Liefdes briewe in die storm

Ons huweliksbootjie is getoets tot die uiterste toe. Die rukwinde en golwe om ons, het Hurricane Katrina na ‘n laerskool dans uitvoering laat lyk!

Kenmerkend aan ‘n storm, het dit ook die vermoë om soveel geraas te maak dat die nood-kreet uit elkeen se hart deur die wind verwaai word.

Stuk vir stuk het die storm ons boot vernietig. Ons het selfs oorboord begin kyk en oorweeg om te spring – met of sonder reddings-bootjie –  hier wou ons uit!

Eindelik het ons wrak op die vasteland uitgespoel. Die golwe het gaan lê en die winde het weer begin fluister, elke storm moet tog een of ander tyd bedaar.

Ons het om ons rondgekyk na die stukkies dryfhout wat eens ons tuiste en veilige hawe was. Stilte.

Ek wonder hoe ons lewendig aan die ander kant uitgekom het en dan kom wys God my die mooiste, kosbaarste geskenke, soos kosbare edelgesteentes in ons hemelse skatkamer.

Die liefdes briewe wat ons vriende namens ons geskryf het toe ons swak was speel soos ‘n sagte melodie om ons. “Beskerm hulle Here, sodat hulle skip tog net nie sink nie”….””Beskerm hulle band Here, hulle is deur U verbind aan mekaar.” …. “Vader, versterk hulle tog.“

Deur die gebede van ons geliefdes staan ons vandag veilig op die vasteland. Ons bootjie is dalk vlenters, maar God het belowe “Hy maak alles nuut!”

As jou huwelik vandag in ‘n storm vaar, skryf ek hierdie liefdes-brief oor jou: “Vader, laat hul ongedeurd deur hierdie storm vaar. Bewaar tog hulle verbintenis aan mekaar. Laat U stem hulle bemoedig en versterk. Moet tog nie dat hulle oorboord spring nie Here. Laat U waarheid hulle kompas wees totdat hulle veilig op die vasteland kan staan en getuig van U oorwinning. Dankie dat U ook vir hulle alles nuut maak. Laat ons tog nooit ophou om liefdes-briewe oor mekaar se lewe te skryf nie Here. Amen.”

Hou moed see-man, Jesus is jou ware Noord!