“Liefde” is ’n woordjie wat ons maklik gebruik

2267

Teen ons yskas is ’n magneet met ’n foto van ’n ou oom en tannie wat hand aan hand kaal in ’n dam in hardloop. Dis net plooie en boude!

Die foto is gelukkig van agter af geneem. Onderaan staan: “How beautiful is love that stood the test of time”.

Die woord “liefde” word maklik gebruik. Dalk té maklik. ’n Ou sal sê hy is lief vir bier, lief vir rugby, lief vir sy hond en lief vir sy vrou. ’n Mens kan lief wees vir jag, vir vakansie hou, vir roomys eet en vir fliek.

“Making love” of “om liefde te maak” beteken dikwels in musiekvideo’s en op TV seks met iemand wat vir jou aantreklik is, maar vir wie jy nie noodwendig omgee nie.

Daar is meer radikale voorbeelde. Die skaapboer wat sê hy is lief vir sy skape, maar hulle net goed versorg en beskerm sodat hy hulle later kan eet. Die visserman wat sê hy is lief vir visse.
Eintlik bedoel hy “visse smaak baie lekker” – ek is een van daardie manne!
Baie mense sal dalk ’n jagter glo as hy sê hy is lief vir wildediere, maar nie ’n koedoe, ’n rooibok of ’n vlakvark nie…

Dis nie noodwendig verkeerd dat ’n woord soos “liefde” op verskillende maniere gebruik word nie.
Woorde het tog selde net een vaste betekenis. Die werklike betekenis van woorde kom eers binne ’n bepaalde konteks na vore.

Dit kan egter maak dat wanneer ons aan liefde vir mekaar of liefde vir God dink, ons in die slaggat val dat dit binne hierdie konteks bloot daaroor gaan dat daar iemand is wat die lewe vir my lekker maak.

Jesus het vir ons ’n ander definisie van liefde deur Sy woorde en Sy lewe kom gee. Volgens Hom gaan liefde daaroor dat ek iemand ontdek het vir wie ek my lewe sal aflê.

Sy liefde gaan oor selfopoffering. Dit maak dat jy, in jou poging om verandering en groei te bewerkstellig, eerder bereid sal wees om pyn te beleef as om pyn te veroorsaak.

Tog sê Hy dat ware vreugde, die tipe vreugde wat ons dieper dors les, juis in hierdie soort liefde te vinde is, want “om te gee maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang”. Dis hierdie tipe liefde wat die toets van tyd deurstaan.

Dit bring mense weerloos naby aan mekaar. Dit is natuurlik ’n risiko, want die mens naaste aan jou kan jou die seerste maak. Aan die ander kant is daardie persoon ook die een wat jou die gelukkigste kan maak. Dit is eers wanneer ons voel dat ons werklik geken word dat ons kan voel ons word werklik liefgehê en aanvaar.

Volgens Jesus se gebed in Johannes 17 is ons eenheid met mekaar ons grootste getuienis in die wêreld.’n Ou oom en tannie wat na al die jare nog skinny-dip, het nie nodig om moeite te doen om die wêreld te oortuig dat liefde kan wen nie. Hulle lewens praat reeds hard genoeg.

JACO STRYDOM is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.