Liefdesopenbaring gesoek?

om ander te dien

Ek weet jy het nou na die see gestaar, of na die sonsopkoms in die bosveld of in die Kalahari dalk na die oopte, en jy het vir die Here gesê: “Here, ek wil U so graag die jaar beter leer ken.”

So ek het vir jou ‘n sleutel om daardie versugting waar te maak. Dit is glad nie so misterieus as wat dit mag voel nie, Hy het vir ons broodkrummels ooral in die Bybel gelos om te volg tot in Sy hart… as ons bereid is.  As ons dit regtig soek.

Die beste plek om te begin is mos by wie Hy is, en ons almal weet mos Hy is liefde.  Maar hier kom die sleutel.  God is liefde, ja, en die manier wat Hy dit uitdruk is met diensbaarheid.  Ons dien ‘n magtige God wat dien.  So soveel as wat die pad na ‘n man se hart sy maag (of dalk sy ego) is, net soveel is die pad na die hart van die Here… jou nederige bereidheid om te dien!  Want dit is wie Hy is.  Hy is ‘n dienaar.

Om die Here te ken, lei ALTYD na liefde, want Hy is liefde, en daardie liefde word altyd uitgedruk in jou liefde vir ander.  Een van die oomblikke wat elke een van die dissipels wat evangelies geskryf het bygebly het, was daardie oomblik toe Jesus, God en Heerser van die heelal, ‘n dienskneg voorskoot aangetrek het om hulle vuil voete te was.  Toe sê Hy iets wat die res van hulle lewens gedefineer het… iets wat Hy tot vandag nog doen daar langs die Vader op die troon.

Markus 10:44-45, Matt 23:11, Lukas 22:27 en Johannes 13:14

Ek is onder julle soos een wat dien… en as iemand die eerste wil wees, moet hy laaste van almal wees en almal se dienaar wees.

Hoekom is diensbaarheid so ‘n gewaarborgde konneksiepunt met die hart van Jesus?  Want dit is presies waar Hy is.  Dit is waar Hy aan die werk is, aan die voorsien is, aan die bid is… daar waar mense arm van gees is, ly, hartseer is… daar waar mense nodig het dat iemand omgee, dit is waar Hy is.  Wil jy Sy hart raak?  Soek jy bonatuurlike openbaring van God?  Wees wat Hy is en waar Hy is in 2020.  ‘n Dienskneg aan die dien.

Jy dien met jou tyd, jou hulpbronne, jy dien as jy luister, as jy iemand liefhet (veral as hulle dit nie verdien nie), jy dien wanneer jy bid vir jou vyande… dan dien jy, en dan gebeur daardie kosbare konneksiepunt met die hart van die Koning, wat jou liefde so geniet.

Mag niks ons keer om in 2020 laaste wees nie.  Mag ons beskikbaar en bereid wees om ALMAL te dien, net soos Jesus, net vir die voorreg om Sy hart te mag ken soos nog nooit tevore nie.

Vorige artikelT-r-u-s-t
Volgende artikelBobotieburgerpattie
Blogger - Janine van Niekerk
Janine van Niekerk is 'n media evangelis, getroud met Cecil van Niekerk en ma van Paul en die tweeling, Elmien en Leilah. Sy is 'n gospelmusiekkundige, bestuurder van Retief Burger, omroeper by Radiokansel 657AM, betrokke by verskeie eenheidsbewegings en baie aktief in media; wat verskeie radiostasies, TV, skryfwerk en sosiale platforms insluit. Aangename Kennis, Here is deur haar gepen en sy het ook 'n hoogs suksesvolle uitreik CD, die StuurwielStories, anoniem opgeneem, waar die Agies basiese radikale Christenskap ontdek.