Liza Brönner: Hoe ek my sjokolade-cravings hanteer

0
14
Liza Brönner

Jou lus vir soetigheid kan dalk ’n teken wees van ’n tekort in jou liggaam. Dis wat Liza Brönner as kind uitgevind het.

Jou lus vir soetigheid kan dalk ’n teken wees van ’n tekort in jou liggaam. Dis wat Liza Brönner as kind uitgevind het.

Jy sal dit deesdae nie sê nie, maar op skool was ek nogal mollig. Ek het my altyd vergryp aan enigiets wat suiker bevat het: sjokolade, koek, lekkergoed… ’n Mens sou dink ek het aandele in Cadbury gehad! Eendag in matriek het ek tydens ’n netbalwedstryd flou geval. My ma het met my dokter toe gejaag. In die kar was ek heeltyd só moeg, ek kon letterlik nie my oë oophou nie. Ná ’n klomp toetse het hulle vasgestel my yster is verskriklik laag. Dis toe dat ek uitgevind het dat dit die rede was hoekom ek aan die stewige kant was. Cravings vir soetigheid is blykbaar ’n teken dat jy ’n tekort aan sekere minerale in jou liggaam het.

Die eerste ding wat ek moes doen, was om elke dag ’n handjie vol biltong te eet. Ek het ook aan die begin ’n ysteraanvulling gebruik om my vlakke weer normaal te kry. Dit was ’n moeilike paar maande, en ek was gou moeg daarvoor om elke dag ’n ysterpilletjie te drink. Sien, ek hou nie van pille nie. Ek weet daar is mense wat dit nodig het, en dit werk vir hulle. My voorkeur is om my vitamiene en minerale op ’n natuurlike manier in te kry.

My ma het toe begin om my groen smoothies te voer. Dit het aan die begin nogal sleg gesmaak. Haar gunsteling was beetsap wat sy met wortels, gemmer en seldery gemeng het. Dokters het my vertel dat beet ’n goeie vorm van yster is, en daarom het ek myself gedwing om daaraan gewoond te raak. Deesdae is dit nogal verfrissend vir my. As ek partykeer vir my ma gaan kuier voordat ek optree, jaag sy my gewoonlik die beetsap in om seker te maak ek het genoeg energie vir die aand wat voorlê.

Daar is baie dae dat ek voel ek kry weer lus vir soetigheid. Die eerste ding wat ek dan doen, is om ’n snytjie roosterbrood met Bovril te eet. Die lus is dan gewoonlik sommer gou oor. Vandat ek met my man, Ricus, getroud is, eet ek ook baie meer rooivleis. Ek het nooit voorheen daarvan gehou nie! My gunsteling is ’n maer stukkie filet of ’n skaaptjoppie. Dokters het vir my gesê dat rooivleis ook ’n baie goeie bron van yster is.

My filosofie is hoe minder pille jy hoef te drink om gesond te bly, hoe beter. Kry eerder jou vitamiene en minerale deur kos in.