Lia se onderhoud met haar ma, Dorette Potgieter

0
887
dorette.jpg

Dorette Potgieter speel in Ballade vir ʼn Enkeling. Haar dogtertjie, Lia Luna Li, is haar grootste bewonderaar.

Dorette Potgieter speel in Ballade vir ʼn Enkeling. Haar dogtertjie, Lia Luna Li, is haar grootste bewonderaar.

dorette_lia.jpgLIA: Het Mamma al ooit ʼn troeteldier gehad?
DORETTE: Ja, my eerste troeteldier was ʼn Persiese kat met die naam Lezander. Ek was nog self ʼn baba toe Ouma en Oupa hom vir my gekoop het.

DORETTE: Ons het ook troeteldiere…
LIA: Ja, twee. Ons kat se naam is Vlinder by oupa Org se huis, en my hamster is Blinc Spoednick by ons ander huis ver in Vredehoek.

LIA: Hou Mamma van jou werk?
DORETTE: Ja, natuurlik! Jy weet Mamma staan 04:00 in die oggend op en kom saans laat tuis sonder om te kla – sjoe, wie sal dit doen as jy nie hou van jou werk nie, né?

LIA: Watse werk doen Mamma alles?
DORETTE: Ek speel nou in ʼn fliek. Die fliek se naam is Ballade vir ʼn Enkeling en dit gaan oor ʼn liefdesdriehoek. Mamma was ook al in Botswana waar ek saam met ʼn handjievol mense gekyk het of ons ʼn TV-reeks deur die onderste deel van Afrika kon maak. Jy weet mos waar Afrika is (knipoog). Jy sal ook Mamma se stem op die radio of televisie hoor.

DORETTE:    Kan jy onthou wat die eerste geskenk was wat Mamma vir jou gekoop het?
LIA:    Ja, ʼn groot houtpophuis met ʼn slaapkamer en badkamer op die eerste vloer en op die grondvloer ʼn kombuis en ʼn sitkamer met familiemense wat daarin woon.

DORETTE: Wat sal jy nou vir jou verjaarsdag wil hê?
LIA: ʼn Appelboomsaadjie sodat ek dit kan plant, want ek wil so graag ʼn appelboom hê. Dan hoef ons nie appels te koop nie en dan kan ek my swaai daaraan hang.
Dorette:    Ek hou ook van appels.

LIA:    Ek weet! Toe Mamma klein was, watse kosse het Mamma geëet?
DORETTE: Mamma was lief vir sjokolade en tjips. Ek was nie baie lief vir kos nie: Ek sou my skooltoebroodjies eet, maar nie Ouma se gekookte kos nie. Oupa se braaivleis was lekker, maar Ouma se skaapboud was die lekkerste!
LIA: Ek hou nogal van Smarties wanneer Oupa dit vir my in die posbus los of wanneer ons skattejag speel.

LIA: Was Ouma ooit streng toe Mamma klein was?
DORETTE: Ja, maar sy moes wees. Anders sou ek doen net wat ek wou. Ons het daai dae nog met ʼn houtlepel of ʼn pantoffel pak gekry as ons nie wou luister nie.

LIA: Kan Mamma onthou die dag toe ek gebore is?
DORETTE: Mamma sal nooit die dag vergeet nie. Dit was nie ʼn maklike dag nie, maar toe hulle jou vir my gee, het ek besef hoe my lewe onherroeplik verander. Mamma was baie bang, maar ek het geweet liewe Jesus is by my. Mamma het geweet ek was nie alleen deur alles nie. Mamma is so dankbaar vir my heel grootste geskenk nog: Jy, my dierbare dogtertjie.