Liefhê tot die bloed loop

Gister gaan bring ek die Boodskap in die Vallei en oppad luister ek na Tannie Joyce…

“Loving people is the highest form of spiritual warfare.
Every time you choose not to be offended, you gain the victory.”

Hel, outjies, dis moeilik. Maar soos soveel ander moeilike goed in die lewe van ‘n kind van Jesus, moet ek onthou dat die Here selfs dít in my hart kan bewerk sodat dit natuurlik kom. True story.

Ons is almal bekend met Jakobus 4:7 wat sê dat wanneer ek die duiwel weerstaan, hy van my SAL wegvlug. Maar besef jy daar is ‘n deel wat gewoonlik oorgeslaan word? Vers 7 begin eintlik met die volgende woorde:

“Surrender to God!”

Dis nie vir my ‘n verassing dat dit gewoonlik oorgeslaan word nie. Want naas ‘nie aanstoot neem nie’, is ‘surrender to God’ seker een van die moeilikste goed vir hardkoppige, eiewil, mensekinders om te doen.

In The Message vertaling staan geskrywe:

“So let God work his will in you.
Yell a loud ‘no’ to the Devil and watch him scamper.
Say a quiet ‘yes’ to God and He’ll be there in no time.”

Dan voel ons harte sommer beter en ons tel ons koppe op.

Daar is egter ‘n vereiste vir diep en langdurige verandering. Vers 8-10:

“Quit dabbling in sin.
Purify your inner life.
Quit playing the field.
Hit bottom, and cry your eyes out.
The fun and games are over.
Get serious, really serious.
Get down on your knees before the Master;
it’s the only way you’ll get on your feet.”

‘Loving people’ ís ‘serious business’.

Die vyand sal jou uitdaag om moeilike mense lief te hê, ongeskikte mense lief te hê, mense wat anders dink en doen as jy lief te hê. Jou eie daar-val-ek-alweer-self lief te hê.

Daar is ‘n ou kerkliedjie wat ek onthou uit my studentedae en verlede Sondag by ‘n kerkdiens in PE is dit asof die stofplate afgeskud word:

“Ons aanvaar jou met die liefde van die Heer,
daar is vrede waar Sy liefde ons regeer….”

Dit is so waar! Waar daar liefde is, stap vrede in en kom maak Homself tuis. So…

As dit vrede is waarna my hart smag en wat ek oral soek, is dit dalk juis ‘n oproep tot liefde.
As my hart gedurigdeur ontstig word deur alles en almal rondom my, is dit dalk juis die tyd om liefde te gee… en te ontvang.
Sonder om aanstoot te neem.

Liewe Maxie,
Om ander lief te hê, Maxie, beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou grensloos irriteer nie;
om altyd ALLE mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees, Maxie –
sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel;
om ander mense dit wat hulle het of kry te gun, Maxie,
sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie;
om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie;
om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;
om nie ongeskik te wees nie, Maxie, maar jou so te gedra
dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie;
om nie net heeltyd aan Maxie en dit wat vir jou tot voordeel sal wees te dink nie;
om nie sommer vir niks kwaad te word nie,
en, Maxie… om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou
sodat jy hom kan terugkry nie.
Liefde,
Die Liefde
(1 Korinthiërs 13)

Elke keer as ek liefhet soos Jesus liefhet, vou ‘n demoon.
Elke keer as ek liefhet soos Jesus liefhet, val nog ‘n vesting.

“Natuurlik is ons net doodgewone mense,
maar ons leef glad nie volgens die reëls van hierdie wêreld nie.
Nee, ons is in ’n voltydse oorlog gewikkel om die goeie nuus uit te dra.
Maar ons wapens is nie mensgemaakte wapens nie. Gelukkig nie!
Ons staan in die Here se diens; daarom kry ons al ons wapens by Hom.
Daarmee vernietig ons alles wat in die pad van die goeie nuus staan,
selfs die heel sterkste vestings van die vyand. Met hierdie wapens vernietig ons elke vals argument. Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai,
loop ons met God se wapens onderstebo.”
2 Kor 10:3-5 Die Boodskap

Die vyand wil my laat glo dat as liefhê nie maklik is nie, dit nie liefde is nie.
Maar ek weet van beter.

Sy liefde vir my het Sy lewe gekos.
My liefde vir jou…?

Jou temalied vir die week: Your love defends me

Vorige artikelDie pad waarop ek is het God vir my gekies
Volgende artikelHoekom is jy hier
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!