Liesel se kinders van dood gered

0
220
my_storie.jpg

Elke ouer se grootste vrees, is om ’n kind te verloor. Liesel Krause-Wiid vertel hoe dit amper gebeur het.

Vir predikant, skrywer en motiveringspreker Liesel Krause-Wiid en haar gesin het ’n gewone Vrydagmiddag byna ’n nagmerrie geword. ’n Elektriese fratsongeluk het amper haar twee kinders, Karmen (14) en Siebert (8), doodgeskok. Maar ’n Groter Hand het oor hulle gewaak. As hulle al ooit daaroor getwyfel het, wéét hulle vandag dat ongelukke in ’n oogwink gebeur… maar so ook wonderwerke. Liesel en Karmen praat oor die wonderwerk wat dié middag hulle lewensuitkyk vir altyd verander het.

Karmen, jy en jou boetie was amper dood. Wat het daardie Vrydagmiddag op julle plaas gebeur?

Ek het my pa gevra of ek en Siebertjie dam toe kan ry met die plaas se gholfkarretjie. Dis iets wat ons gereeld gedoen het, so, dit was niks vreemds nie. My pa het ja gesê, soos baie kere vantevore, en ek en my boetie is opgewonde by die huis weg. Ons wou sommer net vir die lekker gaan rondry.

Na ’n rukkie het Siebertjie gevra of hy ook kan bestuur. Vir ’n oomblik het ek gewonder of dit ’n goeie ding is, maar toe onthou ek dat my pa hom al baie laat bestuur het. En hy ry goed, so, hoekom nie? My boetie het agter die stuurwiel ingeskuif, en omdat ek geweet het ek moet hom mooi oppas, het ek heeltyd my hand naby aan die stuurwiel gehou, net ingeval. Ons het al langs die plaas se grensdrade afgery. Al waarop ek gekonsentreer het, was om te sorg dat hy nie te naby aan die drade kom nie.

Ons het ’n Eskom-transformator op die plaas wat driefasekrag aan ons familiebesigheid, Argilla-pottebakkery, verskaf. Toe ons om die draai gery kom waar die kragstasie is, het ek vir my boetie gesê hy moet stop sodat ek verder kon bestuur. Die gholfkarretjie se rem moet baie diep ingetrap word sodat dit kan inhaak. Omdat hy nog klein is, moet hy dit ekstra hard intrap… maar toe trap hy per ongeluk die petrol in plaas van die briek! Dis toe dat ons teen volle spoed in die ankerkabel vasry waar die transformator op die Eskom-pale vas is. Die botsing het die hoogspanningsdrade aan mekaar laat raak. Skielik het elektriese blitse en vlamme na alle kante toe uitgeskiet!

Ek het erg benoud geraak en die rem baie hard ingetrap. Die karretjie het toe bo-op die draad tot stilstand gekom, met die voorkant in die lug. Dit het geklink of geweerskote om ons geskiet word, maar dit was “skote” van elektrisiteit!

Daar was elektriese blitse tussen die drade bokant ons. Van skok het ek gevries. Ek het geweet wat ek moes doen – ek moes die briek laat los en van die draad af padgee. Maar dit het gevoel asof my brein se seine nie wou deurgaan na my hande en voete toe nie. My boetie het so groot geskrik dat hy van die karretjie afgespring het. Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het ek uiteindelik die rem uitgetrap gekry en van die draad af weggery.

[pagebreak]

Dis ongelooflik om te dink julle het niks oorgekom nie. Hoe het dit jou lewensuitkyk verander?

Al wat heeltyd deur my kop gegaan het, was: “Ons kon dood gewees het!” Ek het dit oor en oor vir myself gesê en kon nie ophou huil nie. Ek het dadelik na my boetie toe gehardloop om hom te troos. Hy het baie bekommerd gelyk. Al het hy seker ook besef dat ons amper dood was, was al wat hy kon uitkry: “Ons gaan raas kry! Ons gaan raas kry!”

Oom Neels, ons pottebakkery se fabrieksbestuurder, wat ook met die elektrisiteit op ons plaas werk, het aangehardloop gekom en my getroos. Van sy huis af, wat omtrent 200 meter ver is, het hy iets gesien wat soos ’n ontploffing lyk. Mense van die buurplaas het ook die ongeluk van ver af gesien gebeur. Dit het blykbaar soos ’n vuurbal gelyk wat al in die rondte gehardloop het. Toe ek dít hoor, het ek van voor af gehuil van skrik.

Oom Ludwig, my ma se broer, het ook aangehardloop gekom. Hy het ook die “ontploffing” gehoor, en toe ons hom vertel wat gebeur het, kon hy nie sy ore glo nie. Hy het net aanhoudend gesê: “Julle kon dood gewees het… dis ’n wonderwerk!” My ma was in die huis besig toe die krag afgaan – en dit het ’n hele paar minute lank af gebly. Sy het nie geweet wat aangaan nie, maar toe oom Ludwig haar vertel wat gebeur het, was sy vreeslik geskok… en vreeslik dankbaar! Sy het my en my boetie vasgegryp en net aanhoudend gebid en dankie gesê dat ons nog leef.

Terwyl die trane nog oor my wange gestroom het, was ek eintlik baie bly dat hierdie ding gebeur het. Nou wéét ek die Here het my lewe gered vir ’n rede. Ek is nog hier, want ek moet nog iets in hierdie wêreld beteken. Ek gaan nog eendag ’n verskil maak!

