Liefde in aksie 24/7/365!

Wyd en syd gesêls en gons mense rondom Valentynsdag wat nou om die draai is. Kwansuis dié dag om die liefde te vier!

Die winkels word getooi, o so mooi in rooi.  Die atmosfeer van “liefde” word geskep. Dit is asof romanse in die lug hang wanneer jy die gebou betree. Dit alles om  normale inkopietogte te onderskep en inkopiegangers te laat val in die gekommersialiseerde strik wat Valentynsdag bind in rand- en sentwaarde veel eerder as liefde in aksiewaarde wat geen geld kan koop nie.

Vir baie word dit ‘n dag vol optof, glorie en glans!  Die dag word beplan tot in die fynste besonderhede. Sommiges wil nie net ‘n indruk maak nie, hul wil ook beïndruk. Ure en selfs dae word op die internet spandeer in die soeke na die mees indrukwekkende restaurant met die mees eksotiese disse op die tafel! Die rok, pak, blomme, geskenke word na gesoek en uitgesoek asof dit ‘n troudag is wat gaan plaasvind!  Niks word ontsien nie selfs al sou dit beteken om skuld te maak!

Waag dit om hierdie Valentynsdag die gekommersialiseerde strik te knip ter viering van lewe en liefde. Wys jou liefde in aksie vir jou eggenoot/eggenote volgens God se Woordriglyn hieronder vir jou uiteengesit.

Gee jou eggenoot 24/7/365 die geskenk van jou ware liefde in aksie as volg:

  1. DIE GESKENK VAN JOU LIEFDE MET TOEWYDING.

Sonder ware toewyding en konsekwentheid kan daar nie ware liefde en standvastigheid wees nie. Kommunikeer jou toewyding aan jou eggenoot/eggenote. Doen dit met woorde en dade daagliks. Die sterkte van jul toewyding sal die sterkte van jul verhouding bepaal.

Dien en bedien jou eggenoot/eggenote.

  1. DIE GESKENK VAN JOU LIEFDE MET OPOFFERING, SONDER SELFSUG EIE-BELANG.

Waar selfsug in ‘n verhouding sterf, bly net liefde oor. Dink so daaraan, selfs Jesus kon ‘n hele leёrskare van engele beveel het om Hom te kom red van die kruis, maar Sy onselfsugtige keuse van liefde om te ly en te bly vir ons het Hom weerhou daarvan. Stel jou eggenoot/eggenote en sy/haar behoeftes bo jou eie.

  1. DIE GESKENK VAN JOU LIEFDE DEUR DIE WAARHEID NIE NET TE PRAAT NIE MAAR OOK TE DOEN. Die waarheid is nie altyd gerieflik nie, maar dis altyd nodig. Die waarheid maak jou  nie net vry nie, dit bevry ook. Johannes 8:32. Geheimhouding is die vyand van intimiteit. ‘n Pynlike waarheid is altyd beter as ‘n bedekte leuen. Die waarheid kan jou duur te staan kom maar dit is altyd dit werd. Wees altyd te alle tye eerlik met jou eggenoot/eggenote. Geen geheime nie.
  2. DIE GESKENK VAN JOU LIEFDE WAT VREES VERDRYF. 1 Johannes 4:18. Liefde sonder vrees vereis deursigtigheid. Dit vereis van mens geloof veel meer as gevoelens. Kyk jou eie vrese en jou eggenoot/eggenote se vrese direk in die oog. Wees deursigtig met jou eggenoot in alles, met alles, deur alles.
  3. DIE GESKENK VAN JOU LIEFDE WAT GENADE BIED. Kolossense 3:13-14. Indien ons vergifnis  sou moes verdien sou ons dit nie genade kon noem nie. Indien ons dit kon verdien sou dit nie ware liefde wees nie. Griewe is soos muskiete, lastig! Vergewe jou eggenoot/eggenote en kyk sagter na die verlede. Die proses om vertroue te herstel mag dalk stadig en pynlik verloop, maar dit is dit werd wanneer julle aan die anderkant van die pyn saam in oorwinning staan, in die krag van om Hom Jesus Christus.
  4. DIE GESKENK VAN JOU LIEFDE WAT GENESING BRING. 1 Petrus 4:8. Wat ookal jy of jou eggenoot/eggenote gedoen het of wat ookal aan jou of julle gedoen is in die verlede, genesing is moontlik. Elke mens beleef pyn in een of ander vorm in hierdie lewe. God is teenwoordig in ons pyn en Sy Liefde gee mens die krag en dra mens deur die storm. Pyn lei altyd na ‘n kruispad. Mens kan kies om die pad te kies waar jy God wegstamp uit jou pad en Hom blameer vir jou pyn en uiteindelik sal die pad jou lei na bitterheid en dood, woestyn in jou lewe en liefde. Dis ‘n pad wat na nêrens sal lei. Dis nie ‘n pad wat na êrens lei waar God se plan vir jou lewe kan ontvou nie. OF mens kan die pad van heling kies. Mens kies om God te vertrou selfs wanneer jy nie verstaan wat gebeur nie. Wanneer mens hierdie pad kies word jou pyn ook heling wat bruikbaar word vir God, vir ander, om hul sterkte en hoop te gee op hulle lewenspad. Ek het geleer ware vrede is nie die afwesigheid van tragedie nie, maar eerder die teenwoordigheid van Hom wat groter is as die tragedie. Vertrou God ten alle koste.  God het ‘n doel vir jou pyn, ‘n rede vir jou stryd, en ‘n beloning vir jou getrouheid.
  5. DIE GESKENK VAN JOU LIEFDE VIR ALTYD, ‘N EWIGHEID. Wanneer ons  uiteindelik ware liefde ervaar, ervaar ons daarmee saam hoe dit ons transformeer, genees en heelmaak.  Soos wat ons liefde al dieper wortel skiet in waarheid en deur God se Gees, ontdek ons dat hierdie ware liefde onsself en ons lewens radikaal verander. Ons kan nooit weer wees wie ons was nie, ons groei van beter na beste. Wanneer jou eggenoot/eggenote besef jou liefde is waarlik ten volle onvoorwaardelik, verander dit alles ten goede.

PS: Die lewe is kort. Die ewigheid is lank, eindeloos. Kies Liefde. Lief jou keuse. 24/7/365!

DEEL
Vorige artikelAs armoede by die deur instap…
Volgende artikelZuma bedank!
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag, het L-I-G in die dag geword. Haar lewe het vlerke gekry, dis tyd vir joune.