Liefde is ’n groter motivering as wat sukses ooit kan wees

0
515

Die jongmense in ons Echo-gemeenskap kom uit gebroke huise. Baie van hulle het erge gedragsprobleme. Van hulle sit met wonde toegedien deur wrede ouers. Ander se ouers is dood of opgesluit.

Nou die aand gesels ek met van die leiers wat saam met hierdie jongmense woon. Aan die een kant is hulle ’n eienaardige spulletjie, ’n vreemde klomp wat kies om meer te doen as om net nou en dan uit te reik. Mense wat die keuse maak om elke aspek van hulle lewens te deel met van die weerloosste jongmense in ons samelewing.

Hulle help met vervoer en kosmaak en huiswerk. Hulle huil saam oor afwesige ouers, teleurstellings en swak punte. En droom saam oor die toekoms, raas oor deurmekaar kamers… soos mense wat vir mekaar omgee in ’n gesin maar doen.

Aan die ander kant is hulle eintlik heel “normaal”. Twee van hulle is onderwysers, een ’n ingenieur, ’n ander een is ’n maatskaplike werker. Daar is ’n argitek, ’n bourekenaar, ’n kelnerin, dominee en student.

Van hierdie mense woon al meer as sewe jaar saam met moeilike tieners. Hulle kry geen salaris daarvoor nie, maar doen dit bloot omdat hulle omgee en glo dat Christene mense is wat alles deel (Handelinge 2 en 4).

Die jongmense saam met wie hulle woon, gaan deur al die gewone tienerfases en nog meer dinge. Daar is gereeld woedeuitbarstings, moeilikheid by die skool, dwelmprobleme, diefstal, harde musiek, wegloop en terugkom, kattekwaad, verhoudingsprobleme.

Dit alles in ’n omgewing waar daar min persoonlike ruimte en min vrye tyd is. Elke nou en dan is daar die een of ander nuwe krisis om te hanteer.

“Wat maak dat julle nie opgee nie?” Die oorsprong van my vraag was ’n storie wat iemand vertel het van sendelinge wat in die Amasone onder ’n groep onbereikte mense werk. Vir meer as twintig jaar was daar nie ’n enkele bekeerling nie. Toe is daar skielik ’n herlewing en kom amper die hele stam tot bekering!

Wat veroorsaak dat ’n mens so lank aanhou sonder enige resultate? In ’n poging om by ’n antwoord uit te kom, het ek ons eie leiers eers stories laat vertel van jongmense wat al saam met ons gewoon het. Die mooi suksesverhale, maar ook die hartseer, tragiese stories.

Party jongmense is vandag gelukkig getroud en goeie ouers vir hulle kinders, hoewel hulle self nie ouers gehad het nie. Hulle kon die bose kringloop verbreek.

Van hulle is self besig om ’n verskil te maak deur ander kinders in nood te help. Ander het in die tronk of op straat beland en meer as een is dood aan ’n oordosis dwelms.

Die beste antwoord wat ek kon kry, was dat hulle aanhou probeer en nie opgee nie omdat hulle grootste strewe nie is om suksesvol te wees nie. Hulle gee nie hulle lewens vir hierdie kinders omdat hulle weet hulle gaan verander nie, maar omdat hulle glo dis die regte ding om te doen.

Iemand wat suksesvol wil wees in ons bedryf het baie redes om op te gee. So ook daardie sendelinge in die Amasone. Na so ’n lang tyd sonder sukses het jy sekerlik genoeg rede om te sê: “Dit het nie gewerk nie, kom ons hou op!”

Maar hierdie mense se groot motivering is nie in die eerste plek om suksesvol te wees nie, eerder om gehoorsaam te wees. Dis in die proses van gehoorsaamheid dat jy weerloos naby begin beweeg aan die mense na wie God jou geroep het. So naby dat ware empatie in jou hart kan groei.

En voor jy jou kom kry, is liefde jou motivering – die sterkste van alle motiverings. Jy kry die krag om aan te hou, al is jy seer en moeg. Al is daar geen resultate nie en het jy genoeg rede om op te gee.

In Matteus 9 vers 13 sê Hy: “Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’” Ons word gewoonlik gedryf deur drie dinge: hoop op ’n beloning, vrees vir straf en skuldgevoelens. Jesus kom leer ons van ’n groter motivering: liefde.

Jaco Strydom is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

Koop Jaco se boek Confessions oor Kerkwees aanlyn by voelgoedboeke.co.za