Lyk pragtig op enige foto

0
255
foto.jpg

Maak seker jy is fotogereed met dié raad van Will Malherbe, internasionale grimeerkunstenaar vir Smashbox. Jy sal nooit weer skaamkry vir ’n Facebook-foto nie!

Photoshop jou gesig jonger met die regte onderlaag

Deesdae se hoëdefinisiegrimering en sagtefokusprodukte beklemtoon jou beste eienskappe, maar verbloem velfoute. Dis so goed soos ’n Instagram-filter maar net met grimering. Volgens Will moet jy jou “onderlaagkleur en formule seisoenaal laat toets [by ’n grimeertoonbank]. Party mense se onderlaagkleur kan tot vier skakerings verander van somer na winter. Vra of die onderlaag geskik is vir binnenshuis en foto’s. Jy wil nie op foto’s of in die werklikheid ’n onvleiende blinkheid op jou gesig hê nie.”

Lig jou gelaatstrekke uit met ligweerkaatsende poeier of room

Op foto’s waar daar ’n flits gebruik word, kan ’n mens se gelaatstrekke maklik plat en sonder dimensie lyk. “Jy wil juis jou gesigkontoere ten beste laat vertoon,” sê Will. “’n Goeie manier om dit te doen is deur ’n beklemtoner soos Smashbox Halo Highlighting Wand te gebruik. ’n Beklemtoner het ’n ligte, subtiele glinstering wat jy op die hoogste dele van jou wangbene, jou wenkbroubene, die lengte van jou neusbrug en die boog van jou bolip aantik. Dit weerkaats lig en beklemtoon sodoende jou beenstruktuur.”

Voorkom dat jy ’n spierwit spookgesig op foto’s het

Skakeer tintformuleblosser aan jou wange. Dié blosser met ’n vloeistofbasis gee die natuurlikste kleur wat jou gesond laat lyk. “Vermy liefs om jou blosser as ’n merkbare skuins streep op jou wange aan te wend, soos in 1980’s. Onthou dat ’n kamera se flitslig jou bleker laat lyk as wat jy is. Gebruik ’n mat verbronsingspoeier in afwaartse hale op jou wange, neus en al langs jou haarlyn vir ’n vel met ’n effense blas voorkoms,” vertel Will.

LYK ALTYD GOED OP ’N SELFIE

’n Selfie is ’n foto wat jy van jouself en jou vriende of familie neem deur sommer self die kamera vas te hou eerder as om iemand te vra om die foto te neem. Doen dit so:

1 Hou die kamera effens hoër as jou gesig.
So tref die lig julle gesigte en verdwyn al die skaduwees.

2 Hou jou ken ’n aks vorentoe.
So verbeter jy jou gesig se definisie.

3 “Ja!” is die nuwe “kaas!
Sê dit en voel dit, want selfvertroue skep die mooiste foto’s.

4 Asem diep in en asem uit net voor die flits.
Die ekstra suurstof laat jou oë blink en jou gesig ontspanne lyk.

Smashbox Camera Ready CC Cream SPF30 (R390 verkrygbaar by Woolworths, Foschini en Edgars)
Revlon Photoready Skinlights Face Illuminator (R189 verkrygbaar by kettingwinkels)
La Mer The Lifting Contour Serum (R2 800 verkrygbaar by Edgars en Stuttafords)
Catrice Blush Tint for Cheeks & Lips (R58,95 verkrygbaar by Dis-Chem)
Avon Arabian Glow Bronzing Pearls (R144,95 verkrygbaar by Avon-verteenwoordigers)

FOTO’S VERSKAF

Geskryf deur Ryno Mulder