Ma en dogter duisend

0
1753

Vriende, vertrouelinge, geesgenote. Minki van der Westhuizen en haar ma, Carien, deel nie net beeldskone gene nie, maar ook ’n spesiale verhouding wat gebou is op liefde, respek en bedagsaamheid.

Dié twee pragtige vroue het ’n besondere ma-en-dogterband wat al gesmee is toe klein Minki grootoog in haar ma se arms gelê het – die dogtertjie wat Carien só graag wou hê. Jare se koestering het dit vervolmaak in ’n verhouding van vriendskap, pret en gedeelde belangstellings wat albei vroue se lewe verryk het.

Die grootste lekkerte is dat hulle dit nou aan die volgende geslag kan oordra – Minki se twee dogtertjies, Katerien (4) en Elise (3), en die nuweling wat in Maart vanjaar hier sal wees.

In ’n gesellige gesprek met mekaar praat ma en dogter oor hulle verhouding, die aangename en moeilike aspekte van ouerskap, wat hulle van mekaar bewonder en hoe om sake in die huwelik klopdisselboom te laat verloop ondanks die eise van ’n besige huishouding.

CARIEN Dit was vir my ’n absolute hoogtepunt die oomblik toe ek jou die eerste keer vasgehou het. Om uiteindelik my eie pragtige ou dogtertjie te hê. Ek en Pappa het albei met broers in die huis grootgeword, daarom ons wou baie graag ’n meisiekind van ons eie hê. En toe kry ons vir jou! Dit was so ’n groot seën.

Met jou as eersteling het ek maar baie dom en onhandig gevoel. Daardie eerste paar weke, om hierdie babatjie aan my bors te laat drink, was regtig moeilik, maar toe ek en jy eers daarmee regkom, was dit net ’n plesier.

Ek het jou as kind in die huis baie geniet, deur elke fase. Jy was hierdie fyn ou dogtertjie, lief vir poppe, rokkies en mooi aantrek. Nooit ’n tomboy nie, en ook nooit moeilik of rebels nie. Jy het die pak slae wat jy soms vir ’n stoutigheid gekry het, baie goed hanteer. “Mamma, ek is vreeslik jammer, ek sal dit nóóit weer doen nie,” het jy gereeld belowe.

Ek onthou jou ook as ’n gelukkige, spontane kind vol energie. Altyd positief. ’n Doener. Op skool beslis ’n veelsydige leerder wat aan baie aktiwiteite deelgeneem het. Netbal, hokkie, atletiek, skoolkonserte, maar ek sou nie sê jy was ’n vreeslike uitblinker nie. Jy het wel die model- en afrondingsklassies waarmee jy later begin het, baie geniet.

Eintlik was jy sommer net ’n doodgemiddelde kind, maar gebalanseerd. Jy en jou boetie, Ben, is nogal dieselfde in daardie opsig. Late bloomers, wat eers ná skool tot julle volle reg gekom het.

MINKI Ek onthou my kinderjare as gelukkige koestertye waar ek baie geliefd en veilig gevoel het, maar ook dat Mamma ’n baie streng ma was. Dit was nie ’n slegte ding nie, want dit het ons gemaak wie ons vandag is.

Een van die reëls wat ek goed kan onthou, was dat ons nie in die huis mag gespeel het nie. Op dié betrokke dag het ons weer ’n kans gewaag en ’n blompot het in die slag gebly. Ons het ’n goeie pak slae gekry. ’n Ander huisreël was dat daar nie op ’n Sondag oor en weer met maats gekuier mag word nie. “Want Sondae is familiedae,” het Mamma gesê. Dis waar. Oor die jare het dit so deel van my geword dat ek tot vandag toe daardie reël met my kleintjies toepas.

Ek onthou ook die naweekkuiers by Ouma en Oupa, altyd ’n hoogtepunt. En ons vakansies. Weskus toe, Krugerwildtuin, Sun City. Dis daar waar ek vir die eerste keer toevallig vir Joanne Strauss ontmoet het, wat pas gekroon was as Mej. Suid-Afrika. Wie sou ooit kon raai dat ons vandag goeie vriendinne sou wees? As ’n jong hoërskoolmeisie was ek vreeslik in my noppies om ’n foto saam met haar te kon neem.

Ma onthou mos, mode en skoonheid was al van kleins af my groot passie. Ek was skaars drie toe ek net heeltyd na die winkelsentrum naby ons huis toe wou gaan. Hoekom, weet ek nie, ek wou net daar wees.

