Maak hulle slim met geld

1539

Spandeer jou kind na jou mening haar sakgeld verkeerd? Moenie te verbaas wees nie – dis dalk wat sy uit haar ouers se voorbeeld geleer het.

Kinders moet van kleins af besef dat ’n mens oordeelkundig met geld moet werk en dat dit baie gou opraak as jy nie mooi daarna kyk nie.

Hulle moet weet waar geld vandaan kom. Laat hulle verstaan dat julle as ouers hard werk vir julle geld en dat daar nie onbeperkte bronne is nie.

Kinders leer goeie of slegte gewoontes by hulle ouers

Stel jy ’n goeie voorbeeld deur self verantwoordelik en gedissiplineerd met geld te werk? Adverteerders spandeer miljoene rande om ons te oorreed om geld op dinge uit te gee wat ons nie nodig het nie. Jy moet jou kinders waarsku teen impulsiewe aankope en hulle leer dat die vermoë om te wag voordat hulle ’n artikel koop wat hulle wil hê, die sleutel tot finansiële volwassenheid is.

Kinders moet leer om met beperkte bronne voor onbeperkte keuses te staan te kom. Om geld te spandeer wat ’n mens nie het nie, is dom en baie mense se ondergang. Ons taak is om die jongklomp goeie loontrekkers en verantwoordelike rentmeesters te maak.

Dis belangrik dat hulle weet hoe om onafhanklike besluite oor geld te neem. Jy kan dit vir hulle leer deur te wys hoe om ’n eenvoudige begroting op te stel. Gee algemene riglyne nadat hulle ’n maand lank van hulle uitgawes boekgehou het. Hulle mag ’n klein deeltjie na goeddunke bestee, maar moet ook leer om iets weg te sit vir verdienstelike sake.

Die meeste van ons is spyt dat ons nie vroeër begin spaar het nie. Moedig jou kinders aan om vroeg-vroeg reeds te begin. Hulle sal baie dankbaar wees hiervoor as hulle die dag groot is!

Lê die regte beginsels vroeg by hulle vas

Maandelikse sakgeldjies kan help om ’n vertrouensverhouding met jou kind te skep. Dis ’n goeie idee om hulle van graad 1 af een keer ’n week snoepiegeld te gee. Teen graad 4 kan julle dan maandeliks begin sakgeld gee. Julle kan steeds die belangrike goed vir hulle koop, die sakgeld is net ’n ekstra vir ietsie spesiaals.

Tieners kan meer sakgeld kry sodat hulle self byvoorbeeld klere kan koop. Dit kan ook goed werk om iets in te bou, soos dat hulle redes moet verskaf as hulle die maand meer geld nodig het. Hulle sakgeld kan dan ’n bietjie aangepas word, mits die motivering goed genoeg is.

’n Selfoon is vir enige tiener ’n moet-hê. Hulle hoef egter nie onbeperkte data en beltyd te hê nie. Gee ’n bedrag elke maand en as hulle foonrekenings hoër is, moet hulle self verder betaal. Dit gaan hoofsaaklik daaroor dat hulle moet weet dat dit ’n selfoon ’n voorreg is.

Dis menslik om jou kinders jammer te kry as hulle geldjies skraps raak, maar jou hart moet nie sommer week word nie. Die idee is nie om hulle te straf nie, maar eerder om hulle toe te laat om foute te maak, anders sal hulle mos nooit leer nie!

’n Mens hoef nie vir alles beloon te word nie

Kinders wat elke keer beloon word as hulle presteer, verwag later dat hulle vir elke goeie ding wat hulle doen, iets moet kry.

Dis dikwels kinders wat te veel sakgeld kry wat vriendskap probeer koop. Ongelukkig werk dit nie so nie – jy kan nie ’n volwaardige plek in die samelewing koop nie. Dis gewoonlik dié outjies wat heerlik met geld mors. Die geld waarvoor hulle ouers waarskynlik baie hard moes werk…

Boet en Sus moet ook sommer vroeg besef dat Pa en Ma uit een mond praat as dit by geld kom. Hulle kan nie by die een gaan flikflooi vir ’n paar rand as die ander een reeds nee gesê het nie.

Die toelaag wat hulle kry, moet verband hou met die pligte wat hulle in die huis het. Hulle moet leer dat geld van werk kom en nie van kitsbanke en loterykaartjies nie. Daar is nie iets soos easy money nie!