande in die neonatale hoësorgeenheid was. “Ons het heeltyd geglo sy gaan beter word, maar op die ou end was daar te veel faktore wat teen haar getel het.”

Op die laaste dag van Tabitha se kort lewetjie het die dokters gesê Adéle-hulle moet ’n besluit neem. Die kans vir beterskap was nie goed nie, en as hulle nie die masjiene afskakel nie, sou hulle die proses onnodig verleng.

“Ons was nie gereed om self ’n drastiese besluit oor haar lewe neem nie.” Gedurende hierdie baie moeilike tyd het Adèle baie gewonder, gebid en geleer. “Ek dink dis wonderlik dat daar soveel masjiene is wat byvoorbeeld babas ’n beter kans op oorlewing kan gee. Ek glo dat jy alles wat tot jou beskikking is moet gebruik om ’n lewe te red, omdat ons waarde aan lewe heg.”

Adèle meen daar is ’n verskil tussen om ’n lewe te beskerm en die dood uit te stel. “Aan die een kant glo ek dis verkeerd om iemand aan die lewe te hou net omdat jy die persoon nie kan laat gaan nie, maar aan die ander kant is dit ook verkeerd om die dood aktief te verhaas. Soms gebeur dit wel dat die persoon se liggaam duidelik nie meer self kan funksioneer nie. Dokters weet wanneer hulle niks meer kan doen nie.”

Tog waarsku Adèle dat jy nie moet wag tot jy midde-in so ’n emosionele, stresvolle tyd is voor jy oor hierdie dinge dink nie. “Al moes jy nog nooit so ’n keuse maak nie, moet jy moeite doen om daaroor te dink. As jy reeds ’n sterk oortuiging daaroor het, sal jy nie in die emosie van die oomblik ’n keuse maak waaroor jy dalk later gaan spyt wees nie. Waarop gaan jy jou oortuiging grond? Gaan jy dit om humanistiese redes doen – of uit ’n vrees vir God?”

Op die dag wat die Krugers aangeraai is om ’n besluit oor Tabitha se lewe te neem, het hulle oorgegee. “Ons het gemeen dat Hy haar kan neem as dit Sy wil is, of sy nou op masjiene is of nie, en binne ’n uur het sy opgehou asemhaal.

“Ek weet dinge werk nie altyd so uit nie. Vir elkeen wat ooit voor so ’n keuse te staan kom, sal ek sê laat God toe om God te wees.”

[pagebreak]

Prof. Sean Davison (forensiese professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland) het sy siek ma gehelp om te sterf.

“Masjiene kan ’n mens ’n baie lang tyd in ’n vegetatiewe staat lewend hou.”

sean_davison.pngDignity SA is ’n organisasie wat hom daarvoor beywer dat persone wat hulle lewens wil beëindig en dit nie self kan doen nie, wettig hulp kan verkry om te sterf. Benewens navrae van mense wat baie erg ly aan die einde van hulle lewe, is daar ook mense met familielede wat aan lewensondersteunende masjiene gekoppel is wat raad wil hê. “Dit het my oë oopgemaak vir die dilemma wat soveel mense in die gesig staar,” sê Sean, die stigter van Dignity SA.

Volgens Sean sê familielede dikwels dat hulle geliefde gesê het hulle wil nie eendag aan masjiene gekoppel bly nie. “My eie ma het dit ook gesê, maar dikwels ignoreer ons hierdie wense in die hoop dat ons nooit so ’n besluit sal hoef te neem nie.” Indien hierdie wens wel op skrif gestel is, meen Sean, moet dit geëer word. “As dit iemand se wens is, moet dit gedoen word, al klou die familie vas daaraan dat hulle geliefde moet bly leef. Dit maak nie saak hoe pynlik dit is nie, dit is ons verantwoordelikheid en plig om ons geliefdes se wense te eer.”

Maar as so ’n wens nooit uitgespreek is nie, is dit ’n moeilike besluit om te neem. “As ’n familielid van my aan lewensondersteunende masjiene gekoppel is, in ’n toestand waarin die hartklop en asemhaling aan die gang gehou word en daar min kans op herstel is, sal ek vra dat die masjiene afgeskakel word. Dit sal ’n liefdesdaad wees.

“Die lewe gaan oor kwaliteit, nie kwantiteit nie. Dit maak nie sin om iemand aan die lewe te hou net ter wille van lewe nie. Ek sal beslis nie kunsmatig aan die lewe gehou wil word nie.” Op hierdie stadium is daar volgens regskenner, prof. Theuns Verschoor van Kovsies, geen wet wat bepaal wanneer lewensondersteunende masjiene afgesit mag word nie. “Die probleem is egter dat masjiene ’n mens ’n baie lang tyd in ’n vegetatiewe staat lewend kan hou,” sê Sean.

In sy boek Before We Say Goodbye vertel Sean die hartverskeurende verhaal van sy terminaal siek ma se laaste dae en hoe hy haar gehelp sterf het. “Ek is nie spyt daaroor nie,” sê hy, “want ek het niks verkeerds gedoen nie.” Hy het skuldig gepleit dat hy haar gehelp het om haar eie lewe te beëindig en ’n vonnis van vyf maande huisarres uitgedien in Nieu-Seeland, waar sy gewoon het.

Moet jy die masjiene afsit of nie? Kliek hier om saam te gesels op ons forum

DEEL
Vorige artikelMadiba sterf
Volgende artikelGod bly belangrik
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.