CARIEN Met jou spontane persoonlikheid en liefdevolle geaardheid kon ek sien jy gaan dit nog ver bring. Jy het met almal oor die weg gekom en ’n lewendige belangstelling in die lewe gehad. Dis nie dat jy die populêrste meisie op skool was of so iets nie, maar in jou vriendekring was jy altyd gewild. Mense het van jou gehou. Jy het ook in die kollig gefloreer. Vandag is dit wonderlik om te sien hoe daardie eienskappe jou goed te pas kom in jou loopbaan.

Een van die dinge waarmee jy nie so goed was nie, en wat ek al vroeg-vroeg kon agterkom, was die leerwerk en om in die middae agter jou skoolboeke in te skuif. Kyk, jy is baie intelligent, maar om akademies uit te blink was nooit vir jou belangrik nie. Jou kop was by ander dinge.

Ons het jou nooit in ’n rigting probeer dwing nie. Ek en Pappa wou net hê jy moet self jou plekkie in hierdie wêreld vind. Vir my was dit eintlik net belangrik dat jy ’n gelukkige, gebalanseerde grootmens moes wees, iemand wie se voetjies plat op die aarde is.

Onthou jy nog hoe baie ons met jou en Boeta gepraat oor die waardes wat vir ons belangrik is: Christenskap, familie, om jou medemens te behandel soos jy self behandel wil word, om nie agter ander se rug te praat nie. Daar was nie plek vir verwaandheid in ons huis nie.

Een van jou swak punte wat ’n sterk punt geword het, was kosmaak. Jy was nie vreeslik lus om te leer kook en bak nie. Ek het nog destyds gesê ek weet nie hoe jy eendag gaan regkom nie, maar kyk nou net watter goeie kok jy geword het! Jou pastas, bredies, gebraaide aartappels, heerlike slaaie… jy het regtig ’n slag daarmee. Jy sê dis omdat jy (resepte) kan lees. Miskien ja, maar jy het ook ’n goeie aanvoeling daarvoor ontwikkel.

Iets wat ook vir my uitstaan, is dat jy lief is vir gesond eet en jou nooit ooreet nie. Ek het dit ook begin doen.

MINKI As ons wel die dag vassit oor ’n klein dingetjie, gewoonlik ’n misverstand, los ons dit darem gou op. Ons is al twee sensitiewe mense, maar ons het ook respek vir mekaar. Dit was nog altyd so. Selfs toe ons kinders in die huis was, het Ma respek vir my en Ben se menswees gehad en ruimte gegee vir ons verskillende persoonlikhede om te ontwikkel. Dankie daarvoor!

Ek het die vryheid gehad om my uit te leef en te ontdek wie ek is, maar Ma-hulle het dit ook duidelik gemaak dat daardie vryheid met verantwoordelikheid kom. Ek kon byvoorbeeld Saterdagaand uitgaan, maar Sondagoggend moes ek in die kerk wees. Dit was ononderhandelbaar.

Die ander lekkerte van ons verhouding is dat ek en Ma nog al die jare dieselfde belangstellings het. Dink aan al die kere wat ons voor die TV gesit en tranetrekkerflieks gekyk het. Pretty Woman… ons het dit seker al ’n honderd keer gekyk en ons huil nog steeds oor elke toneel wat bedoel is om hartseer of grapperig te wees. Ons tye saam is altyd pret. Die saam oefen, saam swem, ure se rondsnuffel by markte, rondstap in winkels. Gelukkig is ons albei mal oor mooi goed.

Nog iets wat ek baie waardeer, is dat Mamma ’n ding doen soos ek daarvan hou om dit te doen. Dis nie dat ons perfeksionisties is nie, maar as ons iets doen, is dit vir ons belangrik dat dit reg gedoen moet word. As daar ’n soom vir ’n rok ingesit word, moet dit reguit wees. Ma weet al. As dit skeef uitkom, trek ons los en doen dit weer. Wanneer ons naels gedoen word, moet dit ook reg wees anders kom alles af en word daar van voor af begin.

Wat ons huise betref, hoef dinge gelukkig nie perfek te wees nie. Ek het in ’n mooi huis grootgeword en vandag is my eie huis ook vir my mooi, maar dis ’n gemaklike woonhuis. Mense kan sien hier word gelééf.

Het Ma geweet, as ek na funksies genooi word, is Mamma die eerste persoon aan wie ek dink om saam te vat? Dit voel nie eers of ek my moeder oral saamkarwei nie. Dis bloot soos om deur ’n baie goeie vriendin vergesel te word, iemand wie se geselskap almal geniet.

Ma is regtig ’n gemaklike mens wat oral inpas. Iemand wat my deur en deur ken en my nooit sal laat skaam kry of in die steek laat nie.

