Liezel van der Westhuizen – so hanteer ek kritiek

0
12
liezel_van_der_westhuizen.jpg

ʼn Pragtige vrou moet mos goed voel oor haarself! Of hoe? Liezel van der Westhuizen gesels oor kritiek, min selfvertroue ... en haar bynaam op skool.

Was jy altyd tevrede met wie jy is en hoe jy lyk?

Omdat ek so lank en skraal is, was ek skaam en onseker oor hoe ek lyk. Die kinders het my op skool geterg en my die bynaam “Kameelperd” gegee. Ek het my lyf onder lospassende klere weggesteek wat ’n nommer groter as my werklike grootte was. Met kort hare lyk ek nie soos die tipiese model of aktrise nie. Modelagentskappe het gesê my voorkoms is nie reg nie. Ek het gebid vir lang hare en ’n mooier lyf.

Het jy jouself probeer verander om soos iemand anders te lyk?

Ek het altyd probeer om my hare te laat groei en soos die tipiese model te lyk. My lengte en kort hare was egter presies wat ’n modelagentskap in die Kaap wou gehad het. Tydens ’n fotosessie vir my eerste werk by Jacaranda FM het die stilis, teen my wense, vir my klere uitgesoek soos denims en noupassende hemde. Dit was klere wat ek nooit wou dra nie, maar wat my toe baie goed gepas het.

Wat doen jy om goed te voel oor jouself?

Dis vir my lekker om moeite te doen met klere en grimering. As ek goed lyk, voel ek goed. Ek het onlangs inkopies saam met my beste vriendin gedoen. Sy het klere uitgekies wat ek moes aanpas. Ek het eers my neus daarvoor opgetrek, want ek het altyd net effekleurige uitrustings gedra. Toe sien ek dat patrone my baie goed pas! My leuse is nou dat ’n mens moet eksperimenteer en met nuwe idees moet speel, al werk jy met ’n streng begroting en probeer meng en pas.

Hoe hanteer jy kritiek van die publiek of media oor jou voorkoms?

Die koerantopskrif “TV-ster eet nie” het verskyn toe ek nog ’n nuweling op televisie was. Dit was oor my, maar my pa het gedink dis wonderlik. Hy het net op die eerste twee woorde gefokus. My familie het my geleer om kritiek in iets positiefs te verander. Ek het byvoorbeeld ’n silwerkameelperd-hangertjie laat ontwerp. Mense gee selfs vir my kameelperdgeskenkies by hotelle waar ek bly! My negatiewe bynaam is nou my “handelsmerk”!

Wat doen jy om jouself te leer ken en te aanvaar?

My innerlike reis na selfaanvaarding was op en af, soos ’n golf. Ek het baie oor myself geleer tydens die Ystermankompetisie en Dusi-kanomaraton. God het dit met ’n doel op my pad gebring. Dis asof hierdie fisieke uitdagings my laat besef het dat ek baie sterker is as wat ek gedink het en dat ek ook emosionele teleurstellings kan oorkom en in iets positiefs kan verander.