Lika Berning

0
44
  1. Watter één ding wens jy jy het geweet toe jy jonger was?

Rekeningkunde help met als! Enige bestuurs kursus/self-studie is nodig om as kunstenaar te oorleef!

Ek sou dalk my tyd beter gebruik het – ek het film studeer by Uitjies, dit was wonderlik, ek sou dalk iets verder studeer het daarna, ʼn MBA of iets, in plaas van om rond te lê en te kuier vir 7 jaar!

  1. Hoe het jy met die verloop van jou loopbaan verander?

Ek is nie meer so vinnig beïndruk deur groot idees nie. Ek besef hoe moeilik dit is om dinge te laat gebeur. Ontwikkeling is moeilik in die kunste, niemand betaal daarvoor nie en dit vat tyd, dit gaan eintlik oor verhoudings, want mens kan ook niks alleen doen nie.

  1. Is daar ’n spesifieke aanhaling waarvolgens jy leef? Wat is dit?

Nie regtig nie, behalwe moenie opgee nie want aanhouer wen. Ek dink baie kreatiewe mense spring van een idee na die volgende, ek het al gesien dit werk om by een of twee planne te bly, dit neem tyd, maar deursettingsvermoë is wat enige droom laat waar word, nie noodwendig talent nie.

  1. Op watter een van jou prestasies tot nog toe is jy die trotsste?

Ek het ʼn rukkie terug ʼn idee gehad om vaardigheidswerkswinkels aan te bied in ‘rural’ gemeenskappe. Ons het ʼn kursus bymekaar te sit om akkreditasie te kry en ons skooltjie se deure is oop. Dis in George! iKasi Media programme is gemik op die jeug, en ons gee geleenthede aan die wat nie studies kan bekostig nie.

  1. Wat wil jy graag in die volgende vyf jaar bereik?

Ek wil graag aanhou films maak. Ek wil graag ʼn suksesvolle besigheidsvrou wees, en aanhou vervaardig. Ek wil ook regie doen binne die volgende vyf jaar, en unieke SA film ontwikkel vir ʼn internasionale mark. Ek is opgewonde oor ons bedryf. Nog ʼn film rolletjie sal lekker wees, ons sal sien!

  1. Wat was die grootste uitdaging waarvoor jy nog te staan gekom het?

Op die oomblik is my grootste uitdaging om die lewe met 3 klein kindertjies te oorleef, en steeds my werk te geniet en my doelwitte te bereik! Elke dag is vol, en neem baie geduld. Ek wil 100% ma-wees, maar ek wil ook tyd maak vir my kreatiewe lewe, ek wil aanhou werk, ek dink dit maak my ʼn beter mens.

  1. Wat beteken dit vir jou om bekend te wees?

Ek is nie seker wat dit beteken nie, gehore is so divers. Ek is beslis nie bekend in Suid Amerika nie. Die wêreld is wyd! Om bekend te wees is dalk ʼn verantwoordelikheid, afhangende van jou gehoor. Ek sou graag ʼn goeie voorbeeld wil wees vir jong mense.

  1. Aan watter projek werk jy tans?

Ek maak my eerste vol lengte film. Ek is nie die regisseur nie – net die vervaardiger. Ek leer ongelooflik baie oor hoe ʼn film bymekaar kom – dis skrikwekkend hoeveel werk en tyd dit als neem. Kyk uit daarvoor – The Kings of Kwano.

  1. Wat is die hoogtepunt van jou loopbaan tot dusver?

Liefling is nog steeds een van my gunsteling ervarings, ek is trots dat ek ‘probeer’ sing het! Die film was ʼn baanbreker en ek het friends for life gemaak. Ek is bly dat ek deel kon wees daaraan om iets nuuts te doen vir SA film jare terug!

  1. Wie sou jy graag na ’n droom-ete wou nooi?

Wow, enige iemand? Ek sou graag met regisseur Catherine Bigelow gesels of filmmaker Andrea Arnold! Of dalk Vader Kersfees.