Liefde is altyd die antwoord

1111

Liefde is nie ’n gevoel nie, dis ’n daad. Dis ’n werkwoord. Om ander lief te hê is altyd goeie medisyne. En dit werk vir almal!

Niemand is teen die liefde bestand nie. Dit maak ’n hart van klip sag en dien as salf vir ’n stukkende wêreld. Dis ’n taal wat almal kan verstaan en praat.

Jy het seker al gehoor van die Griekse woord agape in die Bybel. Dit verwys na God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom en mekaar. Hierdie liefde fokus op ander mense. Dit is hoe God liefhet – sonder voorwaardes of vooroordeel. Dit is ook hoe Hy wil hê Sy kinders moet liefhê.

Vra elke dag vir ’n hart vol deernis

Jy mag vra vir meer liefde in jou hart. Baie mense sê: “Ag, dis maar hoe ek is. Ek is soos my oupa. Moet niks fieterjasies van my verwag nie! Aanvaar my maar soos ek is. Ek sê wat ek dink!” Die waarheid is eintlik dat ons elke dag ’n keuse moet uitoefen om lief te hê. Dit is ’n doelbewuste besluit.

Deernis vir ander mense kan ook aangeleer word. Paulus sê trek die liefde aan soos klere. As ons ons beste voetjie vir belangrike mense kan voorsit, kan ons ook kies om liefdevol teenoor die winkelassistent of petroljoggie op te tree.

Ons het ook ’n goddelike opdrag gekry, en daarom is liefde nie net ’n gevoel nie. Ons moet die mense liefhê met wie ons nie altyd oor die weg kom nie, wie se persoonlikheid met ons s’n bots en vir wie ons nie aldag “lus” het nie. God is altyd lief vir Sy kinders, ten spyte van wat ons doen of wie ons is.

Moenie dat omgee net lippetaal bly nie

Om lief te hê is soos ’n plant wat voortdurende versorging nodig het. Dit floreer onder moeilike omstandighede, maar verwelk gou as dit verwaarloos word.

Paulus het die mense aangemoedig om God en mekaar lief te hê, want die dag van die wederkoms is naby. Die lewe gaan vinnig verby, en spyt kom altyd te laat.

Ek het onlangs my oom begrawe. Hy was ’n paar weke in die hospitaal voordat hy oorlede is. Toe ’n familielid my laat weet dat hy in die hospitaal is, het ek dadelik gedink ek moet by hom uitkom! Aan die einde van elke besige dag het ek vir myself gesê: Dalk sal ek môre ’n kansie kry om gou by die hospitaal ’n draai te maak. Ek wou graag ’n bemoedigende gebed saam met hom bid. Toe kry ek een oggend die nuus dat hy oorlede is. Ek was te laat!

Ons besige programme keer dikwels dat ons die allerbelangrikste opdrag uitvoer, naamlik om verhoudings te koester en ander hoër te ag as onsself.

Mense verander as hulle sonder voorwaardes aanvaar word

Jare gelede het ’n professor vir sy sosiologieklas opdrag gegee om in die agterstrate van Baltimore rond te gaan en verslae oor 200 jong seuns te skryf. Hulle moes voorspellings maak oor elke kind wat daar grootword se toekoms. Die studente se gevolgtrekking was elke keer dieselfde: dat daardie kinders geen kans gestaan het om sukses in die lewe te behaal nie.

Vyf-en-twintig jaar later het ’n ander professor die studie gelees en besluit om dit op te volg. Met die uitsondering van 20 van die mans wat weggetrek het of dood was, het 176 van die oorblywende 180 wat deel van die navorsing uitgemaak het, bogemiddelde sukses behaal as prokureurs, dokters en besigheidsmanne. Slegs vier van hulle was in die tronk.

Die professor was verbaas. Hy het toe met almal kontak gemaak en hulle antwoord was byna elke keer dieselfde: “Ek het ’n onderwyser gehad!” Hy het die onderwyser, wat toe nog gelewe het, opgesoek en wou haar geheim vir sukses weet. Sy het geantwoord: “O, dis eenvoudig. Ek het hulle liefgehad.”

Natuurlik sal daar mense wees vir wie jy moeilik lief kan wees, maar gelukkig kan die Vader jou hiermee help. Hy sal Sy liefde vir mense in oorvloed in jou hart uitstort as jy Hom vra. Dan kan jy die genesende salf vir ’n stukkende wêreld wees.

Liesel Krause-Wiid, predikant

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.