Liefde wat blom

0
62
andre_venter.jpg

Sonder ’n stewige fondament stort ’n gebou ineen. Oud-Romanz-lid André Venter en sy Alphia vertel hoe hulle hul huweliksgebou staande hou.

lyn_3.png

GRATIS

Kliek en laai jou gratis e-boeke (Lyfslim vir Seuns of Lyfslim vir Meisies, deur Gretha Wiid) af.

Gebruik die afslagkode SEPT16 wanneer jy die e-boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 11 September 2016.

lyn_3.png

Sonder ’n stewige fondament stort ’n gebou ineen. Oud-Romanz-lid André Venter en sy Alphia vertel hoe hulle hul huweliksgebou staande hou.

“My tyd by Romanz was absoluut ongelooflik, maar soms het ek gewens Alphia was langs my om dit met my te deel. ’n Herinnering beteken baie meer as die liefde van jou lewe by jou is. Dit is tog uiteindelik die stories wat jy eendag aan jou kleinkinders kan oordra,” vertel André.

“André was altyd daar met die groot goed. Hy het darem nie ’n kind se geboorte misgeloop nie,” skerts Alphia. “In die week as ek besig was met die kinders, het die alleenheid nie gepla nie, maar naweke was erg. Dan wou ek nie alleen wees nie.”

“Toe Romanz op prinses Charlene se troue in Monaco sou sing, was die aanvanklike reëling dat die vrouens kon saamgaan,” vertel André verder. “Toe ek die epos ontvang dat dit nie meer moontlik was nie, het ek op die daad ’n vliegtuigkaartjie vir Alphia gaan koop. Ek het net besluit dat sy daardie dag by my gaan wees. Ek probeer altyd om die laaste vlug weg en die eerste vlug terug te bespreek sodat ek so lank as moontlik by my gesin kan wees.

“Toe ek die volkslied voor ’n Springbokwedstryd in Brisbane gesing het, was sy nie daar nie. Op daardie oomblik sou ek wat wou gee dat sy daar kon wees. Noudat ek ’n solo-loopbaan het, het ek gelukkig meer seggenskap oor my program. Met ons drie kinders se skoolaktiwiteite is dit nie altyd vir Alphia moontlik om my te vergesel nie, maar ons sal daar kom, ek weet.”

’n Man moet luister as sy vrou praat

André en Alphia deel al vir bykans twee dekades herinneringe. “Ons is vanjaar 17 jaar getroud. Ek onthou die oomblik toe ek Alphia raakgesien het baie goed,” vertel André. “Vir my was dit regtig liefde met die eerste oogopslag. Ons was saam op universiteit. Sy het sulke pers strepies in haar hare gehad. Dit was mode daardie tyd.”

“Hy het van ’n motorfiets afgeklim toe ek hom die eerste keer sien. Hierdie groot man,” onthou Alphia.

Haar rustige energie is iets wat André van die begin af van Alphia onthou. “Sy het net hierdie stille wysheid wat haar omring. Ek is weer ’n besige outjie. Miskien word ’n mens maar aangetrek deur die energie wat vir jou bestem is.”

Dis hierdie einste wysheid waarna André graag luister. “Alphia sien dinge net op ’n ander manier. Ek neem nie groot besluite sonder haar nie. Dis asof sy die emosionele kant by dinge inbring. Ons sal oor die kinders praat en dan sal sy iets sê soos: ‘Ja, maar dink ’n bietjie hoe hy voel.’

“Ek funksioneer nie so nie; daarom is dit vir my belangrik om na haar te luister. Ek dink baie mans doen dit nie, en vir my is dit een van die belangrikste boustene van ’n gelukkige huwelik.”

VIDEO: Deur werklik te luister dien jy jou maat in liefde.

