Liewe Jy …

Liewe_Jy.jpg

Om in jouself te kan glo moet jy mooi weet wie jy is, waar jy vandaan kom en waarheen jy nou eintlik op pad is.

UITTREKSEL: Liewe Jy …

Glo in jouself – so kry jy vlerke

Glo in jouself – hoe die lewe jou ook al rondgooi. Hou by jou opinies. Dan gooi mense jou nie van koers af nie. As jy struikel of val, kan jy jou dadelik afstof, opstaan en aangaan. Jou lewe is vol uitroeptekens – en sonder vraagtekens.

Om in jouself te kan glo moet jy mooi weet wie jy is, waar jy vandaan kom en waarheen jy nou eintlik op pad is. Onthou ook, dis onmoontlik om almal tevrede te stel. Moenie eens probeer nie.

So ’n ingesteldheid teenoor die lewe gaan jou natuurlik nie die gewildste meisie maak nie. Maar moenie dat dit jou afsit nie. Volg net jou eie ster. Dan is jy ’n gebore wenner. Maak dit sommer vroeg al jou leuse. Loop net lig. Jy kan nogal erg geboelie word as jy by jou standpunt bly. En dis g’n grap nie.

Genade, op so ’n pad kan mense dorings, selfs geroeste spykers, eerder as rose oor jou pad strooi. Weet net, jy sal sterker anderkant uitkom.

Dit klink dalk vreemd, maar jy sal die pyn in sulke Kwaaitjie Kabouters se oë sien … hulle wil jou saam met hulle aftrek. Hulle het self seer; daarom wil hulle jóú seermaak. As grootmens sal jy ook met sulke gifappels te doen kry. Sommer deur jou hele lewe!

Die beste medisyne is deernis en ’n daaglikse dosis vriendelikheid. Of dit nou gou-gou, netnou of anderdag gebeur … dit het wel ’n positiewe invloed en laat dinge vir jou, én hulle, goed uitwerk. Nog beter, dit bou karakter en maak jou sterk en slim vir die lewe se slaggate en slagysters.

’n Ander ding wat ek jou kan vertel: Vergeet van voor op die wa wees. Bly nederig en sorg dat roem nie in jou hare koek nie. Arrogansie is uit. Sê hard en duidelik NEE daarvoor. Al bereik jy watter hoogtes in jou lewe. Tog, jy kan ook nie jou siel verkoop en almal probeer tevrede stel nie. Daar is ’n fyn skeidslyn tussen ’n diva en ’n vrou wat seker is van haarself en doelgerig, treetjie vir treetjie, haar ideale uitleef en dit selfs ’n stappie verder vat.

Moenie bang wees om daardie etiket van “ek glo in myself; ek weet waarheen ek op pad is” om jou nek te hang nie. Wees trots daarop. Dis meer werd as enige ontwerpersetiket op een van jou mooiste rokke. Weet wat jy in die lewe wil hê, en streef dit na. Maar moenie op mense trap of wilde tantrums gooi om daar uit te kom nie. Ken jou hart – dis wat saak maak.

Kry daardie balans tussen glans en roem teenoor harde werk, met jou voete vas op die aarde. Natuurlik, stres eis sy tol as ’n klomp kreatiewe geeste saam onder druk werk. Dinge kan nogal rof gaan, maar wat! Gee jou daaraan oor; geniet dit hart, siel en lyf. As jy doen wat jy graag wil, kan jy alles gee en selfs nog meer hanteer.

Maak maar ’n grappie hier en daar. Dis ’n wonderlike weerligafleier as dinge dol gaan. Klits ’n goeie skoot nederigheid by ’n koppie selfdissipline, ’n titsel pret en sommer baie harde werk. Jy sal sien. Jy kry g’n beter resep om die balans tussen werk en pret te vervolmaak nie.

Sorg net eerstens dat jy geniet wat jy doen; jouself hart en siel daarin uitleef. Dan sal jy die stres maklik hanteer. Wat jy ook al doen, glansryk of nie, dis bowenal ’n werk … Bly professioneel, hanteer kritiek opbouend en werk aan jou foute. Vat op rowwe dae als met ’n knippie sout. ’n Klomp kunstenaars bymekaar kan ’n flambojante spulletjie raak.

Laat ek jou vertel, die glamour-aspek van die vermaaklikheidsbedryf is nogal ’n turksvy! So, moenie jou tande daarop afbyt nie. Glimlag, en gaan aan. Dit skommel beslis die pak kaarte van jou lewe anderster … Mense weet skielik wie jy is, wil jou handtekening hê en sien op na jou karakter. Hulle stel ander, hoër eise.

Die rooitapytbederf kom dikwels jou kant toe. Moenie dat dit na jou kop toe gaan nie. Bly getrou aan jouself. Jy doen ’n werk en wil dit goed doen. Geniet die glans, maar moet dit nie jou passie maak nie. Daardie glamour is papierdun en hou nie vir ewig nie. Om genot te vind en skeppend te wees binne jou werk is belangriker. Daar is hope ware glans daarin!

Die glanswêreld kan jou op die hande dra … maar probeer ook van jou kant af om dié wêreld goed te behandel. Dis ’n kwessie van gee en neem. Maak iets positiefs daarvan as jy deur jou werk ’n openbare figuur is. Sien dit as ’n lekker uitdaging.

Maak altyd tyd vir iemand wat jou met ’n vriendelike glimlag groet en sê hy of sy waardeer jou werk. Dit hang ook maar van jou mood af. Soms voel jy meer spontaan en geduldig as ander kere. Moet tog net nooit ongeskik wees nie – al voel jy die dag nie lekker nie of stap met kroes hare en ’n natgeswete lyf uit die gym.

Laaste, maar nie die minste nie … ’n Gemaksone spel gevaar. Snuffel altyd rond vir nog uitdagings en geleenthede. En bly in jou hart net dieselfde jy – of die lewe nou glimlag en knipoog, of frons en tande wys. Sorg dat jy sommer elke jaar ’n beter weergawe van jouself is! Dan is jou lewensalbum vol pragtige kiekies.

Amalia Uys
Om in jouself te kan glo moet jy mooi weet wie jy is, waar jy vandaan kom en waarheen jy nou eintlik op pad is.

lyn_3.png

Liewe Jy … is ’n versameling lewenslesse geskryf deur bekende vroue vanuit hulle eie ervarings. Elkeen van hierdie vroue was op die voorblad van FINESSE tydskrif en ken die blink kant van sukses. Maar hulle ken ook die pyn van teleurstelling, mislukking, swaarkry, seerkry … en die opstaan daarna.

Kliek op www.voelgoedwinkel.co.za en bestel die boek, Liewe Jy …, teen slegs R70.