Liefde met die eerste oogopslag

0
190
john_henry.jpg

John-Henry Opperman en Beáte se liefdesverhaal lees soos iets uit ’n sprokie. Al hulle drome word waar.

John-Henry Opperman, talentvolle musikant, akteur en skrywer, het nie gehuiwer om op sy knieë te gaan om die jawoord te vra nie. Na nege jaar se sleep, was hy oortuig daarvan dat die liefde van sy lewe sy vrou moes word.

Van blind date na beminde

JOHN-HENRY: Ek het al heelwat van Beáte gehoor voordat ek haar met ’n oog gesien het – hierdie mooi meisie oor wie my beste vriend net nie uitgepraat kon raak nie. Nou ja, wat anders het ek dan ook verwag? Hy was immers smoorverlief op haar suster. Min het ek geweet dat dieselfde lot mý ook sou tref. Die Olwagen-susters sou nog ons al twee se sake vir ons werk.

“Sy is net die girl vir jou, jy móét haar leer ken,” het Herman aanhou raad gee.

“Jy weet ek hou nie eintlik van blind dates nie,” het ek probeer keer, maar hy het hom nie aan my gesteur nie. Later het ek ingestem om haar te ontmoet, net om hom stil te kry. Of so het ek gedink.

Verkeerd! Die pragtige blouoogmeisie het gekom om te bly en alles te verander. Ons het sommer dadelik gekliek. Van pretensie was daar geen sprake nie. Hierdie meisie het feitlik niks van my band Klopjag geweet nie en ook nie ons musiek geken nie. Ek het nogal daarvan gehou. By haar kon ek net John-Henry wees, heeltemal ontspanne. Vir my was dit belangrik. By Beáte was ʼn spontane verhouding maklik.

Maar ek wou graag hê sy moes my saam met die band sien optree. “Kom saam,” het ek genooi toe ons die aand by Maloney’s in Pretoria speel. Sy het instem. Daardie aand was dit asof ons ekstra mooi musiek gemaak het. Agterna wou ek alleen by haar wees, weg van die chaos en die massa mense. Ons het ontsnap na ’n Quick Shop verder af in die straat om lemoensap en jelly tots te koop.

Ek dink die a-ha!-oomblik, toe ek besef het sy sou nie net nóg ’n meisie wees nie, het my getref nog voor ek ʼn sluk lemoensap kon vat. Daarna, wanneer en waar ek ook al musiek gemaak het of lirieke geskryf het, was Beáte altyd deel daarvan. Wanneer ek saam met my band sing: “Baby, as ek verbyry, (moet jy smile) vir my as jy saam wil ry,” is sy in my gedagtes.

[pagebreak] BEÁTE: “Hy is Klopjag se hoofsanger en hy lyk soos John Lennon.” So het Herman, my sus se kêrel, John-Henry by my opgehemel, maar ek wou van niks weet nie. Ek het by Marilu in die Seychelle gekuier en my kop was nie vol muisneste nie.

“Maar julle sal goed by mekaar pas,” het Herman my probeer oortuig.

“Man, ek gee nie om as die ou vir my wil kom kuier nie, maar ek soek nie ’n kêrel nie.” Toe bel John-Henry my en ons raak aan die gesels. Sommer lekker aan die gesels ook. Die eerste keer toe hy by die koshuis opdaag, het ons gaan roomys eet. Nog voor die einde van die aand, het ek geweet dis nie net die roomys wat die soet smaak in my mond veroorsaak nie.

Ons stem egter nie oor alles saam nie. Al hou ons min of meer van dieselfde musiek, kry ek vanaf my prille jeugjare ’n effense guilty pleasure uit Hip Hop en luister graag na Dr Dre en Eminem. John-Henry spot my nogal hieroor.

’n Ou wat in ’n rock band die kitaar slaan, wat al die romantiese hoofrol in ’n film (Musiek vir die Agtergrond) gespeel het en so ’n kleurryke mens is, kan nie juis as ’n bleeksiel bestempel word nie. Tog beskryf John-Henry homself soms as ’n nerd. Gelukkig is ek mal oor nerds – veral hierdie spesifieke een!

Die dag van ons drome

JOHN-HENRY: Blomme! Bosse en bosse blomme! Dis een van die baie mooi herinneringe wat ek altyd aan die troue sal hê. Veldblomme, lieflike, kleurvolle blomme, wat ons die Vrydag voor die troue in kleiner bossies verdeel en in ’n horde houertjies gerangskik het. Ons het die fairy lights en die vlaggies opgehang. Alles was so mooi en spesiaal.