Maak ’n roetine vir wanneer julle bymekaar is

“Met Romanz was ons meer in die groeplede se geselskap as by ons gesin. Skype en die telefoon is maar net nie dieselfde as om in iemand se oë te kyk en gedagtes te deel nie. Op die oomblik geniet en waardeer ek elke oomblik saam met Alphia.

“Geloof is vir my die basis van ’n verhouding. Een van die dinge wat ons die afgelope jare nie kon doen nie was om as ’n gesin saam kerk toe te gaan. Dit is vir my wonderlik om nou vir my gesin dieselfde Sondagroetine te gee wat ek as kind gehad het: Gaan in die oggend kerk toe, koop ’n koerant na kerk, eet ’n lekker Sondagmiddagete. Sulke gebruike en gewoontes is waarna kinders eendag terugkom.

“Op dieselfde manier is ’n sekere roetine ook in ’n verhouding nodig. ’n Mens het daardie tye alleen by mekaar nodig, want hoe anders bly julle in kontak met mekaar se gedagtes en drome idees. Ek toer nog steeds nou en dan, maar as ek by die huis is, probeer ek om Alphia gereeld in die oggend uit te neem vir koffie. Gelukkig is daar in die Kaap meer as genoeg plekke om vir die volgende vyftig jaar te besoek.”

Daar moet vertroue in ’n verhouding wees

“My insluiting by Romanz het letterlik oornag gebeur. Die een oomblik het ek nog vir ’n oudisie gegaan en binne ’n maand is ons eerste CD opgeneem. Ek het eerlikwaar nie geweet wat hierdie lewe gaan behels en watter invloed dit op ons huwelik sou hê nie. Gelukkig was ek en Alphia al getroud, want ek het in hierdie bedryf gesien hoe vertroue tussen maats verbreek kan word.

“Romanz se teikenmark was meestal vroulik en ná vertonings sou gehoorlede met ons kom praat, maar ek het my nie juis aan die aandag gesteur nie. Ek het my net nie aan moeilike situasies blootgestel nie. Alphia sou my soveel as moontlik na funksies vergesel en as ek alleen moes gaan, het ek nooit lank gebly nie.”

Alphia beaam dit. “André is ’n ongelooflike caring persoon. Hy bel gedurig en wil altyd weet waar ons is, of ons veilig is. Dit is wat ons deur daardie tyd getrek het. Dan doen hy ook altyd moeite om vir my en die kinders briefies te los voor hy weggaan. Dit alles help om vertroue te skep.

“Gelukkig is ek ook van nature nie ’n jaloerse mens nie. Ek verstom my soms net aan wat vroue vir André op Facebook skryf. Een skryf nou die dag: ‘Ek sal nie omgee om my skoene onder sy bed in te skop nie.’ In my lewe sal ek dit nooit vir ’n man sê of skryf nie. Toe ek André vra of hy dit gelees het, het hy dit nie eers raakgesien nie. Hy lees gewoonlik bo-oor die goed. Meestal lag ons daaroor.”

“Ek ry nou die dag by ’n begraafplaas verby en toe ek die hopies so sien,” vertel André, “besef ek maar net weereens hoe kort die lewe is. Wat ’n vermorsing van tyd as jy nie jou drome uitleef of jou lewe deurbring saam met iemand wat nie by jou pas nie.

“Ek is gelukkig, want ek het al twee gekry – my droom om ’n musikant te wees en ’n vrou wat tot die dag van my dood langs my sal wees. Op die oomblik is Alphia baie besig met die kinders, maar eendag as die tyd reg is, sal ek haar wil help om haar droom te verwesenlik, wat dit ook al in daardie stadium mag wees.”

lyn_3.png

KOOP AANLYN

‘n Bybeldagboek vir vroue deur 52 vroue wat van God se grootheid getuig.

Kliek hier en bestel die boek, God is Groot, teen 50% afslag.

Gebruik die afslagkode GIG16 wanneer jy die boek in jou mandjie sit. Aanbod geldig tot 11 September 2016.

lyn_3.png