Lianie May: Dankie Hemelse Vader

0
377
lianie_may.jpg

Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Hier is ’n pragtige gebed wat Lianie geskryf het.

Hemelse Vader,

Baie dankie vir die Klein “plesiertjies” van menswees. 'n Beker stomende koffie in my hande; 'n bed en kombers, en sommer ook vir my ‘slaap-maat’ wat my teensinnig laat gaan om die nuwe dag aan te vat.

Dankie vir die prikkeling van 'n warm stort op ‘slaap-stywe’ skouers; vir die geur van ontbyt.
Dankie Vader, vir die skaterlag van kinders, oor lawwe dinge wat te "gesofistikeer" geword het om te geniet

Dankie vir die “geborgenheid” van 'n huis, vir die ‘weelde’ van gesondheid – na gees en liggaam.
Vader, ons behoort mos dolgelukkig te wees, maar ons harte is swaar van groot bekommernisse en onbenullige frustrasies wat ons gedagtes so in beslag neem, dat dit ons doof maak vir die vreugdes wat ons reeds in U besit.

Ag, Vader, ons ervaring van geluk is so selfsugtig, so kortstondig.
Dit is soos om 'n pragtige blom in ons hande te hou en net te sit en kyk hoe dit stadig verlep.

Vader, help ons asseblief om minder te kla oor die dinge wat ‘verby gaan’ en ons meer te verbly in die seëninge wat ons elke dag uit U hand uit ontvang – veral die klein dingetjies wat ons so maklik miskyk.

Ons bid vandag vir hulle, wat nog nooit juis die “lewe se blomme” sien oopgaan het nie en ook vir die in wie se lewe daar net te veel “verlepte blomme” is, sodat hulle nie eers meer die mooies kan onthou nie.

Hemel Vader, ons gee nou al ons “dooie blomme” aan U terug.
Dankie dat ons U kan vertrou met seisoene, met nuwe geure en kleure en dankie dat U getrouheid oor en in ons lewens, ons waarborg is vir elke more, dat U saam met ons die pad sal stap en ons nooit sal verlaat nie!

Amen.