Maak goeie keuses om die regte redes

1633

Keuses beteken óf die een óf die ander een. Dis links of regs, goed of sleg. Alles in die lewe gaan uiteindelik oor dit wat ons kies.

Van kleins af word ons gedagtes gevul met dit wat ons nie moet doen nie. Vir lank lewe het ek eintlik ’n vermydingslewe gelei – ek was altyd bang ek doen die verkeerde goed.

Sit dit op skrif sodat jy rigting kan kry

Nooit het ek besef dat dit eintlik my oë was wat my van my einddoel laat wegdwaal het nie. Ek het ander geoordeel wat dinge doen wat ek nie wou doen nie, of daardie “sondes” wat ons kwansuis nie mag doen nie. Maar maak eerder ’n kopskuif: Dink oor dit wat jy graag wil doen in plaas van om te tob oor alles wat jy dalk nie reg gaan doen nie!

Vat ’n pen en papier en skryf neer wat jy wil bereik. Wat moet verander? Die meeste van ons weet nie regtig wat ons wil hê nie. Ons leef, maar weet nie waarheen ons op pad is nie. Al wat ons denke oorheers, is die probleme en uitdagings wat ons in die gesig staar.

Gestel jou begeerte is om meer goeie samesyn met jou maat te hê – dan is dit mos ’n prioriteit vir jou. Dit gaan die res van jou dag bepaal. Dalk soek jy na ware vriendskap. Gaan dink wie is jou vriende en met wie jy lekker kan gesels. Begin om jou prioriteite neer te pen, en sodoende vas te stel wat vir jou belangrik is. In plaas van om deur die stroom meegesleur te word, doen eerder wat jy regtig wil doen – al is dit stroomop!

Besluit soms om ten spyte van die feite te glo

Ons kom elke dag voor keuses te staan – lig of donker, lewe of dood. Ek het ’n rukkie gelede ’n gesprek gehad met ’n jong man wat my vertel hoe sleg dit met hom gaan. Sy ouers het hom na my toe gestuur omdat hulle bekommerd was oor hom. Hy was depressief en het alle hoop op ’n beter toekoms verloor.

Terwyl ek met hom gesels, kom ek agter dat al waaroor hy praat, is alles wat teen hom tel. Hy is ’n goeie rugbyspeler, maar hy het klaar gekies om die feite te glo – dat hy met die huidige stand van rugby en politiek in ons land, nie ’n toekoms vir homself daarin kan sien nie.

Jy klou vas aan óf realiteit óf geloof. Baiekeer is dit eenvoudig. Geloof is om seker te wees van wat jy hoop, ’n vaste oortuiging van dit wat jy nog nie kan sien nie. Realiteit is die ander kant van geloof. Dit is wat ek nou kan sien; dit is iets wat klaar bestaan. Baie mense sê vir my ek moet die realiteit aanvaar. My antwoord is eenvoudig: Dis reg, jy kan dit kies vir jou! Maar ek kies eerder om te glo!

Leef as ’n “victor” en nie ’n “victim” nie

As jy vashou aan geloof, moet jy hoop hê vir die toekoms. Wat hoop jy om te sien? As jy kies om in geloof die pad te stap, dan rig jy jou oë daarop en doen alles om by die einddoel uit te kom.

As jy realiteit voorop stel, het jy meestal reeds verloor. Dan is jy altyd ’n slagoffer. Jy is ’n slagoffer van omstandighede, van mense, van die noodlot… dan is daar min lig aan die einde van die tonnel vir jou. Iemand het eenkeer gesê: “Elkeen van ons kies om te groei of te stagneer. Dit is ’n keuse wat ons daagliks maak.”

Om as ’n oorwinnaar te lewe beteken dat jy altyd ’n antwoord vind vir elke uitdaging. Kies lewe, dan het jy lewe. ’n Pessimis is ’n persoon wat ’n probleem sien in elke oplossing. ’n Optimis is iemand wat ’n oplossing vind vir elke probleem. Dale Carnegie se bekende aanhaling sê: “Two men looked out from prison bars. One saw the mud, the other saw stars.”

Wat kies jy om te sien vandag?

Jannie Putter, mentor en motiveringspreker

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.