In die verlede het ek baie maklik elke nuwe dag as vanselfsprekend aanvaar. Jy dink dit moet maar so wees dat jy wakker word in die oggend en gaan slaap in die aand. Ek dink nou anders hieroor. Vandag is ’n blessing. Maak die beste daarvan. As jy vir iemand moet jammer sê, moenie wag tot môre nie. As jy drome droom oor die toekoms, werk al vandag daaraan; moenie uitstel tot môre nie. Jy is dalk more nie meer hier nie. Dis ’n les wat ek nooit sal vergeet nie. Ek en my boetie is só gelukkig dat daardie Vrydagmiddag nie ons laaste dag op hierdie aarde was nie!

[pagebreak]

Liesel, hoe het jy gereageer toe jy hoor jou kinders was in lewensgevaar?

 

 

Ek het agter my rekenaar gesit, besig om ’n preek voor te berei vir daardie Sondag. Toe die krag afgaan, het ek opgestaan om te gaan kyk wat die probleem is. Die volgende oomblik het my broer aangehardloop gekom, met my twee bleekgesig-kinders agterna. My hart het amper gaan staan toe ek hoor wat gebeur het! Ek sou nooit in my wildste drome kon raai dat hulle oomblikke vantevore op die randjie van die dood was nie. Siebert, my man, nog minder.

Wat het ek hieruit geleer? Om in die toekoms my instink te vertrou. Toe Siebert vroeër vir my noem dat die kinders met die gholfkarretjie gaan ry het, het ek vir ’n oomblik ongemaklik daaroor gevoel, maar ek het dadelik gedink hulle het dit mos al voorheen gedoen, ek is nou net weer paranoïes. Maar ’n ongeluk gebeur so vinnig! Ek sal nie weer my ongemak oor ’n situasie ignoreer nie.

Vanuit ’n praktiese oogpunt het ons ook strenger reëls neergelê wat die plaas se gholfkarretjie betref. Die kinders mag van nou af net om die huis ry waar ons hulle kan sien, en klein Siebert sal net bestuur as sy pa by is.

 

 

Het hierdie voorval julle as gesin se geloof verdiep? Wat was die invloed daarvan?

Ek was daardie hele naweek in ’n dwaal. Baie trane is gehuil, en ek het sonder ophou vir die Here dankie gesê dat my kinders nog leef. Dis ’n oorweldigende gedagte… om te dink dat jy hulle byna verloor het. As ek na die elektrisiteitskenners luister en hoor hoe dodelik die situasie was, kan ek nie anders as om Hom te loof nie. Ek moet eenvoudig hieroor getuig! Een ding wat ek vir seker weet, is dat God vir Karmen en klein Siebert veilig in Sy hand gehou het. Dinge kon so anders gewees het, maar dit was nog nie hulle tyd nie.

[pagebreak] ’n Paar dae later het ons as gesin saam Nagmaal gehou, uit olyfhoutkoppies wat ons onlangs in Israel gekoop het. Ons het dit gedoen om vir die Here dankie te sê. Dit was baie besonders en iets wat nie een van ons gou sal vergeet nie.

Die gebeure het ’n baie groot uitwerking op Karmen gehad. Dit het haar diep geraak. Sy het na alles vir my kom sê sy weet nou dat God haar gespaar het vir ’n rede. Sy was nog altyd baie gelowig, maar hierdie ding het haar beslis nader aan die Here getrek.

Vir klein Siebert ook. Hy het gedink hy gaan raas kry, maar toe hy sien hoe ernstig almal is en hoor hoe mense sê dis ’n wonderwerk dat hulle leef, het hy iets van die erns van die saak besef. Hy het saggies teen my skouer gehuil. Die volgende dag by die skool het hy vir sy juffrou en maatjies vertel hy was amper dood. Hulle doop hom toe sommer “Elektro-man”. Die kinders is nou beslis ekstra versigtig vir elektrisiteit!

As ouers het ek en Siebert opnuut besef hoe belangrik dit is om vir ons kinders se beskerming te bid. Nou, meer as ooit, glo ons in die krag van gebed. As gesin bid ons reeds elke oggend saam voor die kinders skool toe gaan, maar sedertdien doen ons dit met nog meer erns. Ek besef ek kan nie 24 uur per dag daar wees om hulle teen elke gevaar te beskerm nie, maar ek doen my bes en vertrou God vir die res.

Die voorval was in vele opsigte vir ons waardevol. As ouer herinner dit jou om gedurig met jou kinders te gesels oor situasies waar hulle veiligheid in gedrang kan kom. Dis iets waarop ek nog altyd klem gelê het, maar deesdae doen ek dit meer gereeld – tot hulle groot frustrasie! “Ja a, Ma a,” sug hulle al moedeloos, maar verstaan ook hoekom ek hulle elke nou en dan aan daardie dag herinner, nie net om te verseker dat hulle in die toekoms twee keer sal dink oor hulle veiligheid nie, maar ook omdat ek wil bevestig watter groot God ons aanbid. Hy is ’n God van redding, genade en wonderwerke. Ek glo as jy gereeld terugkyk na waterskeidingsoomblikke in jou lewe waar Hy vir jou buitengewoon goed was, is dit baie makliker om Hom ook met jou hede en toekoms te vertrou. My kinders weet nou uit praktiese ondervinding dat Hy dáár is vir ons, en vir hulle. Deur dik en dun.

En dat alles met ’n rede gebeur, binne Sy volmaakte plan.