Lindie: ’n les in selfvertroue

0
53
Lindie Strydom

Lindie Strydom was nie altyd vol selfvertroue nie. Sy moes eers vasstel wat haar ware selfbeeld is.

My vriendinne het my eenkeer ’n streep getrek met ’n verjaarsdaggeskenk. Hulle het geweet ek hou niks van frilletjies en valletjies nie, maar vir daardie verjaarsdag gee hulle my toe juis hierdie valletjie-fotoraam. Net om te sien hoe ’n goeie aktrise ek regtig is.

Ek het my reaksie en “dankbaarheid” vir die “fraai” geskenk geveins so lank as wat hulle hulle lag kon hou. Toe ons klaar gelag het, het hulle my regte geskenk gegee: ’n spoggerige kalligrafiepen waaroor ek absoluut mal was!

’n Mens kan soms met die beste bedoeling ter wêreld ’n geskenk vir iemand gee, maar die toets of jy reg gekies het, is as daardie geskenk gebruik en geniet word.

Ons het elkeen geskenke van God ontvang – verskillende, uiteenlopende geskenke. Miskien is hulle nog in papier toegedraai en weet jy nie wat dit is nie, maar met verloop van tyd begin jy dit stukkie vir stukkie oopmaak. Enigiets wat veroorsaak dat jy nog nie hierdie geskenk oopgemaak het nie, moet jy van ontslae raak.

Die beste manier om jou dankbaarheid teenoor God te wys is om die gawes wat Hy jou gegee het, voluit te gebruik en te geniet. Om jou heel beste te gee! Dit help nie ek maak my moeg oor die geskenke wat ander mense gekry het nie. God het vir my spesifieke gawes gegee om te gebruik en te geniet en ander daarmee te dien.

As jy nie weet wat daardie geskenk is en met vertroue met die gawe omgaan wat God jou gegee het nie, veroorsaak jy ’n verlies vir jouself en die mense om jou.

Vandag is ek oortuig dat “praat” deel is van God se roeping vir my, maar die ontdekking van ons unieke bydrae neem soms tyd en ’n paar lewenslesse – soos om te leer dat daar ’n verskil is tussen skaam en selfbewus wees en skaam wees omdat jy skuldig voel omdat jy nie perfek is nie. Vir my het die reis na ’n gesonde selfbeeld en selfvertroue gekom soos ek in my verhouding met Jesus kon begin antwoord: Wie is ek, waar behoort ek en wat het ek om te bied? Vrae wat eintlik oor en oor herhaal word soos ons deur die lewe reis.

Selfbeeld is hoe ek myself sien, maar selfvertroue kom van ’n God-vertroue en die besef van hoe God my sien.

[pagebreak]

’n Homp vleis, groen van skaamheid

Toe ek die dag die rol in Egoli kry, was die hoofskrywer se eerste vraag:

“Het julle ’n gym in PE?”

“Ja, Oom,” antwoord ek toe met oortuiging.

“Wel, gebruik dit!”

’n Mens voel maar soos ’n homp vleis as jy voor die spieël van <i>Egoli</i> se klerekasafdeling staan en die bespreking gaan oor hoe om jou “foute” weg te steek. “Dra maar liewer ’n moutjie; dit gaan vleiender wees vir jou arms.”

Ek is dankbaar dat ek nie meer elke dag in ’n omgewing werk waar daar so ’n onnatuurlike fokus is op hoe jy lyk nie. Dit beteken nie ek gee nie om hoe ek lyk nie. Dis net dat die klem verskuif het. Selfversorging, oefening en wat ek eet, is nou vir krag, gesondheid en die energie om met my kinders by te bly, nie om die maerste aktrise op die stel te probeer wees nie. Voorkoms pas in as ’n deel van my lewe, maar is nie die hooffokus nie.

Gelukkig kan ek nog lekker lag vir myself. So aan die begin van die somer kom my Europese gene sterk deur in my wit bene met fyn spatare. Ek lyk net nie soos die <i>beach babes</i> nie en sal eerder onder die sambreel op die strand wag terwyl my man en kinders in die see baljaar.

Tot ek laas Desember besef het my kinders dink ek kan nie swem nie. Net daar besluit ek dis nonsens dat ek myself inperk as gevolg van kwellings oor my wit bene. Dit steel tyd by my gesin! My man en die kinders wil saam met my in die branders baljaar. Hulle zoem nie in op daardie “foutjies” waarop ek so konsentreer nie.

My kinders is nou baie beïndruk met hulle ma se swemvermoë en my man is van voor af verlief op my omdat ek net is wie ek is! Dis baie aantrekliker as die oortollige twee of vier kilogram wat jou keer om die lewe te geniet.

