Loop nog een keer

“Faith draws hope out of experience…”

…lei een teoloog af uit die woorde van die dertiende Psalm hierdie week. Dit slenter sedertdien konstant in my gedagtes rond, maar eers sommer netnou net besef ek dat onse skrywer hier nie praat van góéie ondervindings nie, maar net… ondervindings. Alle ondervindings.

Die goeie ondervindings grawe my hoopfontein al dieper na die Oorsprong toe.
En die minder goeie ondervindings dan…?
Hulle laat my drink daaruit.

“Ek is moeg daarvoor om aanmekaar bekommerd te wees…”

weergalm dit uit vers 3 van Die Boodskap vertaling.

Oral om my is dit ‘n refrein, soos stemme wat net nie rus kan vind nie.
Ek sien dit ritsel in mense se lyftaal, in hulle oë wat moeg is om te kyk na die horison vir ‘n wolk.
Ek lees dit in afgeremde Sondaggesigte wat van sypaadjie na sypaadjie dwaal,
swaar gelaai met inkopiesakke en selfone.
En ek lees dit tussen die woordlyne van vriendinne wat ver is, en naby.
Bloed van my bloed wat probeer voorgee, want dis die enigste gee wat nog oor is.

Maar geloof trek water daar waar ons paaie voorheen al geloop het.

Daarom: Op dae wanneer jy moeg is om aanmekaar bekommerd te wees, bid ek dat jy krag sal kry om nog een keer te gaan loop.

Om te gaan loop langs die seerkry van onthou,
én die onthou van uitkoms.
Om te gaan loop langs die klippad en die duwweltjieplot,
én die ploeglande met die donkerrooi grond.
Om te gaan loop waar die vyeboom langs die pad verlep het,
én daar waar die olyfoes volryp staan.

As jy moeg is om bekommerd te wees, gaan loop.
Loop al hoe vinniger, hardloop as dit moet.
Want na die nag, wag altyd nog ‘n nuwe dag.
Skoon.
Heel.

Net jy kan besluit of daar plek is vir bekommernis daarin.

Jou temalied vir die week: Scars

Vorige artikelDie drastiese handelinge van God
Volgende artikelTeken-in
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!