Los my uit! Ek wil sondig!

Ek het so gelag die week, want ‘n luisteraar het my mede-aanbieder uitgehaal oor hy alweer praat oor sonde.  Baie onpopulêre onderwerp!

Maar ek lees toe mos Hebr 12:14 die week… “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”  Ek hoor baie keer mense sê ons is ook maar net sondaars… maar ons is nie.  Ons was sondaars voor ons gered is, nou is ons “nuwe mense” wie se denke vernuwe moet word, maar wat wel nog sondig.  “Sondaars” is nie meer wie ons is nie, want ‘n sondaar gee nie om dat hy sondig nie, ‘n Christen doen.  Watookal… dis net terme sê jy my, maar dis belangrik.  Ons het met ander woorde ‘n keuse!  Ons kan en wil dit help!

Heilig lewe is moontlik.  Hoekom anders sou Petrus 1 saamstem ons moet heilig wees soos Hy heilig is.  En toe Jesus met die Samaritaanse-put-vrou wat so aangejaag het gepraat het, het Hy gesê gaan dan en sondig nie meer nie.  Maar net omdat dit moontlik is, beteken nie dat dit maklik is nie.  Paulus verwys daarna as ‘n titaniese stryd tussen sy gees en sy vlees en hy het nogal moedeloos geklink toe hy dit gesê het!

Maar die beste beskrywing wat ek nog gehoor het, is die een van die begrafnisondernemer.  As iemand doodgaan bly daar mos ‘n lyk agter.  En een dag by die lykshuis was die ou nog besig om sy skalpel ens. reg te kry vir ‘n nadoodse ondersoek.  Toe hy terugdraai na die lyk toe, het díe skielik kiertsregop op die bed gaan sit!  Daar is glo nog elektriese impulse wat aktief kan wees, en jou spiere kan laat saamtrek selfs na jou dood!  Jikes!

Maar dink daaraan.  Ons is volgens die Woord dood vir onsself en in Jesus opgewek as nuwe skepsels.  Maar daar is nog ‘n lyk (vlees) wat agterbly wat weet hoe om regop te sit op lewenslank geprogrammeerde impulse.

So elke keer as jy liewe-nuwe-mens selfsugtig is, is dit die lyk wat praat!  As jy trots wil wees of iemand wil beskinder… dis die LYK wat praat!  En jy wat hom ‘n stem gee… eish!

So hier is hoe ek dit verstaan.  Ons word verander na Sy beeld deur die Woord, Sy Gees, en deur bietjie vir bietjie ontnugter te raak met sonde.  Hoe meer jy die “dood” betaal wat die prys van sonde is, hoe meer besef jy dit is nooit die moeite werd nie.  Hoe minder val jy vir die vals advertensie wat jou die sonde laat kies het in die eerste plek.  Hoe meer jy die harde manier leer om lewe te kies, hoe meer proe jy die ware lewe wat die gevolg is van liefdes gehoorsaamheid aan Sy Woord, en hoe heiliger word jou lewe.  En hoe heiliger jou lewe word, hoe meer “sien” jy Hom raak (Hebr 12), en hoe meer wil jy soos Hy wees, al is die pad hoe moeilik.

G’n wonder dit vat ‘n leeftyd nie! LOL