Maak jou eie gesigsmaskers

0
819

’n Gesigsmasker kan ’n kitsoplossing wees vir velprobleme en hoef nie duur te wees nie. Maak jou eie maskers met bestanddele wat jy reeds in die kombuis het.

Stap 1: Wat het jou vel nodig?

Is jou vel olierig, normaal, droog of ’n kombinasie? ’n Olierige vel het ’n masker nodig wat die oormatige olie absorbeer en onsuiwerhede uit die porieë verwyder, verduidelik Lunette Alberts, hoof van Filorga SA. ’n Kleimasker twee keer ’n week kan goed werk hiervoor.

Gebruik twee maskers vir ’n kombinasievel: een vir die olierige area en een vir die droë dele. ’n Droë vel benodig ’n baie matige masker. Sheet-maskers is ideaal. Kosbestanddele soos heuning, avokado, jogurt, komkommer en suurlemoen bevogtig die vel en kan in verskillende kombinasies in ’n masker gebruik word, sê die leefstylblogger Cara-Lisa Sham.

Voeg piesang, jogurt, heuning of borrie by jou masker vir aknee – dié bestanddele vernietig bakterieë op die vel. Die kurkumin in borrie kan ook help om donker vlekke en plooie te verminder. Studies wys hawermout is anti-inflammatories en kan toestande soos dermatitis, psoriase en aknee behandel, volgens Cara-Lisa. Dis ook strelend vir ’n jeukerige, sensitiewe vel.

Stap 2: Maak só jou eie gesigsmasker

Gebruik avokado as ’n basis vir jou tuisgemaakte maskers en voeg dan ander bestanddele by na gelang van jou vel se behoeftes, sê Cara-Lisa. Avokado is propvol voedingstowwe wat sensitiewe, droë vel of aknee behandel en jou vel vogtig, gesond, jonger en soepeler laat lyk.

Masker met avokado, heuning en jogurt

Sy noem hierdie een haar “supermasker” wat sy gereeld gebruik.

Jy het nodig:

  • 1 vars, ryp avokado
  • 1 eetlepel rou, organiese heuning
  • 1 eetlepel dik, natuurlike Griekse jogurt

Maak só:

  • Sny die avokado in die helfte en verwyder die pit. Vat een helfte en gebruik ’n lepel om die vleis uit die skil en in ’n klein bakkie te skep. Druk dit met ’n vurk fyn tot dit glad en romerig is.
  • Voeg die heuning en jogurt by die fyngedrukte avokado. Meng dit goed met ’n vurk of ’n elektriese menger.
  • Laat die mengsel vir 4 tot 5 minute staan.

Stap 3: Gebruik dit só

Smeer jou tuisgemaakte masker lekker dik aan jou gesig met jou vingers. Los die masker vir ongeveer 15 tot 20 minute aan. Was dit dan af met warm water en droog jou gesig af met ’n handdoek.

Cara-Lisa beveel aan dat jy dié masker drie tot vier keer ’n week gebruik vir die beste resultate. As ’n voorsorgmaatreël stel sy voor jy toets eers die avokado (of enige ander tuisgemaakte masker) op jou polsgewrig vir sowat 20 minute om te sien hoe jou vel daarop reageer.

Berei ook reg voor vir die masker: Maak jou vel skoon, wend ’n verfrisser aan en druk jou gesig liggies droog, sê Lunette. Gebruik ’n produk wat jou vel afskilfer om dooie selle te verwyder en seker te maak die masker kan jou vel binnedring, beveel die skoonheidsdeskundige Elmi Smit van Juliette Armand aan.

Wend ná die tyd ’n serum en vogroom aan.