CARIEN As ek kyk na hoe jou lewe verloop het, kan ek nie vir beter gevra het nie. Dis darem ongelooflik, alles wat jy bereik het, maar die grootste genade vir my is dat jy gelukkig en gesond is. Jy is geseënd met pragtige dogtertjies, ’n ongelooflike man, ’n wonderlike werk, ’n heerlike huis. Alles wat jou hart begeer. In my wildste drome kon ek nie meer vir jou gevra het nie.

Wat vir my die heel mooiste is, is dat jy ’n kind van die Here is. Jy leef jou geloof uit en jy kry jou krag by Hom. Dís vir my baie spesiaal.

Wat jou loopbaan betref, het ek geweet jou kop staan modelwêreld toe, maar dit het my verras hoe jy jou kans in die TV-bedryf aangegryp het. Dit was ’n baie trotse oomblik om jou vir die eerste keer as aanbieder te kon ervaar. Jy het so gemaklik gelyk. Ek en Pappa lag nog steeds vir jou sêgoed as jy ’n program aanbied. What you see is what you get. Jy is presies dieselfde mens voor die kameras as by die huis. Voete plat op die aarde.

Dis ook lekker om mense se positiewe terugvoer te hoor, maar om in die openbare oog te wees beteken dat daar tog kritiek jou kant toe sal kom. Ons albei weet dit, en ek dink ons hanteer dit heel goed. Ons vee dit van die tafel af en laat nie toe dat dit ons ontstel nie. Wanneer mense wat jou glad nie ken nie, sommer net aannames maak wat baie ver van die waarheid is, steur ek my net nie daaraan nie. Ek ken jou mos en ek weet wat die waarheid is.

Maar, Sussa, weet jy, van alles wat jy bereik het, is ek die trotsste dat jy nou self ’n mamma is, nes jy altyd wou wees. My eerste ervaring hiervan was toe ek vir julle in Engeland gaan kuier het. Om jou daar op die lughawe te sien staan, toe nog met klein Katerien in jou arms. Dit het my ’n knop in die keel gegee.

MINKI Mamma, ek is só trots op die mens wat Ma is. Sorgsaam. Iemand wat moeite doen vir ander. Wat baie moeite doen om haar kinders te ondersteun. Al daardie ure op die pad modelklas toe… die lang gewag by castings… die klere wat Ma altyd vir my moes kleiner maak, want dit het nooit gepas nie. Selfs Katerien weet al: “Gee dit vir ouma Carien, sy sal dit regmaak.” Niks is ooit te veel moeite nie.

Ook julle huwelik. Ek bewonder die tipe vrou wat Ma vir Pappa is. Dis my doelwit om ook so ’n huwelik te hê – twee mense wat na meer as drie dekades steeds verlief is op mekaar. Dis groot genade, maar ek dink ook dis omdat Ma daaraan glo dat ’n mens jou man eerste moet stel.

Om na jou kinders te kyk is belangrik en kuiers saam met vriendinne is goed, maar jou man is jou prioriteit, glo Ma. Bederf hom met ’n smaaklike bord kos, wees vriendelik en warm, skep ’n positiewe atmosfeer by die huis. Mamma se manier van doen maak dit lekker om huis toe te gaan. En daardie mooi glimlag… dis my gunstelingeienskap van Ma. Daardie glimlag is altyd daar.

Ek het ook baie by Ma geleer oor geloof. Ja, daar was die kleintyd se Bybelstories lees en so aan, maar ek het later eers agtergekom geloof gaan oor baie meer as dit. Ma praat nie net daaroor nie, maar leef dit uit. Dis iets wat deur jou hele menswees moet skyn, in alles wat jy doen en sê. Ma is sonder twyfel gevul met Jesus se liefde.

My kinders moet eendag oor my dink soos ek oor Ma. Dat ek hulle onvoorwaardelik liefhet. Dat hulle maar mag foute maak, ek sal dit nie teen hulle hou of hulle veroordeel nie. Hulle kan maar openhartig en eerlik met my oor enigiets gesels. En hulle kan my vertrou.

Toe ek klein was, het ek nogal met hierdie enetjie gesukkel, onthou Ma? Ek kon doodeenvoudig nie ’n geheim bewaar nie. “Moet nou nie vir Ouma sê wat haar Kersgeskenk is nie,” is ek talle kere gemaan. Dan gaan blaker ek dit uit sodra ek vir Ouma sien, want die opgewondenheid hier binne was net te groot.

Intussen het ek darem mooi vordering gemaak, nè? Tog sien ek nou hoe die kleintjies ook daarmee sukkel. “Moet nou nie vir Elise sê nie,” herhaal ek die woorde wat ek destyds gehoor het. Dan gaan lap Sussie dit in elk geval uit! Dalk is dit oorerflik?