My lys dinge wat ek nie kan doen nie, is nog baie lank. Ek kan nie fluit nie. Ek kan ook nie grappe vertel nie omdat ek nie die <i>punch line</i> kan onthou nie. Ek het ’n oordrewe pligsbesef, wat nogal vervelig kan wees, maar ek is ook optimisties, passievol en goedgelowig – ek glo regtig die beste van mense. Dit is wie ek is sonder om myself in ’n boksie te plaas, want ek glo niks is vir God onmoontlik nie. As Hy mense vir ’n sekere taak stuur, sal Hy hulle ook bekwaam maak daarvoor.

[pagebreak]

Ek het lank gedink dis nogal arrogant om te sê waarmee jy goed is tot ek besef het dit gaan nie oor my nie. Wat ek het, is vir my gegee, of eintlik geleen, met die doel om God daarmee te verheerlik en die mense om my te dien. Maar voor jy kan dien, moet jy weet waarmee jy goed is.

Soos ek is wie God my gemaak het ek moet wees, gee ek vir ander ook die ruimte en vrymoedigheid om te wees wie God hulle gemaak het om te wees!

Die groep Anders se liedjie sê dit mooi: “Wees wie jy is, jy’s so mooi vir my, so mooi vir my!”

Sien jy jou roeping raak

Baie vroue maak die fout om te dink ’n mens se selfbeeld gaan oor hoe jy oor jouself en jou lyf voel. Dit is deels waar, maar selfvertroue gaan vir my veral daaroor om die vertroue wat God in jou stel om ’n sekere roeping binne Sy skepping te vervul, raak te sien en te doen. Maar voor jy God se vertroue in jou kan sien, moet jy jouself liefhê soos God jou liefhet.

Ons soek baiekeer hierdie liefde en aanvaarding in ander verhoudings.

Ek sukkel dalk om vir mense nee te sê, want ek wil niemand teleurstel nie. Ek wil ook nie hê hulle moet minder van my dink nie omdat ek bang is vir verwerping. By my kollegas werk ek vir erkenning. Hoe graag wil ek nie hoor dat my bydrae in die span waarde het nie. Daar is egter ’n verskil tussen die span dien en om die aflaaiplek te word vir al die take wat niemand anders wil verrig nie. ’n Swak selfbeeld manifesteer wanneer ons aanhoudend aanpas omdat ons graag wil inpas.

Ook in my huwelik met Johann moes ek vroeg reeds leer dat dit nie sy werk is om my gelukkig te maak of goed te laat voel oor myself nie. Sy onvoorwaardelike liefde is <i>great</i>, maar hy is nie my redder nie en hy kan my ook nie <i>fix</i> nie. Dit is God se werk en ek bly afhanklik van Hom daarvoor.

Wanneer jy onseker is, word jy amper desperaat vir jou maat se goedkeuring, erkenning en aanvaarding. Dit is ’n onregverdige verwagting wat maak dat mense aan ’n verhouding begin onttrek. Hoe verder jou maat onttrek, hoe meer afhanklik en <i>clingy</i> word jy. So word dit ’n bose kringloop. Ek wil myself as ’n gelukkige, selfversekerde vrou en ma vir my gesin gee en dit is gesetel in my verhouding met God en Sy liefde vir my.

Iemand wat in ’n verhouding – by die huis of by die werk – probeer oorheers, beheer of manipuleer, verklap eintlik ’n swak selfbeeld. Aanval is mos die beste vorm van verweer. Mense probeer die aandag aflei van hulle onvermoë of beperkings en blaker daarom graag ander se foute en tekortkominge uit sodat die groep daarop sal fokus.

Iemand wat gemaklik is met hulleself, hoef nie altyd die laaste sê te hê nie. Hulle hoef nie die argument te wen nie, maar sal ook opstaan vir dit wat reg is. Hulle sal nie stilbly oor onregverdighede of wanneer iemand te na gekom word in skinderpraatjies nie. Ons soek daardie balans.

In 2015 wil ek drome droom wat my bang maak en uitdagings aanpak wat my laat groei sonder enige verskonings!

Hoekom? Want ek kan!

Ek wil swem in die see met wit bene, spatare en al, want ek kan!

Ek wil wegkruipertjie speel en my kinders om die huis jaag, want ek kan!

Ek wil Lindie wees, want ek kan!

Die Here het my toegerus met alles wat ek nodig het. Ek wil die geskenke wat God aan my toevertrou het, gebruik en in myself glo, want God doen dit.