Daar was van die begin af ’n vonk tussen my en Beáte, maar ek het nie toe al daarvan kon droom dat hierdie dag vir ons sou voorlê nie – al het ek ook gou genoeg besef dat sy die vrou vir my is. Maar nou ja, ek was nog altyd ’n late bloomer en ek het gewag vir die tyd om ryp te word. Ek is nie regtig ’n maanskyn-en-rose-ou nie, maar die aand toe Beáte ja gesê het, was beslis ’n spesiale maanskyn-ervaring. “Dis ’n voorreg om jou in my lewe te hê,” het ek gesê, “ek sal dit graag vir altyd so wil hou.” Ek het vooraf stilletjies een van Beáte se ringe om ’n Pritt-buisie laat gly om die mate te neem. Die ring het presies om die buisie gepas; daarom was ek doodseker die verloofring sou net so perfek om haar skraal vinger pas. Dit het egter nie en ons moes dit later laat kleiner maak.

Toe breek die Saterdag aan.

[pagebreak] Ek is baie bly ons het besluit om die seremonie en onthaal by Neethling’s Place in die skadu van die Waterberg te hou. Dis die pragtigste plek en ek wil dit vir altyd so onthou. Die asemrowende omgewing, die groen veld, was presies wat ons vir ons Bosveld-troue wou hê. Die weervoorspelling was nie heeltemal wat ons wou hoor nie: “Daar is ’n 100%-kans dat dit teen vyfuur Saterdagmiddag gaan reën,” het die weerprofete voorspel. Maar dit het nie! Selfs die weer het saamgespeel. Dit het net een keer effens gedrup, maar nooit regtig gereën nie.

My broers het van ver af gekom om in my vreugde te deel. Die lede van die Melktert Kommissie was daar en nog gaste het van oraloor opgedaag om saam fees te vier. En natuurlik... toe ek op die dek staan en Beáte in die gangetjie afgestap sien kom, wou my hart gaan staan, so ongelooflik mooi het sy gelyk.

Die troue het my wildste verwagtings oortref. Ag, dit was regtig só mooi. Ek kon vir niks meer gevra het nie, dit was nou sommer net great! Glo my, ek is dankbaar om te kan sê: Die lekkerste troue waarby ek nog ooit was, was my eie!

BEÁTE: John-Henry se huweliksaansoek was ’n heerlike verrassing. Ons is Namibië toe onder die voorwendsel dat ons in Sossusvlei sou gaan foto’s neem. Daardie aand sou ons op ’n wildrit gaan. Toe ek teen sonsondergang sien die wildbewaarder begin verwoed sjampanje uitpak, wou my hart by my keel uitspring. Die opgewondenheid was toe ook nie verniet nie. Dit was ’n storieboekoomblik – die asemrowende sonsondergang in die woestyn, ons wat langs mekaar op ’n groot klip sit. John-Henry, wat homself nie as ’n romantikus beskou nie, het gesorg dat ek nooit die oomblik sal vergeet toe hy letterlik op sy knieë gegaan het om die jawoord te vra nie. Hy het selfs voor die tyd ’n tafel met allerhande happies daar laat neersit sodat ons later onder die sterre kon sit en peusel. En natuurlik sjampanje kon drink om die groot gebeurtenis te vier. Om ons was daar ’n vredevolle en amper boaardse stilte.

Ek is grootgemaak met ’n voorliefde vir die bos, en dit was eintlik vanselfsprekend dat ons in die buitelug sou trou. Alles omtrent die troue was asemrowend mooi! Die moeite wat ons gedoen het, was nie verniet nie. Ek was min of meer ’n doen-dit-self-bruid en het dit geniet om die meeste van die versierings vir die troue self te maak. Natuurlik het ek hulp gehad. Nie net my suster en my ma nie, maar vriendinne en familie het ingespring met raad en liefde en bystand. Elke mens wat by die troue was, het ’n integrale rol in ons reis saam gespeel. Ek glo elkeen wat op ons pad gekom het, was daar vir ’n rede. Ons het soveel spesiale mense in ons lewe vir wie ons God maar net kan dank.

Ek het altyd gedroom van ’n trourok waarin ek tuis sou voel, gemaklik sou wees – en dis presies wat ek reggekry het. My rok het my persoonlikheid weerspieël. Sjoe! Dit het omtrent ’n soektog afgegee om iemand te kry om dit te maak, maar Joss van Joss Bridal was net die regte persoon daarvoor.

My troudag was ’n droomdag. Ons geluk is beseël, glo ek. Later daardie aand, toe alles stil geraak het, was dit nog net die naggeluide wat gehoor kon word. Die stilte het vredig om ons gevou.

Nooit weer sal ek na die wonderskone klanke van Pearl Jam se Future Days kan luister sonder om te onthou hoe ek in die paadjie afgestap het nie. Nader aan die man van my drome en ’n nuwe toekoms saam met hom. If I ever were to lose you, I'd surely lose myself!

Kliek hier vir die fotoalbum van die troue