CARIEN As ek sien hoe jy teenoor jou kinders optree, besef ek dis nie altyd nodig om kwaai te wees nie. Ek is nie spyt dat ek destyds streng was met julle nie, maar ’n mens raak tog maklik vasgevang in daardie maak-of-breekhouding. Selfs toe ek skoolgehou het, was ek ’n kwaai juffrou.

Jy, weer, is so ’n gemaklike, rustige mamma en jou manier van dissipline toepas wérk. Jy sal dalk jou stem nou en dan verhef, maar omdat jy konsekwent is, weet die dogtertjies jou ja is jou ja, en jou nee is nee. Uit die voorbeeld wat jy stel, sien ek dat lyfstraf nie altyd nodig is nie.

Iets waaroor ek nogal spyt is as ek terugkyk, is dat ek jou op so ’n bitter jong ouderdom by ’n dagmoeder moes aflaai om te gaan werk. Ek het beursverpligtinge gehad en dit was my enigste uitweg, maar dit was elke keer vir my hartverskeurend om hierdie klein ou dingetjie net by iemand te gaan los. Gelukkig sê jy vandag dat jy dit glad nie kan onthou nie!

Iets wat ek vir jong ma’s wil sê, is dat hulle nooit hulle kinders moet groot wens nie. Geniet tog elke oomblik – selfs die tye wat jy moeg maak of gefrustreerd voel – want dit gaan in ’n oogwink verby. Omdat jy so ’n afhanklike tipe babatjie was, het daardie eerste jaar met jou naderhand vir my baie lank gevoel. Jy wou heeltyd aandag hê, en dit het moeilik en irriterend geraak. As ek nou na foto’s kyk, raak ek skoon bewoë, want ek besef ek gaan daardie oomblikke saam met jou nooit weer terugkry nie. Geniet net jou kinders. Elke dag.

Die geluk is dat ’n mens darem weer ’n kans kry as jy ’n ouma is. Dis die lekkerste ding op aarde! Ek kan nou net die kleintjies geniet. Saam koekies bak, hulle op die swaaie rondstoot, saam met hulle gaan stap en aan dinge voorstel wat hulle nog nie beleef het nie. As ouma het jy die voorreg om net die lekkerr goed te doen. Dis Ma wat moet dissiplineer. Jy weet ek glo nie aan inmeng nie.

My belangrikste raad aan jou en ander ma’s is dat julle julself nooit moet afskeep nie. Maak steeds tyd vir die klein dingetjies wat vir jou saak maak, want ’n gelukkige, gebalanseerde ma en vrou het ’n gelukkige, gebalanseerde huwelik en kinders.

Ek is baie dankbaar om te kan sê jy is reeds goed op dreef hiermee. ’n Dogter, ma en vrou om op trots te wees.

MINKI ’n Groot gesin was nooit iets waaroor ek self gedroom het nie, maar manlief Ernst (Joubert) het altyd gesê hy wil drie kinders hê, en so het ek ook opgewonde geraak oor die idee. Nou kan ons nie meer wag om te sien hoe hierdie babatjie gaan lyk en wat die persoonlikheid gaan wees nie.

Dis eintlik interessant om te sien hoe jou kinders van mekaar verskil, en tog word hulle sulke goeie maatjies. Soos Katerien en Elise, wat op hierdie ouderdom net wil speel.

Dié tweetjies is net so uit hulle vel. Hulle druk gereeld hulle oortjies teen my maag en luister of hulle nie dalk vir boetie of sussie kan hoor nie. Hulle wil elke dag weet wanneer die baba nou gaan kom, en belowe hand en mond dat hulle my gaan help.

Van my kant af spits ek my daarop toe om hulle te laat verstaan dat dit nie net mý baba is nie, dis ons almal s’n. Dit is vir my belangrik dat hulle deel sal voel van die hele ervaring – die opwinding, maar ook die veranderinge wat ’n derde enetjie aan die dinamika in ons gesin gaan maak.

My ideale vir my kinders is om hulle te leer dat hulle enigiets in die lewe kan doen of word. Wat hulle passie ook al is, hulle moet dit aangryp en uitleef. Ons sal daar wees om hulle te ondersteun, net soos Ma-hulle daar was vir my.

Ek sal wil sien dat hulle as gebalanseerde, Godvresende kinders moet grootword; mense wat maklik by die grootmenswêreld sal inpas.

Ma het my so goed vir hierdie taak voorberei, en daarvoor sê ek baie dankie.