Liefde & Wellus. Die verskil.

liefde

Liefde beskadig nie. Wellus beskadig.  Dit is die verskil.

Die manier waarop God liefde definieer teenoor die wêreld se beskouing en belewenis is  nie eens naastenby dieselfde ding nie! Om eerlik te wees, in vandag se tyd en era waarin ons leef weet baie min mense nog werklik wat liefde is. Daarteenoor, ken die wêreld wellus alte goed.

Hoe lyk wellus, in ‘n hart volgens God se Woord ? Ek kan dit nie eenvoudiger verduidelik nie: wanneer jy by ‘n ontbyt eetplek verbyloop, staar jy na die borde met spek en eiers en kort voor lank geniet jy daardie ontbyt in jou hart. Jy begeer dit vir jouself! So is dit met wellus. Jy begeer iets of iemand in jou hart, wat nie joune is nie, dit is wellus.

Vir die wêreld is liefde ‘n sterk warm gevoel  wat jy vir iemand of iets het.  Dit kan verskeie vorme aanneem, soos bv: die liefde van ‘n ouer vir ‘n kind, liefde vir lees, liefde vir eet,  liefde vir drank, liefde vir dwelms, liefde vir inkopies. Die lys is eindeloos. Sommige hiervan is goed, ander kan lei tot verwoesting, vernietiging.

Liefde beskadig nie. Wellus beskadig.  Dit is die verskil.

Liefde bly. Wellus gooi weg.

Liefde is diep. Wellus is oppervlakkig.

Liefde is eerlik. Wellus is oneerlik.

Liefde is God-gefokusde vertroue.  Wellus is misplaaste selfvertroue.

Liefde fokus om jou maat se behoeftes te bevredig. Wellus fokus om jou eie behoeftes te bevredig.

Liefde gee. Wellus neem deur obsessie.

Liefde is getrou. Wellus is ontrou.

Liefde is heilig. Wellus is boosheid.

Liefde kommunikeer. Wellus manipuleer.

Liefde kies. Wellus gebruik.

Liefde is lojaal. Wellus is dislojaal.

Liefde is lewensgewend. Wellus is lewensnemend.

Liefde is lewenslank. Wellus is tydelik.

Liefde oorwin alles. Wellus steel, verwoes en vernietig.

Liefde offer op, vir jou maat, selfs ten koste van jouself. Wellus is selfsugtig, soek slegs eie-belang.

Liefde is persoonlik. Wellus is objektief rondom begeerlikheid.

Liefde reageer sensitief. Wellus is onsensitief.

Liefde is rein. Wellus is onrein.

Liefde is respek. Wellus is eie-ek.

Liefde simpatiseer, empatiseer. Wellus is selfsugtig, kritiseer.

Liefde sien die beste en die slegste, tog verbind. Wellus is blind.

Liefde is standvastig. Wellus is losbandig.

Liefde is vergenoegd. Wellus is onvergenoegd, onversadigbaar.

Liefde is ‘n werkwoord. Wellus is ‘n fantasie waaroor jy droom.

Liefde waardeer. Wellus intimideer.

Ten slotte: Bewaak jou hart. 1 Kor 13 wys ons dat liefde wat God gefokus is nie op gevoelens of woorde gebaseer is nie maar in liefde wat deur dade gewys en bewys word. Liefde is ‘n werkwoord. Dis meer wat jy doen eerder as wat jy deel of dink. Natuurlik moes Jesus ook daaraan dink dat Hy nie lus was om Sy lewe af te lê vir ons nie, tog is die kruis bewys daarvan dat Sy liefde vir ons ‘n keuse was vêr bo gevoelens. Dit was liefde in aksie tot ons voordeel ten koste van Homself. Dit is die voorbeeld van ware liefde en so wys Hy ons ook om in Sy voetspore en voorbeeld van ware liefde te volg. Romeine 5:8.

PS: Die realiteit is, wanneer jy vanuit wellus gedrewe word sal al die mooi gesigte en lywe in hierdie wêreld nie genoeg wees vir jou nie, want dit sal nie jou wellus versadig nie. Jy sal soek en nooit vind nie, leeg bly keer op keer want dit wat jy daar buite soek is eintlik binne jou te vind. Liefde in God. Dit alleen sal jou honger en dors stil, jou lei na ware liefde, vervulling vergenoegdheid en vrede. Vrede met God, vrede met jouself, binne jouself.

Vorige artikelOnder in my winkelsak
Volgende artikelOor dankbaarheid
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za