Los probleme op en bly kalm

0
439
catherine_van_heerden.jpg

Wanneer ’n probleem opduik kan jy maklik kop verloor en so ook die stryd. Jy kan dit op ’n kalm manier oplos.

Lesersvraag

Ek sukkel om probleme op te los. Ek raak angstig en kan dan nie helder dink nie. Wat moet ek doen om by die berg verby te kyk en by oplossings uit te kom?

Catherine sê

Om oplossings vir probleme te soek is so deel van die lewe soos asemhaal. Maar die probleme hoop so vinnig op dat ons kortpaaie kies vir tydelike oplossings, om dan net weer na die volgende krisis te beweeg.

Die waarheid is, jy sit met ’n probleem as jou huidige situasie verskil van waar jy eerder wil wees. Jy wil ryk wees, maar jou bankbalans neig na rooi. Jy wil graag nuwe vriende maak, maar jy word met stomheid geslaan as jy tussen ’n groot groep mense is. Jy is laat vir werk, maar jou motor wil nie vat nie. In elke scenario verskil dit wat jy het van dit wat jy graag wil hê.

Probleemoplossing is niks anders as om te probeer om jou doelwit en jou huidige situasie bymekaar te bring nie. Ja, dis reg, probleemoplossing is amper soos skattejag. Jy sit met ’n uitdaging. Jy kry leidrade of inligting soos jy vorder, en jy volg dit om uiteindelik by die skat of antwoord uit te kom.

Volg die leidrade langs die pad

Wanneer jou instruksies duidelik is, het jy ’n goed gedefinieerde probleem. Om roereiers te maak, volg jy net ’n paar eenvoudige stappe en daar het jy ontbyt! Maar as jy nie ’n duidelike prosedure het om te volg nie, sit jy met ’n probleem wat nie goed omskryf is nie.

Ongelukkig is ons probleme meestal swak gedefinieerd. Hoe gaan jy genoeg geld maak om te spaar vir jou oudag of hoe gaan jy die konflik tussen jou en jou kollega hanteer? Maak heel eerste seker jy verstaan jou probleem. As jy al ooit ’n Google-soektog gedoen het, sal jy weet dat sleutelwoorde baie belangrik is om die regte inligting te kry. Dit is ook die antwoord om jou probleem goed te verstaan: Vra die regte vrae.

Jy moet byvoorbeeld hierdie maand jou begroting laat klop. Soek na bestaande kennis en inligting wat betrekking het op jou verknorsing. Watter uitgawes kan jy beperk of waar kan jy slimmer werk met jou rande?

Die grootste fout wat jy kan maak

Die meeste mense begaan hier een groot fout. Hulle slaan die eerste stap oor: die verstaan-deel. Dis hoekom hulle sekere situasies nie opgelos kry nie. Eksperts los gewoonlik probleme op deur na die inligting te kyk wat hulle ingesamel het en dan na ’n oplossing te soek.

Onervare probleemoplossers duik dikwels kop eerste sommer by die oplossingsfase in, natuurlik met rampspoedige gevolge. Hulle werk agteruit omdat hulle net op kitsoplossings fokus. Vir hulle is dit ’n leer-en-probeer-strategie waar die eerste die beste oplossing toegepas word. Omdat hulle nie genoeg tyd daaraan bestee het om die probleem te verstaan nie, misluk hulle pogings as daar onverwags haakplekke opduik. Soos in die geval met jou begroting, kom daar skielik onvoorsiene uitgawes by, en daar is jy terug by die begin.

So, skep asem, ervaar jou emosies en sê vir jouself: “Oukei, ek het ’n probleem.” Maar moenie daar ophou nie. Gaan oor tot aksie en begin om inligting in te win. As jy vir jouself sê: “Ek gaan nooit my begroting laat klop nie,” het jy klaar verloor. Jou brein gaan dan in shutdown mode. Al weet jy hoe, sal jy dit nie kan doen nie. Ek glo elke persoon het die antwoorde reeds binne haar. Jy het dalk net ’n bietjie tyd, raad en hulp nodig om daarby uit te kom.

Glo in jouself en jou vermoëns

Om in die skattejag van die lewe by die skatkis oftewel oplossing uit te kom, raak stil en dink aan die teksvers in Psalm 139:14: Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Glo in jouself en jou vermoëns om ’n oplossing te vind. Sien die groter prentjie en dink na oor hoe jou besluite vandag jou toekoms gaan bepaal.

Begin by die begin, en wees ’n goed ingeligte probleemoplosser. C.J. Langenhoven het gesê: “Waar die moeilikheid so groot is as ’n berg, klim die wyse bo-oor, die dwaas graaf ’n tonnel onderdeur en bly binne vassteek; die lafaard draai om.”