Luister na daardie stemmetjie!

0
1711

Jy reken dalk dat net logiese denke en kennis jou help om besluite te neem. Daar is egter nog ’n faktor – intuïsie kan jou lewe red.

Het jy al die gevoel gekry dat iets nie reg is nie? Dis moeilik om te verklaar, maar jy weet net daar is fout. Of jy kry die gevoel iemand staar na jou en as jy omdraai, dan is dit so! Dit is jou sesde sintuig wat jou waarsku.

Baie mense is bra skepties oor sulke klaarblyklik onlogiese denke, tog is intuïtiewe gewaarwordings glad nie so vreemd nie.

Daardie binnestem is eintlik ’n beskermer

In sy boek The Gift of Fear skryf Gavin de Becker, een van Amerika se voorste geweldskenners, hoe intuïsie jou lewe kan red. Hy glo dat elke mens, ook jy, ’n kundige kan word om gewelddadige gedrag te voorspel. “Jy het die gawe van ’n briljante innerlike oppasser wat gereed staan om jou te wys op risiko’s en jou deur gevaarlike situasies te lei,” skryf hy. Dan gee hy ook etlike voorbeelde van vroue wat die waarskuwingstekens geïgnoreer het en duur daarvoor betaal het.

Kelly se eerste instink was om nie die vriendelike man wat haar wou help om haar pakkies na haar woonstel te dra, se hulp te aanvaar nie. Haar eerste gevoel was reg – hy het haar verkrag.

Dit is intuïsie wat ’n mens waarsku dat ’n motor voor jou gaan inswenk. Of wat jou onrustig laat voel oor iemand wat jy die eerste keer ontmoet.

Hierdie vroeë waarskuwingstelsel wys dat alles nie pluis is nie, selfs al is daar geen logiese bewyse daarvoor nie. Jou brein kan voorspel wat gaan gebeur omdat hy sekere waarnemings gemaak het waarvan jy nie eens bewus is nie.

Jy kan jou sesde sintuig vertrou

Ons kan ook uit ’n ander hoek na intuïsie kyk. Die mens se bewussyn is soos ’n brander in die groot oseaan. Die onbewuste is die oseaan. Dit is groot en kragtig en bevat groot hoeveelhede kennis en wysheid waarvan die bewussyn nie weet nie.

Dit is logies dat as ’n mens meer van jou onbewuste se vermoëns gebruik kan maak, jy meer kennis, insig en wysheid sal hê. Jy kan jou intuïsie ontwikkel deur doelbewus op diep asemhaling, ontspanning en verbeelding te fokus.

Ons onderdruk soms ons innerlike wysheid deur vrese, vooroordele of ’n onwilligheid om na hierdie deel van onsself te luister. Jy weet moontlik wat die regte besluit is, maar ’n ander deel van jou klou vas aan dit waarop jy hoop of graag wil hê. Mense besef nie dat daardie iets op die lange duur dalk glad nie goed vir hulle sal wees nie.

Herken die intuïtiewe boodskappe

Elke mens word met die gawe van intuïsie gebore. Soos met ander talente, is dit beter ontwikkel by sommige mense as by ander.

’n Emosioneel intelligente persoon sal byvoorbeeld ’n groter voorsprong hiermee hê omdat sy ’n hoë selfbewussyn het. Dit stel haar in staat om na haar innerlike boodskappe te luister.

Jy hoef gelukkig nie ’n ander geloof aan te neem of vreemde reëls te volg nie. Wees net oop en ontvanklik sodat jy die boodskappe kan herken wat jou sesde sintuig na jou sein. Dan moet jy natuurlik dapper genoeg wees om te luister en daarop te reageer.

Sulke innerlike boodskappe kan ’n blitsgedagte, ’n visuele prentjie, ’n woord, ’n droom, ’n voorgevoel of ’n fisieke gewaarwording wees. Dit is ’n natuurlike vaardigheid wat ’n sleutelrol speel in kreatiewe denke, besluitneming en ontdekkingsprosesse.

Jy hoef nie summier op die intuïtiewe gevoel te reageer nie. As jy ’n bietjie versigtig is, beskou dit eerder as ’n rigtingwyser. Wees oopkop en toets of dit kan werk. Jou binnestem kan ’n waardevolle bondgenoot word, mits jy leer om dit te vertrou en soms waag om ’n besluit te neem bloot omdat daardie stemmetjie so sê.