Linda Kriel: 8 dieet en oefen geheime

0
265
linda_kriel.jpg

Oefening gaan oor meer as om “daai lyf” te kry. Hier is Linda Kriel se geheime vir ’n gesonde lewe.

Onthou jy nog die energieke donkerkop wat destyds Body Beat op Goeiemôre Suid-Afrika aangebied het? Met haar entoesiasme het sy elkeen van ons aan die spring, dans en oefen gekry.

kry_daai_lyf.jpgNou is Linda Kriel terug op die kassie, en met meer entoesiasme as ooit. Kry daai lyf word Dinsdagaande 17:30 op kykNET uitgesaai met genoeg herhalings deur die week as jy die oorspronklike episode misgeloop het. Boonop het ’n boek met dieselfde titel so pas verskyn.

“Ek is baie opgewonde oor die boek én die program,” borrel Linda. “Verveling en ’n gebrek aan selfvertroue is die grootste redes hoekom vroue nie oefen nie. Met dié dat Kry daai lyf elke week ’n ander tema het, sal vroue nie net geïnteresseerd bly nie, maar ook in die privaatheid van hulle eie huis kan oefen.”

Intussen kan lesers en kykers Linda se wenke volg oor hoe om met ’n oefenprogram te begin en daarmee te volhard.

1. Wees spesifiek oor jou oefen doelwitte

Ek het begrip vir vroue wat nie so gaande is oor oefening soos ek nie. Die Here het my geseën met die vermoë om oefeninge met gemak te doen en dit aan ander oor te dra. Soos koek bak vir party mense lekker is, so geniet ek dit om te oefen. Dit laat my goed en gesond voel. As daar ’n paar dae verbygaan dat ek nie oefen nie, raak ek skoon kriewelrig. As ’n mens goed is met iets, dan hou jy mos sommer meer daarvan.

Vroue word deesdae egter so oorval met inligting oor al die voordele wat oefening inhou dat hulle, selfs al hou hulle nie daarvan nie, weet hulle moet ’n doelgerigte besluit neem om te oefen. Sodra jy tot daardie besef gekom het, glo ek moet jy onmiddellik die redes neerskryf waarom jy wil oefen. Wees spesifiek. Moenie bloot sê dat jy fiks en gesond wil wees nie. Sê eerder: “Ek wil my bikini hierdie Desember dra,” of: “Ek wil oor twee maande ten minste 10 kilometer met gemak saam met my man kan stap.”

Plak jou lysie orals op waar jy dit kan sien. Sodoende sal jy jouself herinner aan dit waarmee jy besig is en die voordele wat dit uiteindelik vir jou gaan inhou.

2. Reageer dadelik wanneer jy besluit om te begin

Moenie uitstel sodra jy die besluit geneem het om te begin oefen nie. Begin onmiddellik. Enige dag is die ideale dag om met ’n oefenroetine te begin. Jy hoef nie te wag vir volgende week, volgende maand en beslis nie volgende jaar nie. Jy is die enigste mens wat jou kan motiveer om ’n verandering te maak.

3. Verander die storie oor jouself

Dikwels is die manier waarop ons aan onsself dink die rede hoekom ons nie oefen nie. Ons is heeltyd besig om aan onsself stories te vertel oor wie ons is.

Ek het op skool aan atletiek en tennis deelgeneem, maar my groot liefde het by ballet gelê. Ek het al die eksamens tot op intermediêre vlak afgelê. Dit was vir my verskriklik lekker om op die maat van musiek te dans. Na ’n rugbesering moes ek ophou met ballet. Gelukkig het ek ’n alternatief gevind in die aërobiese oefeninge van Jane Fonda. So kon ek steeds dans met musiek as begeleiding. As student het ek ekstra geld verdien deur aërobiese oefeninge aan te bied en dit is hoe my rigting van balletdanser na fiksheidskenner verander het. Deur buite die kassie te dink en die storie uit myself aan te pas, kon ek ’n tragedie in ’n geleentheid omskep.

Verander die vooropgestelde idees wat jy oor jouself het en maak jou moontlikhede soveel meer.

4. Skeduleer ’n tyd in jou dagboek daarvoor

Net soos jy die res van jou lewe skeduleer, moet jy ook jou oefenroetine beplan. Dit help byvoorbeeld om ’n vriendin te hê wat saam met jou by ’n plek oefen. Dis nie lekker om iemand anders in die steek te laat nie; daarom sal dit jou dwing om op te daag vir julle oefenafspraak. Kies iemand wat op dieselfde fiksheid- en gesondheidsvlak is om saam met jou te gaan stap of draf.

