Lyk 10 jaar jonger – met ’n kwas!

0
20

Vergeet van duur operasies. Met hierdie oulike grimeerkunsies kan jy blitsig tien jaar jonger lyk.

As jy al ooit ’n voor- en na foto- van ’n make-over gesien het, sal jy weet dat grimering wondere kan doen. Niks keer jou om ’n paar toorkwaskunsies aan te leer nie. Óf jy nou jou oë blinker of jou dubbelken dunner wil laat lyk; daar is ’n wenresep vir elke deel van jou gesig.

’n Foutlose voorkoms begin by jou vel

Geen vrou se vel lyk elke dag dieselfde nie. Soms sal dit lieflik sag en glad voel; net om die volgende dag weer effens droog te wees. Merkies en probleemareas op jou vel hang van baie faktore af. Van die skommelings in jou hormoonvlakke, die weer, wat jy eet en ook die produkte wat jy gebruik, het ’n invloed op jou vel se voorkoms.

’n Foutlose voorkoms is slegs moontlik as jy jou vel reg voorberei voor jy grimering aansit. Min grimeerkunstenaars werk deesdae sonder ’n goeie basisproduk (primer) wat jy oor vogroom kan smeer. ’n Basisproduk laat fyn lyntjies sagter vertoon en maak jou vel gladder sodat die onderlaag makliker ingesmeer kan word.

Kies ’n onderlaag wat jou behoeftes pas. Poeier en olievrye formules komplimenteer olierige veltipes, terwyl romerige ryk formules vir droë veltipes werk. Om die regte onderlaag te kry, neem tyd en ervaring. Vra ’n skoonheidskonsultant om jou te help as jy ’n nuwe handelsmerk wil probeer.
Hoewel onderlaag die meeste foutjies wegtoor, is dit soms moeilik om rooiheid, blou kringe en merkies volledig te verbloem. Kies ’n dik, romerige verbloemer en wend dit slegs aan oor die areas wat ekstra hulp nodig het soos om jou neus, ken en onder jou oë. Gebruik ’n verbloemingskwas wat help om die produk eweredig aan te wend, of tik dit met jou vingers in.

Laat jou oë skitter met hierdie truuks

Gebruik ’n sagte oogpotlood of ’n vloeibare oogomlyner. Trek ’n dun lyntjie op jou boonste ooglid, so na as moontlik aan jou wimpers. Jy kan die lyn breër laat word na die buitekant. Dit sal jou oë oopmaak en “lig”. Rond af met maskara.

As jy oogomlyner binne die onderste ooglid aanwend, verklein dit jou oë. Laat jou onderste ooglid donkerder lyk deur ’n dun kwassie te gebruik. Doop dit in dieselfde oogskadu wat jy op jou oë gebruik het. Trek nou ’n dun strepie net onder jou onderste wimpers.

Daar is selfs maniere om min slaap weg te steek. Gebruik ’n glansgewende produk, wat een of twee skakerings ligter is as jou onderlaag. Tik dit onder jou oë, sowat een sentimeter van jou onderste wimpers. Jy kan nou onderlaag bo-oor aansit, maar werk versigtig sodat jy nie alles afvee nie. ’n Wit oogpotlood in die binneste hoekies van jou oë is net so effektief om jou oë wakkerder te laat lyk.

Netjiese wenkbroue laat altyd jou oë mooier lyk. Jy kan ’n kammetjie gebruik om elke haartjie op sy plek te kry. Kleur dit in waar dit nodig is. Gebruik oogskadu wat dieselfde kleur as jou wenkbroue is vir ’n sagter effek, of gebruik ’n wenkbroupotlood. Die geheim vir mooi wenkbroue is ’n natuurlike voorkoms, vul daarom net die dele in waar jy dink te min hare groei.

Maak jou wangbene hoër met ’n kwassie

Almal begeer hoë wangbene … maar net sommiges word daarmee geseën. Met die regte grimering kan jy maklik meer gedefinieerde wange skep waarop selfs Angelina Jolie jaloers sal wees.
Jy kan jou wange meer gedefinieerd laat lyk deur glanspunte op jou wangbene te skep. Gebruik ’n donkerder kleur van dieselfde palet, net onder jou wangbeen om diepte te skep.

Die geheim van voller, soenbare lippe

Vir effens voller lippe, neem jou lipomlyner en teken versigtig ’n lyn wat net-net oor jou liplyn gaan (helfte van die lyn moet steeds op jou liplyn wees). Gebruik nou ’n lipstiffie in dieselfde kleur as jou lipomlyner en kleur jou lippe verkieslik met ’n kammetjie in.
Donker kleure laat jou lippe dunner lyk, so kies ’n natuurlik kleur. ’n Deursigtige lipglans oor jou lipstiffie beklemtoon lippe en weerkaats lig sodat jou mond voller lyk.

Verbloem jou onooglike dubbelken

Daar is niks wat jou dag so kan bederf soos om jouself op ’n foto te sien en jy lyk soos ’n kalkoen nie. Die goeie nuus is jy kan jou dubbelken op ’n maklike manier versag. Gebruik ’n onderlaag twee skakerings donkerder as gewoonlik en smeer dit oor die area wat jy minder opsigtelik wil maak. Sorg dat jy dit deeglik skakeer om seker te maak dit lyk natuurlik. Kyk eers in natuurlike lig of daar enige sigbare lyne is vóór jy dit in die publiek waag.

Lees meer: Jou 4 grootste grimeerfoute

HANNON grimering is alles beskikbaar by voelgoedwinkel.co.za! Moet nooit weer in ’n ry staan nie, en koop sommer enige tyd van die dag.