Luister na jou eie stem

0
818

Aktrise Sandi Schultz dink nie intuïsie is noodwendig so geheimsinnig soos dit klink nie. Dis net jou brein wat vinniger dink as wat jy agterkom.

My intuïsie het my gelei dié aand by ’n verkeerslig, op die hoek van ’n straat aan die onderkant van ’n steil afdraande. Die lig was rooi en het na groen oorgeslaan, maar iets in my het net gesê: “Stop nou, al is dit groen vir jou.” Die volgende oomblik het ’n kar teen ’n verblindende spoed verby gejaag. As dit nie vir daardie stem was nie, was ek vandag dalk nie hier nie. Dit is die vreemdste ding, maar na al die jare bly dit my nog by.

Dis ongelukkig baie maklik om te dink vooropgestelde idees of die pyn van die verlede is eintlik iets meer. As jy jou hand op die stoof brand, gaan jy volgende keer immers baie versigtiger wees. Daar is ’n deel van jou wat gaan aanneem die stoof is warm, selfs al is dit nie.

Gelukkig is dit nou minder van ’n probleem as toe ek jonger was. Hoe nader jy aan die bron van pyn is, hoe makliker is dit om jou besluite op grond daarvan te maak. Tyd maak dit makliker om na jou eie stem eerder as jou pyn te luister.

Maar ondervinding het my meer op logika as op intuïsie laat vertrou as in my jonger dae, selfs al is dit vreemd om te aanvaar dat ek nie eerder meer kreatief en instinktief is nie. ’n Vriend van my voel dat daar nie eers ’n kwessie is nie. Ek oordink alles tien keer om ’n besluit te neem. Daar moet antwoorde vir al my vrae wees. En selfs dan is die versoeking nog groot om te twyfel of dit die regte keuse was of nie.

Vroeër was dit makliker om te glo dat ’n mens onder sekere omstandighede dalk iets anders sal kry deur een en een bymekaar te tel. Dat genoeg harde werk of deur iets snaaks te doen, dit dalk in twee en ’n half sal verander, maar nou is die lewe meer swart en wit. Hierdie feit en daardie een saam gaan altyd net op ’n spesifieke manier eindig. Dit is hoe dinge werk. Die lewe bewys dit oor en oor vir jou. Dit beteken nie dat daar nie geheime of onbekende dinge in die wêreld is nie. Ek laat ook ruimte daarvoor, selfs wanneer my besluite op feite gegrond is.

My man sê altyd hy vertrou my intuïsie as dit kom by mense opsom. Hy sal iemand ontmoet en dink dis die mees fantastiese mens in die wêreld, terwyl ek sal dink: “Nee, hulle het my nie heeltemal oortuig nie. Laat ons maar eerder sien.” En dan doen hulle iets om daardie idee reg te bewys.

Vir my is dit eerder ’n kombinasie van mensekennis, ervaring en om na die klein goedjies op te let. Al die klein detail van mense wat ons net dink ons mis. Soos wanneer iemand nie ’n trouring dra nie, maar jy kan sien daar is ’n stukkie ligter vel om hulle vinger van ’n ring wat hulle gereeld gedra het en afgehaal het vir ’n spesifieke rede. Die vraag is net: Probeer hulle jou om die bos lei of het hulle iemand verloor? Daardie besef lei ’n mens dan in hoe om hulle verder te hanteer. Jy besef nie noodwendig dat jy al daardie goedjies raaksien nie, maar dit dra alles by tot jou uiteindelike opinie.

Ervaring en intuïsie is eintlik maar dieselfde ding. Daar is niks magies daaraan nie, dis net wat in ons onderbewuste aangaan. Jou brein tel al die klein goedjies bymekaar wat ons nie eers oplet nie en vorm dan ’n opinie, soos ’n rekenaar wat op die agtergrond werk.