Ander mense verkies om op hulle eie te oefen. As jy dit so wil doen, maak nog steeds ’n tyd daarvoor in jou dagboek. Besluit op watter dae en tye jy wil oefen, en hou dan daarby. Dis beslis ook beter om elke dag min of meer op dieselfde tyd te oefen, want dan sal dit gouer deel van jou daaglikse roetine word. En as dit eers deel van jou roetine is, word dit al hoe makliker.

5. Sorg altyd vir die nodige balans

Soms gaan jy nie by ’n geskeduleerde oefening uitkom nie. Indien dit gebeur, moet jy elders daarvoor vergoed. As ek byvoorbeeld nie by my oefensessie uitkom nie, sal ek nie pizza vir aandete eet nie. Sorg altyd dat jy die negatiewe uitkanselleer met iets positiefs. Die slag as ek te veel eet, moet ek harder oefen. Wanneer ek ’n oefensessie misloop, is ek baie versigtig met wat ek eet. Moet egter nooit probeer oorkompenseer nie. Handhaaf ’n balans, want balans is mos die geheim van die lewe.

6. Dit help om goed ingelig te wees

Dit gaan jou oneindig baie help om goed ingelig te wees. ’n Boek soos Kry daai lyf sal jou help om nie langer obsessief na ’n perfekte liggaam te streef nie, maar om eerder gemaklik met jou eie liggaam te wees. Lees ook tydskrifte en ander boeke om jou die kennis en hulpmiddels te gee om gewig te verloor en beter te lyk. Kyk na video’s van jou gunstelingsportsoort en laat dit as inspirasie dien om self sekere doelwitte te behaal. Of volg ’n blog met inspirerende raad. Met die nodige kennis sal dit ook vir jou makliker wees om ingeligte besluite te neem rakende jou fiksheid, voeding en fisiese aktiwiteit.

7. Byt vas, want aanhouer wen

Navorsing bewys dat baie mense ná ’n maand sommer handdoek ingooi en dan in ’n bose kringloop beland. Jy glo jy gaan dit nooit regkry nie. Wanneer jy dit dan die volgende keer probeer, gaan jy nog makliker tou opgooi. Die geheim is om geduldig te wees en vas te byt. Dit neem ’n ruk om in die oefenpatroon te kom en dit ’n roetine te maak. Al wil jy dus tou opgooi, byt vas, want die beloning gaan uiteindelik groot wees.

8. Weet wanneer jy jouself ’n blaaskans moet gee

Dis belangrik om die slaggat van flou verskonings te vermy indien jy ’n goeie patroon wil volg. Tog is daar kere dat jy moet weet om jouself van die oefening te verskoon. As jy siek voel, moet jy vasstel of jy koors het. Indien wel, is dit beter om in die bed te bly. Oefening is lewensgevaarlik wanneer ’n mens griep het. As dit net ’n ligte verkoue is, kan jy wel nog liggies oefen. Onthou om genoeg water te drink. As ’n oefensessie skielik pyn veroorsaak het, kan dit dalk die gevolg van ’n ernstige besering wees. Indien nie, is dit moontlik net styfheid wat deel is van spiere wat meteens weer aan die beweeg gekom het.

LINDA KRIEL SE WENKE VIR ’N GESONDE DIEET

  • Eet net totdat jy versadig is. Moenie jou ooreet nie.
  • Ek eet baie avokado’s, olyfolie, salm, neute en jogurt. Verder bly ek weg van te veel alkohol.
  • Skakel graankosse, stysel en verfynde koolhidrate (alles wat met meel en suiker gemaak is) uit.
  • Kry genoeg slaap. Baie hormone word geaffekteer as jy nie genoeg slaap nie. My hormone funksioneer baie beter as ek sewe of agt uur per nag slaap.
  • Drink ses glase water per dag. Genoeg water is noodsaaklik as jy gewig wil verloor.
  • Onthou sonbeskerming wanneer jy buitentoe gaan.
     

LINDA KRIEL SE WENKE VIR ’N GESONDE EN FIKSE GEES

  • Ek begin elke dag met stiltetyd. Ek kan nie die dag ingaan sonder om stil te word voor die Here nie. Soms doen ek en my man saam Bybelstudie en as die seuns by die huis is, bid en sing ons graag as gesin saam.
  • Buiten dat God met my praat deur sy Woord, bespreek ek alledaagse dingetjies met Hom. Ek beperk nie my gesprekke met Hom tot my stiltetyd nie.
  • Ek is baie lief vir gospelmusiek en het ’n groot versameling daarvan. Dit maak my rustig en gee my vrede. Ek beplan om binnekort ’n oefen-DVD met gospelmusiek te doen. • Ek hou daarvan om af en toe saam met Bybelstudievriendinne weg te gaan vir ’n verrykingsnaweek.