Lindie se teddiebere

Haar gelaat was moeg, afgerem, eintlik net eenvoudig morsdood. Die hartseer het vlak in haar oë gelê.

Waar sy aan die tafel oorkant my gesit het by die dames bederf-oggend baie jare gelede, kon ek sien dat die totale grys van die welige haredos wat haar heeltemal te maer oumensgesig omring het, nie net die gevolg van ouderdom was nie. In teendeel – ek moes later uitvind dat haar geboortedatum nie té baie jare voor myne is nie.

Die rede vir die hartseer in Lindie se oë op die mooi lente oggend was haar beeldskone kleindogter: die meisietjie was van die begin af ‘n baie opgewonde lid van ons Bybelklubs in die gemeenskapsaal van die munisipale woonstelblok waar hulle gewoon het.

As ek reg kan onthou, was die mooi gesiggie eintlik nog nie oud genoeg om toegelaat te word by die Bybelklub nie, maar ons harte kon nie haar pleidooie weerstaan nie.

Lindie het kort nadat klein Anna die eerste lewenslig gesien het, haar ‘mamma’ geword. Lindie se eie dogter, klein Anna se regte mamma, het groot finansiële suksesse behaal deur elke aand haar klere op die maat van wilde musiek voor skares mans af te stroop.

Ongelukkig is klein Annatjie binne die konteks van hierdie beroep verwek. Klein Anna se mamma het gekies om haar kind se bestaan liewer te ontken.

Die verantwoordelikheid vir Anna se voortbestaan in Lindie se hande oorgelaat – sodat sy weer ongesteurd met haar eie lewe kon voortgaan. Lindie het die verantwoordelikheid met groot liefde en tot die beste van haar vermoë probeer aanvaar.

Ongelukkig was daar een uitsondering: Lindie het haar lewens uitdagings met oordadige alkohol innames probeer verdrink… en vir haarself op hierdie manier groter moeilikheid geskep. Anna is in die week voordat ek Lindie die eerste keer by die dames bederf-oggend ontmoet het, deur maatskaplike dienste weggeneem na ‘n plek van veiligheid.

Deur die loop van daardie oggend het Lindie ingestem om die volgende week op te daag vir die vroue Bybelstudie wat ek elke Donderdagoggend in die woonstelblok se gemeenskapsaal aangebied het. Sy het haar belofte nagekom. Dit was twee weke voordat hierdie groepie vroue beplan het om die gemeente waar ek destyds betrokke was te trakteer op ‘n vlooimark.

Die atmosfeer was daardie spesifieke oggend gelaai met opgewondenheid. Die dames se produkte was besig om vorm aan te neem. Hulle gesprekke vol planne oor waar die beste plek vir elke tafel gaan wees en watter kleure tafeldoeke gebruik behoort te word.

Ek kon dink dat Lindie dalk ‘n bietjie uit sou kon voel. Ek het gevoel dat ek haar ook ‘n kans moes gee om uit te stal by die vlooimark. Daarom dat ek besluit het om haar versigtig te benader met die vraag: ‘Wat kan jy doen?’ Haar gesiggie het skielik nuwe lewe gekry, haar oë ‘n baldadige sprankel. Toe antwoord sy my: ‘Ek kan teddiebere brei.’

Ek het belowe om sommer die volgende dag vir haar ‘n klompie wol en breinaalde te bring sodat sy so gou moontlik kon begin. Daar was nie juis tyd om te verspeel nie, maar Lindie het ook nie op haar laat wag nie. Sy het begin brei. Voor my oë het ek ‘n kreatiwiteit ontploffing sien plaasvind. Lindie het nie sommer net teddiebere gebrei nie.

Sy het teddie met persoonlikheid gebrei: teddies met tiener haarstyle, modieuse klere en selfs oorbelle het verskyn. Selfs na afloop van die vlooimark het sy aanhou brei. Ek onthou hoeveel weke sy spandeer het aan elke detail van die Bob Marley teddiebeer wat sy gebrei het.

Dit het begin goed gaan met Lindie. Die drank lus het begin kwyn. Anna het terug gekom huis toe. Vir ‘n jaar of twee, dalk selfs drie kon ek sien hoe ‘n nuwe, lewenslustige Lindie ontpop, altyd gereed met nog ‘n idee.

Maar sy het moeg geword. Swaarkry het weer aan haar lewenslus begin pluk. Ek onthou nog hoe ongelooflik teleurgesteld ek was toe sy my die dag inlig ‘Ek is nou moeg gebrei.’ Lindie het teruggeval. Anna is weer weggeneem. Haar gelaat is weer moeg, afgerem, morsdood. Die hartseer lê weer vlak in haar oë.