Lisa Osteen: “My lewe na ’n briefbom”

0
191
lisa_osteen.jpg

Lisa, die suster van Joel Osteen, word nie verniet die miracle baby genoem nie. Toe haar lewe aan skerwe spat, was dit net die begin van ’n reis wat God vir haar beplan het.

Skielik het ek besef ek leef wel. Swart rook het uit my klere getrek asof ek aan die brand was. Daar was ’n chemiese reuk in my neus en die metaalsmaak van bloed in my mond.

Daar kom dae in ’n mens se lewe wat jy nooit vergeet nie. Vir my was 30 Januarie 1990 so ’n dag. Dit het begin as ’n doodgewone Dinsdag. As direkteur van my ouers se gemeente, Lakewood, was een van my pligte om hulle persoonlike pos oop te maak. Elektroniese pos het toe nog nie werklik bestaan nie, en mense het baie briewe van dankbaarheid of uitnodigings vir my pa, John, gestuur. Pakkies met kassette of boeke was ook nie ongewoon nie.

Daardie dag was daar ’n pakkie wat my aangetrek het soos ’n kind na ’n geskenk wat sy nog nie mag oopmaak nie. Dit was kleiner as ’n skoenboks en geadresseer aan “J.O.”, wat ek vermoed het my pa, John Osteen, was. Die pakkie was swaar en het geratel as ek dit skud. Ek was op pad na ’n vergadering en het nie baie tyd gehad nie, maar omdat ek so nuuskierig was, kon ek nie die versoeking weerstaan om dit oop te maak nie.

Die laaste ding wat ek onthou, is dat ek aan die kleeflint getrek het …

Ek het die een oomblik nog by my lessenaar gestaan. Die volgende oomblik het ek uit ’n pynlike donkerte bygekom. Hoe ek dit reggekry het om te bly staan, weet ek nie, maar toe ek bykom, het ek twee meter van die lessenaar af styf teen die muur gestaan. My eerste gedagte was dat ek ’n elektriese skok gekry het. Eers later het dit tot my deurgedring dat die ontploffing iets met die pakkie te doen gehad het.

Ek het in die gang afgeloop en geskreeu: “Dis ’n bom! Dis ’n bom!” Die ontvangsdame het my en die rekenmeester, in die gang gekry waar sy besig was om my klere uit te trek. Klein kooltjies vuur het orals aan my klere vasgesit, op die punt om te ontvlam. As ek nou terugdink, was die klere wat ek daardie dag aangehad het die eerste in ’n reeks gebeure wat God gebruik het om my deur die dal van doodskaduwee te dra.

[Pagebreak] Ek is een van daardie mense wat al die vorige aand my klere uitsoek. Vir daardie Dinsdagoggend was ’n katoenhemp en -romp reeds op my bed, gereed om aan te trek. Maar om die een of ander rede het ek daaroor getwyfel en ’n leerbaadjie en -romp in die plek daarvan uitgehaal. Daardie een klein keuse het my lewe gered. As ek katoenklere aangehad het, sou ek binne minute aan die brand gewees het.

Die bom het ook nie behoorlik afgegaan nie. In plaas van om oor my hele liggaam te ontplof, het dit aan die kante uitgeskiet. My lessenaar en die kantoormure was vol gate en merke. My wonde moes baie erger gewees het as jy na die skade om my gekyk het.

“Dit was asof iemand tussen Lisa en die bom gestaan het,” het een van die polisiemanne gesê.

Ek het presies geweet wie daardie Iemand was, want hierdie gebeurtenis was nie die eerste keer dat daardie Iemand ’n wonderwerk op my pad gestuur het nie. Net nadat ek gebore is, het my ouers agtergekom daar is iets fout. Ek kon nie sluk nie, nie suig nie, nie eers my arms optel nie. Na verdere ondersoeke het die dokters besef die naelstring was tydens geboorte om my nek gedraai en het die suurstoftoevoer na my brein afgesny. My toestand was soortgelyk aan serebrale verlamming.

“Lisa sal nie kan loop of praat nie,” het dokters gesê.

Sulke nuus sal die meeste ouers platslaan, maar my ma en pa het besluit om vir ’n wonderwerk te bid. Hulle het gekies om te glo dat ek ’n lewensroeping het wat meer is as wat die dokters vir my voorspel het. Toe ek sewe maande oud was, het dinge verander. Vir die eerste keer het ek my arms beweeg, my kop opgetel en selfs regop gesit. Die pediater was ekstaties en het geen verklaring vir my herstel gehad nie. Ek is die miracle girl genoem.

En hier, soveel jaar later, is my bynaam weer bevestig. Selfs die feit dat dit ek en nie my pa was wat die pakkie oopgemaak het nie, was ’n wonderwerk. My pa se hart was nie goed nie en hy sou miskien nie die skok kon hanteer nie. Die beserings wat ek wel opgedoen het, is self ook ’n getuienis. Die paramedikus wat in die ambulans was, het saam met my gebid op pad na die hospitaal.

[Pagebreak] By die hospitaal is my klere afgesny en een van die dokters het gesê: “Haar beserings is nie so erg soos die paramedici gesê het nie. Sy sal dalk vandag nog kan huis toe gaan.” Langs my kon ek hoor hoe die man wat saam met my in die ambulans was, na sy asem snak. Erge sny- en brandwonde oor my maag en bene het tussen die kerk en die hospitaal reeds begin genees.

Ten spyte van my vinnige fisieke herstel, was alles nie eensklaps net reg nie. Dit het my lank geneem om weer in ’n normale roetine te kom. Ek het lank onveilig in my kantoor gevoel en ek was bang dat die skuldige steeds planne beraam om ons gesin seer te maak.

Mettertyd het die vrees minder begin word en kon ek sien hoe God hierdie traumatiese gebeurtenis gebruik het om my lewe verder in ’n rigting te stuur.

Omdat ek in ’n familie van pastore was, het ek altyd gedink ek gaan met ’n pastoor trou en hom in sy bediening bystaan. Nooit het ek kon dink dat ek eendag my eie bediening sou hê nie. Toe my hoop om iets goeds in die bediening te doen amper letterlik in rookwolke verdwyn het, het God dit gebruik om my ’n groter gehoor te gee met meer geleenthede om oor sy liefde en bystand te praat. Vandag is ek ’n medepastoor van die Lakewood-gemeente waarvan my broer, Joel, en sy vrou, Victoria, die leiers is.

Die media het tydens hierdie hele gebeurtenis baie daarop gekonsentreer dat ek veronderstel was om dood te wees, maar oorleef het. “Jou dogter is gelukkig om nie dood te wees nie,” het die een joernalis na die ander vir my pa gesê. “Nee, sy is geseënd, want ons dien ’n goeie God,” was sy antwoord. Dit is waar. God het ’n spesifieke plan vir elkeen. Hy vat dit wat stukkend is en maak dit met liefde en geduld heel.

Tydens die hele ervaring het ek dit reggekry om baie kalm te bly. Ek glo God het deur die jare in my gees gewerk en sy krag in my neergelê vir my uur van nood. Hy lei ons na groen weivelde, na waters van rus, want Hy beplan wonderlike dinge vir ons – baie meer as die paar oomblikke van chaos en trauma wat ’n ontploffing kan veroorsaak.