Maak die beste van jou alleen-tyd

0
42
alleen_tyd.jpg

Terwyl jy wag vir die regte maat, is dit normaal vir enkellopendes om soms alleen te voel. Lees hoe een dinamiese vrou haar lewe vul …

Kreatief, denker, doener, avonturier, ma, dinamies. Dís Hymli. En baie meer. Dié blonde vrou in haar dertigs is ’n sake-analis en ’n topbestuurder. Tussendeur skryf sy graag en speel met haar seuntjie, Johan. En sy geniet elke sekonde daarvan. Hymli was vir byna tien jaar getroud. Die huwelik het nie gehou nie, en sy moes haar voete as enkellopende vind.

“Baie mense voel weerloos wanneer hulle weer alleen die pad moet aandurf. Ek maak die beste van my alleen-tyd. As jy getroud is moet jy die ander persoon in ag neem – jy eet nie roosterbrood in die bed nie, want hy hou nie van krummels nie. Jy skeer elke dag jou beenhare, want hy verkies dit. As jy enkellopend is, het jy ’n mate van vryheid om te maak wat jy wil. As ek ontbyt in die bed wil eet, gaan niemand my keer nie. Natuurlik verlang mens ook soms na daardie maat wat jou gaan aanvul. Ek glo egter dat jou “verlange” nie jou lewe moet oorheers nie. Jy kan steeds jou lewe op jou eie geniet, terwyl jy vir die regte persoon wag.

Hymli sê sy glo aan dié onontbeerlike “gereedskap” wat sy elke dag in haar lewe as enkellopende gebruik.

’n Goeie boek is goeie geselskap

Sorg dat jy altyd ’n boek in jou sak het – dis ’n wonderlike skild wanneer jy nie gepla wil word nie of dalk te sigbaar voel. Hymli is die meeste van die tyd omring met boeke. As dit nie Phillip de Vos se skreeusnaakse limerieke is wat sy vir haar seun voorlees nie, is dit navorsing of ’n magdom onderwerpe wat haar interesseer.

Wees oop vir nuwe onderwerpe

Daar’s soveel ongelooflike interessante goed wat aangaan. Neem klasse in filosofie, masseertegnieke of speel brug.

“Dis onvermydelik dat as jy op jou eie bly, jy leer om dinge self te doen, van gloeilampe vervang tot motor koop. Ek slaan selfs spykers in, snoei heinings en braai alleen vleis of maak ’n kaggelvuur.

Sy’t haar ook na-ure besig gehou met haar MBA-graad aan Universiteit van Kaapstad. En of dit nie genoeg was nie, het sy onlangs haar wynmeesterseksamen aan die Kaapse Wynakademie geslaag wat haar een van die wynmeesters in die land maak.

Reik uit na ander mense

Selfsug is iets waarteen sy waarsku. “Dis baie belangrik om balans te handhaaf en betrokke te raak by ander mense wat minder as jy het, veral minder keuses. Ek’s nou betrokke by die familie van my huishulp, wat ook een van my beste vriendinne is. Dis ’n emosionele pad om saam met haar te loop, maar diep vervullend.”

Wanneer dit by werks- of sosiale geleenthede kom, voel sy soms verplig om ’n maat saam te neem. “Ek huiwer nie om ’n vriendin of selfs ’n broer saam te sleep.” verklaar sy onomwonde.

Leer ken jouself

“Dis vir my baie belangrik om tyd en ruimte vir selfontdekking te maak. Die reis is nou wel hoogs individueel, maar dis ook baie spiritueel.”

Die lewe bestaan vir haar uit fases en siklusse. “Vir my is my dertigs ’n fantastiese tyd. Ek sprei my vlerke, toets my grense en leer om nuanses te lees.

Hoe doen sy dit? Deur haar lewensreis vol ongelooflike ervarings te pak. “Ek was op ’n Vision Quest-program waar jy vier dae en nagte alleen in die berge deurbring. Net jy, jou waterbottel, dagboek en gedagtes in ’n klein skuiling.”

Sy het ook ’n paar jaar gelede die Camino de Santiago gaan stap. Sy en ’n vriendin het 744 km van die ou Middeleeuse pelgrimstog van Frankryk oor die Pireneë tot aan die weskus van Spanje gestap. “Jy stap met jou voete, met jou hart en met jou gees van kerkie tot kerkie.”

Hymli het haar heel eerste alleenreis kort na universiteit onderneem. “My mees intense herinnering was hoe lekker dit was om alleen in Griekeland onder ’n vyeboom in ’n skaapkraal aan die slaap te raak. Ek probeer nou nog om ten minste een keer per jaar iewers ’n stuk vakansie of reis op my eie in te pas.”

Maak dinge vir jouself lekker

Moet nooit, ooit huiwer om jouself te bederf nie. Of dit nou ontbyt by jou gunsteling-koffiewinkel is of ’n CD wat jy impulsief koop.

Haar bederf lê (buiten haar seuntjie) in haar vriendekring, mense met wie sy op ’n dieper vlak verbind. “Dis nie gewone partytjies, kuiers of braaie nie. Ons vriende gee werklik vir mekaar om. Ons waardeer en respekteer veral ons verskille.

“Dan is ek absoluut mal oor my werk. Ek moet soms briek aandraai om nie heeltemal daarin opgeneem te word nie. Ek is finansieel onafhanklik, gesond en het baie spesiale mense in my lewe.”

“Om in voeling te wees met myself en dit in die wêreld om my te reflekteer, bly vir my die kern van enkellopend wees. Maar ek weet dat hierdie tyd in my lewe ook verby sal gaan. Hoewel ek dit nou baie geniet, sal daar weer ’n ander seisoen op die een volg. Ek glo ek sal weer iemand ontmoet, en ook kan groei as mens in ’n verhouding. Maar vir nou eers geniet ek my vryheid.