Liesel se 10-punt plan vir goeie skoolpunte

0
92
liesel_krause_wiid_familie.jpg

Alle ma’s wil hê hulle kinders moet goed presteer op skool, maar die groot vraag is, hoe doen jy dit?

Liesel Krause-Wiid se twee spruite, Karmen (13 en in Graad 8 vanjaar) en Siebert (8, Graad 3) doen besonder goed op skool. Hier’s haar raad om kinders gemotiveerd oor tuis- en leerwerk te hou:

  1. Wees ʼn goeie voorbeeld vir jou kind, want hulle is bobaas na-apers. As jy jou werk met passie en oorgawe doen, sal hulle dieselfde met hulle skoolwerk doen. Hulle leer by jóú as dit kom by tydsbestuur, pligsgetrouheid, beplanning en netheid in jou werk.
  2. Wees en praat positief. Negatiewe praatjies oor die land, jou kinders se skool en onderwysers beroof hulle van ʼn toekomsvisie. Dit laat hulle hopeloos en futloos voel.
  3. Spandeer tyd saam met jou kinders. Só belê jy in ʼn gesonde verhouding en gee jy hulle die vrymoedigheid om jou te vertel as by die skool pla.
  4. Droom saam met jou kind oor sy/haar toekoms. Plak sommer prentjies van hul ‘droom’ in hulle kas, sodat hulle dit elke dag sien! As kinders ’n droom en visie het, gee dit vir hulle deursettingsvermoë om daarvoor te werk.
  5. Maak hulle lessenaar/studiehoekie mooi en aangenaam om by te werk. Goeie beligting is noodsaaklik en ʼn nuwe pen of twee, mooi pennesakkie en skryfboeke help om die leer-ervaring lekker te maak. Sit die TV, PSP, Wii en ander aandagaftrekkers af!
  6. Roetine is belangrik. Besluit saam oor vasgestelde studietye. Maak voorsiening vir 5-minute breektye tussen-in. Loer in by die kamer terwyl hulle leer en prys hul toewyding! Kleiner kinders moet nie te lank aanmekaar werk nie. Laat hulle toe om tussen-in te rus en speel.  
  7. Stel haalbare akademiese mylpale en beloon hulle daarvoor. Dalk ʼn lekker fliek of Wimpy-ete. Almal soek erkenning vir goeie werk. Wanneer jou kind ʼn groot taak moet afhandel, beplan hoe hy te werk moet gaan; breek die werk op in kleiner haalbare takies.
  8. As jou kind onderpresteer en jy kan nie help nie, kry hulp. Reël ekstra klasse. Moenie jou kind afbreek of oor-krities wees nie. Dit breek hulle moed.
  9. Wees ʼn betrokke ouer. Maak kontak met die onderwyser. Stel belang. Maar moenie jou kind se werk vir hom/haar doen nie! Eendag in die grootmenswêreld gaan niemand jou kind se verantwoordelikhede namens hulle voltooi nie.
  10.  Bid saam met jou kind oor alles wat by die skool gebeur – van maatjies tot kwaai juffrouens en skoolwerk. Bid seëngebede oor jou kind uit soos die Ou Testamentiese vaders hul kinders geseën het. Ek glo kinders maak die potensiaal wat jy oor hulle uitspreek, hul eie.

 

liesel_krause_wiid_kinders.jpg