Liewe ‘Pappa’

0
90
kate.jpg

Ek weet nie wat jou naam is nie, maar Kate het jou ‘pappa’genoem dwarsdeur die vlug laas week, en jy was vriendelik genoeg om haar nie daarop te wys nie. Die ding is, jy het nie eers ʼn oog geknip nie al kon jy sekerlik agterkom sy verwar jou nie met haar eie pappa nie. As sy jou ‘pappa’ noem, moet jy weet sy dink jy is oukei.

Ek het Kate in die middel sitplek gesit met die wete dat daar ʼn vreemdeling langs haar sou sit deur die vlug. Ek het gesit en kyk na al die “ouma’s” wat by ons verby stap en gehoop een van hulle kom sit langs haar. Maar hulle het almal agtertoe geskuif. Vir ʼn oomblik het ek gewonder of ons ʼn oop sitplek langs haar sal hê, en toe kom jy ingestap en sit langs Kate met jou aktetas en belangrike besigheidspapiere. Ek kon alklaar sien hoe Kate water oor jou multi-miljoen kontrakte mors.

Die oomblik wat jy gaan sit het het sy jou arm begin vryf. Jou baadjie was sag en sy het daarvan gehou. Jy het vir haar geglimlag en sy het jou geantwoord met “Hallo pappa, dit is my ma.” Jy kon ongemaklik in jou sitplek rondgeskuif het. Jy kon haar geignoreer het. Jy kon vir my daardie “glimlag” gegee het wat sê “hou asseblief jou kind in toom.” Jy het niks van hierdie goed gedoen nie. In stede daarvan het jy jou papiere weggesit en met Kate begin gesels en vrae gevra oor haar speelgoed.

Sy het jou darem ʼn ruskans gegee terwyl sy met haar Anna en Elsa poppe gespeel het. Tog is ek seker jy sou nie omgegee het om saam met haar Barbie-pop te speel nie. Ek is oortuig dat jy ook klein dogtertjies het.

Kate het wel later genoeg gehad van die vlug en begin skree om haar gordel los te maak, maar jy het weer haar aandag met haar speelgoed probeer aflei. Sy was reeds te ontsteld, tog het die feit dat jy probeer help het my emosioneel oorweldig. Die oomblik wat ons van die vliegtuig afgeklim het, het sy bedaar.

So, dankie. Dankie dat ek nie vir die soveelste keer moes om verskoning vra soos ek gereeld in die openbaar moet doen nie. Dankie dat jy Kate so besig gehou het dat dit haar mees suksesvolle vlug nog ooit was. En dankie dat jy jou papiere gebêre het en saam met ʼn klein outistiese dogtertjie Turtles gespeel het.

Ons wil graag jou dankie-briefie hê. As daar iemand is wat vir jou ʼn verskil gemaak het deur enige daad, groot of klein, skryf vir ons jou dankie-briefie en stuur dit na redaksie@finessemag.co.za

Vertaal en verwerk uit ʼn Go Team Kate-blog.

Die oorspronklike Engelse weergawe kan jy hier kry: http://www.goteamkate.com/blog.html