Liesel Krause-Wiid se dogter skryf jeugroman

0
261
Karmen_Wiid.jpg

Weet jy nie altyd waaroor om met jou tienerdogter te gesels of hoe om haar selfoonkoste te besnoei nie? Dan is Ella net wat jy nodig het!

Die 15-jarige Ella Coetsee se ouers het huweliksprobleme. Hulle besluit om ’n huwelikskamp by te woon, en stuur vir Ella, Gucci-handsak en al, Steynsrus toe vir ’n week. Daar moet sy haarself op haar oupa en ouma se plaas vermaak. Die soeke om sin te maak van haar omstandighede (en die perfekte selfoonopvangs-spot te kry) laat Ella in ’n penarie beland, een wat die 16-jarige wipkuif-plaasjapie, Deon Loodts, help oplos. En dit is hoe die kinderlike avonture van die twee hoofkarakters in die 12-jarige skrywer, Karmen Wiid, se debuutroman, Ella, begin.

’n Roman vir tieners deur ’n tiener

ella.jpgSkryf is in Karmen se bloed. Die bekende predikant, sakevrou en skrywer, Liesel Krause-Wiid, is immers haar ma. Karmen vertel die boek het diepte gekry toe sy ná ’n gesprek met haar ma en ’n vakansie in die Krugerwildtuin besluit het om haar en haar tienervriende se ervarings in die storielyn in te bring. Die seunskarakter, Deon, is Karmen se prentjie van die ideale ou en laat haar aan pa Siebert dink. Die ouma Vlooi-karakter is weer ’n mengsel van Karmen se sakevrou-ouma, Willa Krause, en haar ouma Lettie Wiid, wie se plaas (net soos Ella se ouma s’n), in die Steynsrusdistrik is.

Skryf en lees – ’n positiewe uitlaatklep

Karmen koester die kleintydherinneringe van waar sy opgekrul in haar ma se arms na sprokiesverhale lê en luister. “Die lewe daarbuite is so negatief. As jy lees, ontsnap jy na jou eie wêreld waar jy jou verbeelding vrye teuels kan gee, en dit maak alles sommer beter,” sê Karmen. Nie dat sy nié van televisie hou nie. “Maar om ’n boek te lees is soos TV in jou kop. Jy kan jou verbeelding gebruik om die storie en karakters te maak soos jý dit wil hê.”

Wat jeugboekskrywer Carina Diedericks-Hugo oor sê

Carina, wat gewild is vir haar Thomas@-reeks, sê Ella is ’n heerlike karakter wat die leser insig gee in die lewe van ’n tiener wat met haar soeke na onafhanklikheid en haar ouers se huweliksprobleme gekonfronteer word. “Die buurseun, Deon, en die spanningslyn gee Ella die potensiaal om ’n avontuurverhaal met diepte te word. Die boek is ’n lekkerleesstorie geskryf deur ’n jong en talentvolle skrywer!”

Bestel Ella nóú op voelgoedwinkel.co.za, en sit dit in jou dogter se skoolsak. Dink net watter lekker verrassing (én aanknopingspunt) dit nie gaan wees nie!

DEEL
Vorige artikelGod bly belangrik
Volgende artikelDankiesê-Projek
Voelgoed
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.