Listeriosis

0
581

Saam met baie ander mense in ons land het ek die afgelope weke vir die eerste keer die woord “listeriosis” teëgekom.

Dit is ‘n siekte wat veroorsaak word deur bakterieë wat in die grond, water en riool voorkom. Sedert Januarie verlede jaar het daar reeds 948 mense die siekte opgedoen, en 180 het daaraan gesterf. ‘n Mens kan die siekte onder andere optel deur byvoorbeeld besmette koue vleis te eet. Dit word dan ook as een van die oorsake van die huidige vlaag van listeriosis gesien.

Daar is net een manier om listeriosis te bekamp, en dit is om dit radikaal te beveg. Die fabriek wat die bron van die probleem is, moet vir die onmiddellike toegemaak word; polonie en ander koue vleisprodukte wat daar gekoop is, moet teruggeneem word; die uitvoer van die vleisprodukte is gestaak, en so kan ek aangaan. Radikale stappe word geneem.

Dit is presies hoe ‘n mens ook geestelike vuilheid uit jou lewe moet uitwerp. ‘n Mens koester nie vuilheid en boosheid nie. Jy breek dadelik radikaal daarmee, want as jy dit nie doen nie, gaan jy baie gou deur die boosheid oorheers en vernietig word. Jakobus 1:21 sê: “Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.”

Slegs deur radikaal met boosheid te breek, kan dit oorwin word.