Lyk vars al het jy min geslaap

0
65
elma_smit.jpg

Elma Smit is soggens halfses al op Dagbreek. Hier is haar geheim om vinnig fantasties te lyk.

Ek staan elke oggend net voor halfvier op. As daardie rooi liggie in die TV-ateljee om halfses aangaan en ons op die lug is, moet ek gereed lyk vir die kamera. Jy kan van my wenke gebruik as jy moet goed lyk wanneer jy min tyd het.

Jou grootste uitdaging verdien die meeste tyd

Ek het al álles met my hare probeer: vuil hare, hare wat die vorige aand drooggeblaas is, opgekamde style, poniesterte en krultange. Niks het gewerk nie. Die oplossing vir my is om my hare elke dag te was en droog te blaas. Daarvoor gebruik ek drie dinge: ’n goeie borsel, Marokkaanse haarolie en ’n ghd-haardroër. Die olie maak my hare glad en blink, maar word deur die haarskag geabsorbeer en my hare lyk nooit olierig nie. Die ghd-haardroër is elke sent van sy prys werd omdat dit jou hare vinnig droogmaak. Ons het ook een by die ateljee. Daar is niks soos ’n goeie droogblaas om my fyn haartjies reg te toor in die oggend nie.

Goeie beplanning bespaar tyd en voorkom stres

As gevolg van hierdie daaglikse stilering en my klomp ligstrepe, droog my hare vinnig uit. Droë hare breek, koek en is moeilik om gou-gou te stileer. Wat behandelings betref, het ek al verskeie haarmaskers probeer. Vir ’n intensiewe haarbehandeling is daar niks beter as klapperolie nie. Ek probeer minstens om elke twee weke saans voor ek gaan slaap klapperolie in my hare te vryf. Ek was dit die volgende oggend uit vir blink, gladde, gesonde hare – sonder enige stileerprobleme. Verder, ongeag of my hare skoon of vuil is, TRESemmé se droë sjampoe is die beste ooit. As ek nie tyd het om my hare te stileer nie, gee dit my kapsel lekker baie volume.

Spaar tyd met grimering en gebruik net die nodigste

Konsentreer net op jou fokuspunte – jou oë en mond. As ek die dag my gesig self moet opmaak, is my staatmakers Bobbi Brown Tinted Eye Brightener. Dié verbloemroom weerkaats lig. Jy skakeer dit met twee smere onder jou oë om donker kringe te verdoesel. Volgende transformeer Inglot se False Lash Effect-maskara my wimpers sonder dat ek met vals wimpers of wimperverlengings hoef te sukkel. Ek rond dit altyd af met Revlon Just Bitten Kissable Balm Stain in Crush (’n pienk kleur) of Romantic (’n rooi kleur) vir my lippe. Ek dra dit sommer altyd in my handsak. Dit gee jou mond ’n egalige, gesonde kleur sonder dat jy té gegrimeer lyk.