Luister jy regtig na jou maat?

0
28
luister.jpg

Gee jy jou man kans om sy sê te sê … sonder om in te tjip? Dis tyd om op jou tong te byt en vir hom kans te gee om sy hart uit te praat.

Wanneer getroudes nie die tyd maak om ’n argument of verskil regtig deur te praat en te luister nie, of nie omgee om mekaar se harte eerder te vertrap as om die ander een ’n kans te gee om te sê hoe hulle voel en wat hulle rede vir die gevoelens is nie, kom daar later verskriklik baie frustrasie en selfs wrewel saam met die spesifieke konflik. Maar as ons die volwassenheid aan die dag kan lê om mekaar die geleentheid te gee om klaar te praat sonder om in te tjip, of vaardig genoeg is om by die onderwerp van twis te bly, kom daar ongekende bonusse saam met elke stukkie konflik. Miskien sal die volgende dinge jou motiveer om volgende keer tyd te maak om te luister met ’n hart wat regtig jou maat se hart wil hóór:

Dit laat ons menswaardig en belangrik voel in ons verhouding

Wanneer jou maat jou die geleentheid gee om jou hart uit te praat en werklik jou pyn, vrees, woede, ongelukkigheid of frustrasie wil verstaan, bevestig dit jou waarde in die verhouding. Die dag as jy begin voel dat jy nie belangrik vir jou maat is nie, sterf ’n stuk van jou behoefte om ’n aandeel in die huwelik te hê. Soos ek reeds gesê het, wil alle mense weet dat hulle ’n prioriteit is in hulle maats se harte en lewens. Maar as jy nie eers belangstel om te weet wat in jou maat se hart en kop aangaan nie, sal hy of sy uit die aard van die saak voel dat jy nie omgee nie. Sal jy regtig bly belê in ’n verhouding waar jy heeltyd onbelangrik voel? Dis seker dan te verstane waarom huwelike ’n stadige dood kan sterf net omdat hulle iets kleins verkeerd doen soos om nie werklik na mekaar te luister nie.

Dit verklaar die oorlog nietig

As jy jouself sover kan kry om regtig vir jou maat kans te gee om sy hart uit te stort, sal hy dadelik voel jy gee om en dat hy belangrik is vir jou. Dis ons gevoel van “dit wat ek wil sê, is ook belangrik – luister tog net” wat maak dat ons al harder baklei. As jy jou maat laat besef dat jy regtig na sy opinie wil luister, sal hy nie hoef te veg om gehoor te word nie. Die lelike woorde wat al ’n gewoonte geword het, die venynige terugbaklei en selfs doodskree sal ’n skielike dood sterf … net omdat jy jou maat nie rede gee om hard en lelik te praat nie. ’n Sagte antwoord (en stilbly sonder ’n attitude) keer mos die grimmigheid af, of hoe?

[pagebreak]

Dit bring ons by die wortel van ons emosies uit

Wanneer jy jou maat in die rede val of stilmaak omdat jy voel dat die gesprek kwansuis afgehandel is, kom sy elke keer net by die punt van haar emosie se ysberg uit. Dit beteken dat sy elke keer voel dat daar nog onopgeloste issues is, en dat haar diepste emosie nie gehoor is nie. Julle kom op hierdie manier elke keer by valse oplossings uit wat nie standhoudend is nie. Die wrewel en frustrasie sal nie weggaan solank jy net aan die oppervlakkige issues werk nie. As ons ’n slegte boom se vrugte altyd afsny en hoop dat die vrug van die volgende seisoen beter gaan lyk, maak ons ’n fout. Dis wanneer ons by die wortel van die boom uitkom – hetsy dit afkap of iets nuuts toevoeg – dat ons eers werklik in die volgende seisoen nuwe vrugte sal sien.

Dit klaar selfs ons werklike gevoelens vir onsself uit

Soos met Retha, gebruik jy dalk ook baiekeer woorde wat nie werklik jou emosie oordra nie. Miskien is die woorde wat jy gebruik heeltemal te sterk belaai met emosie en gee dit ’n valse aanklag na jou maat toe deur. Ander kere voel jy dalk baie sterker oor ’n saak, maar dink dat jou aanvanklike emosie wat jy uitspreek, die werklike een is. As jy aanhou praat of die geleentheid gegun word om klaar te praat, kom jy dalk agter wat jy werklik voel. 

Dit gee ons respek vir mekaar

As jou maat voel dat jy hom hoog en belangrik genoeg ag om sy hart uit te luister, sal hy uit die aard van die saak meer respek vir jou kry. Dink maar terug aan byvoorbeeld ’n oudonderwyser wat altyd tyd gemaak het vir jou en bereid was om jou kant van ’n saak te hoor as daar ’n probleem by die skool was – jy het noodwendig meer respek vir so ’n mens gehad as vir die onnie wat altyd net fout met jou gevind het en jou nooit die geleentheid gegun het om jou kant van ’n saak te stel as jy in die moeilikheid was nie. Wil jy hê jou maat moet jou net al meer respekteer? Gee hom dan jou bereidwilligheid om sy hart te verstaan.

Dit bring ’n bereidwilligheid om konflik in die toekoms op te los

Paartjies wat nooit issues werklik oplos en ook nie mekaar se emosie hóór nie, sal heel waarskynlik mettertyd wegskram van konflik af. Jy het dalk al geleer dat praat nie help nie, en dat julle altyd by dieselfde punt eindig. Net soos kinders makliker sal waag om in die straat fiets te ry as hulle eers regtig voel dat hulle die vaardigheid bemeester het, net so sal paartjes ook makliker waag om met die fynste ore te luister as hulle dit eenmaal werklik reggekry het.

Die vraag is: Is jy gereed om te hoor wat JY moet verander om jou maat werklik te hóór, of glo jy dat dinge by hóm moet begin? Onthou jy nog van verbond? Dat jy eerste jou eie trots moet neerlê? Bekyk bietjie die lysie hieronder en maak ’n punt daarvan om jouself te probeer identifiseer. Jy is dalk sélf skuldig aan een of twee van die redes waarom jy jou maat nie altyd reg hoor nie.